Watter Afrikaanse politici wat ‘n mens jou aan behoort te steur is destyds met die mislukte alliansie na die DA? Dieselfde mense wat Marthinus van Schalkwyk as ‘n leier aanvaar het en voor dit mense soos FW de Klerk en daardie prokureurtjie met die snaakse kop, o ja, Roelf Meyer. Die agteruitgang en latere dekadensie van die Nasionale Party het 10 jaar na 1948 begin en ek het baie van die mense self ondervind. Ek kan nie aan een dink wat ek as kandidaat vir enige iets sou wou sien nie. Nog minder kon enige van ons kultuurfigure soos Van Wyk Louw, Opperman en ander, of enige van ons suksesvolle sakemanne/nyweraars soos Rupert en ander. (Ek verbeel my Jans Rautenbach het ook kommentaar daarop probeer lewer destyds met ‘n rolprent genaamd, Die Kandidaat.)
As hulle ‘n verleentheid was vir mede-Afrikaners, kan ek my voorstel hoe groot die verleentheid soms vir die Progs en Engelse moes gewees het wat skielik die vreemde bedmaats gekry het en omtrent alles waarmee hulle die Afrikaner gestereotipeer het oor die jare, bevestig gekry het. Kan jy vir my een Afrikaner vandag in die DA noem wat regtig die moeite werd is om na te luister?
Wat Helen Zille se man, mnr. Zille genoem hier in die Kaap, betref; hy noem homself ‘n Christen en gaan kerk toe, wat sy Marxisme effe besoedel. Die land is nog vrot van akademiese sosioloë, Afrikaners en Engelse, met bloeiende harte en onrealistiese verwagtinge. Die grootste radikale grondhervormers in hierdie land was die oorspronklike Orania-groep wat, gelei deur ‘n sendeling wat later as akademikus studente meer van die Ou Testament geleer het, Afrikaners probeer oortuig het om afstand te doen van hulle geboortegrond en nog later aan die ANC-President geskryf het hulle groep wil die "brute botsing van belange" so vermy. Vol punte vir alliterasie, maar geen punte vir enige iets anders nie. Geen wonder dat, ‘n intussen meer realistiese, Van Zyl Slabbert, wat van teologie na sosiologie as akademikus beweeg het, en oom Carel dwarsdeur alles vriende gebly het nie, al was ras of kleur een tyd ‘n ernstige punt van verskil.
Die bespiegelinge oor Helen Zille se verhouding met haar man is maar net dit en niks meer nie. Albert Hertzog was met sy Britse vrou getroud tot hy dood is en talle ander openbare figure se liefdeslewens weerspreek hulle uitlatings en oortuigings. Dan Roodt is nou besig om te doen wat Steve Hofmeyr se vyande doen wat wil weet hoekom is hy met ‘n Engelse vrou getroud. Jy kan baie dinge met ‘n taal doen, maar jy kan nie fisies daarmee liefde maak nie en daaroor is die mensdom nie baie puristies nie.
Die spekulasie oor Helen Zille se geheime anti-Afrikaanse agenda sou mens maklik bevestig kon gekry het deur met van Zyl Slabbert of enige ander Afrikaner wat met haar te doen het, te gesels. Ten minste praat sy nie die geradbraakte Afrikaans wat Tony Leon aangeleer het in dieselfde tyd toe hy sy velkleur op plakkate effens verdonker het vir verkiesings hier in die Kaap nie.
Ten slotte, Helen Suzman. Ek sien absoluut niks verkeerd daarmee dat mense haar bewonder nie en sy doen vandag meer deur haar Stigting, en saam met mense soos RW Johnson, om ‘n ware beeld aan die wêreld voor te hou van wat in Suid-Afrika aan die gang is as meeste. In elk geval het John Vorster haar al destyds as opponent bewonder en dit ook gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.