Kleinhandelverkope in Suid-Afrika het almal verras, het RSG berig.
Dit het in Februarie met vier persent teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar toegeneem.
Die syfer is beter as wat verwag is. Kleinhandelverkope het die afgelope twee maande teleurgestel.
Dit het in Desember gedaal en in Januarie effens herstel.
Statistieke Suid-Afrika sê die grootste stygings was in die hardewaresektor sowel as kos, drank en tabak.
Die KwaZulu-Natalse LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling het intussen aangekondig dat hulle smouse in die lokasies gaan bystaan nadat buitelanders se winkels geplunder is.
Die provinsiale regering het glo driemiljoen rand opsygesit om ‘n provinsiale vereniging vir alle handelaars op die been te bring.
Die vereniging sal sy eie pakhuise en bergplekke vestig omdat smouse in die lokasies glo teen ‘n verlies moet werk.
Handelstoestande vir Suid-Afrikaanse sake-ondernemings gaan egter steeds agteruit terwyl die Handelsbedrywighede Indeks verlede maand met een punt tot 47 gedaal het.
Die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid, SACCI, sê die Indeks het in die eerste kwartaal met 9 punte gedaal en is drie punte onder sy vlak van ‘n jaar gelede.
SACCI sê ekonomiese vooruitsigte is steeds onseker en die druk op die handelsektor het vergroot.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.