Die gesamentlike voorsitter van die globale oproep teen armoede (GCAP) , Kumi Naidoo, sê dit is tyd vir die regering om beslissend op te tree om armoede uit te wis. Hy sê in stede daarvan om miljoene rande aan grensbeheer te bestee, moet die regering dit eerder aan gesondheidsorg, water en sanitasie bestee.
Die GCAP is 'n burgerlike verenigings-alliansie wat uit nie-regeringsorganisasies en vakbonde bestaan. Naidoo sê aandag moet gegee word aan geslagsgelykheid en die regering moet nou gaan kolf. Die protesoptog was ter ondersteuning van die internasionale dag vir die uitwissing van armoede wat op 17 Oktober gevier word.
Cosatu se provinsiale sekretaris in Gauteng, Siphiwe Mgcina, sê werkskepping is belangrik vir die land en as daar nie vinnig vordering daarmee gemaak word nie, lê donker tye voor. Op 'n voorstel dat die apartheidsregering beter dienste verskaf het en beter daarin geslaag het om armoede uit te wis as die ná-1994 regering, het Mgcina gesê dit is 'n ongelukkige verwysing. Hy sê daar is nog 'n lang pad om te loop.
Biskop Paul Verryn van die Methodistekerk sê dit is tyd vir die rykes om met die armes te deel. Hy sê armoede is onmenslik en daar moet 'n radikale verandering tussen ryk en arm gemaak word. Die betogers het in 'n memorandum wat aan die Presidensie oorhandig is, ook gevra dat verbruikersfooie vir water afgeskaf word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.