Cosatu se sentrale uitvoerende komitee sal na verwagting vandag samesprekings voortsit oor die toekoms van die metaalwerkersvakbond, Numsa het RSG berig.
Die vakbond is vroeër gevra om te verduidelik waarom hy in die vakverbond moet aanbly. Die ANC se adjunkpresident, Cyril Ramaphosa sê intussen eenheid in Cosatu is noodsaaklik vir die drieparty-alliansie.
Ramaphosa lei `n ANC-taakspan wat Cosatu probeer help om sy interne uitdagings te oorkom. Hy het op `n mediakonferensie in Kaapstad gesê dat 19 COSATU-vakbonde eenheid in die vakverbond wil sien.
Ramaphosa sê al die vakbonde, insluitend NUMSA, moet in COSATU aanbly. Hy sê ook dat die dissplinêre proses teen Cosatu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi regverdig hanteer moet word.
Die ondersoek hou verband met Vavi se seksuele verhouding met `n junior werker op kantoor. Dit handel ook oor die aankoop van COSATU se nuwe kantore.
Ramaphosa sal ook Donderdag terugkeer na Lesotho.
Hy sal as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se afvaardiging poog om die politieke impasse aan te spreek.
Ramaphosa se woordvoerder, Ronnie Mamoepa sê hy sal voortgaan om samesprekings met die politieke rolspelers te voer.
Die SAOG se fasiliteringproses het Koning Letsie die Derde oorreed om verlede week die parlement heropen.
Die SAOG-span bestaan uit amptenare van Botswana, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe. Amptenare van ander SAOG-lande sal na verwagting by hulle aansluit.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.