
‘n Wit polisieman is aan diens by ‘n polisiekantoor doodgeskiet deur misdadigers wat die stasie van vyf vuurwapens beroof het.
Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ‘n polisieman by die Klapmutspolisiestasie buite Stellenbosch, verskyn vandag in die Paarl Landdroshof.
Een van die verdagtes is ‘n polisiebeampte by die polisiestasie. Volgens die polisie is agt ander mans vir ondervraging in verband met die saak aangekeer.
‘n Groep, vermoedelik swart en bruin, het die polisiestasie verlede week besoek, en gemaak of hulle ‘n klag wil lê toe hulle die 44-jarige adjudant-offisier Steven Britz doodgeskiet het. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.
Die getroude pa van twee het gesterf in ‘n poel van sy eie bloed op die vloer van die klein aanklagkantoor.
Ao Britz was alleen in die aanklagkantoor met die laatnagskof want ‘n beampte van sy vier-lid skof was met verlof.
Die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Arno Lamoer het gesê die voorval “moet baie kommerwekkend vir die hele Suid- Afrika wees” as kriminele goedsmoeds by ‘n polisiestasie inloop, ‘n polisielid doodskiet en met vuurwapens wegkom.
Britz het 22 jaar se diens in die polisiemag gehad.
Wapens van ‘n swaar kaliber soos haelgewere en R5-aanvalsgewere was opgesluit by die aanklagkantoor. Die SAPD wou nie uitbrei oor die wapens wat gesteel is nie.
‘n Sigbaar ontstelde Lamoer het die Klapmuts-polisiestasie verlede Donderdag besoek.
“Dit is te veel. Dit kan nie so aangaan nie,” het Lamoer gesê.”
Lamoer het gesê die Klapmuts-polisiestasie het 40 lede, met vier aan diens per skof. Hulle bedien ‘n gemeenskap van sowat 15.000 mense.
Lamoer wou nie kommentaar lewer oor die moontlikheid dat die aanvallers geweet het daar sou slegs ‘n enkele polisieman aan diens wees Woensdagnag nie.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.