Alle Afrikaners moet op 7 Mei stem, meen Front Nasionaal, die nuwe party wat vir Afrikanerselfbeskikking staan. Volgens die party se woordvoerder en onderleier, dr. Dan Roodt, “het dit veral nodig geword in die lig van die Vryheidsfront Plus wat finaal van Afrikanerselfbeskikking en die volkstaatgedagte afskeid geneem het”.
Luidens ‘n berig in Die Volksblad het dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, gesê dat “die party afgesien (het) van sy volkstaat-gedagte en beweeg nou in ’n nuwe koers… Die party sal, anders as voorheen, nie meer net die Afrikaner se regte bevorder nie. Die minderheidsgroepe sluit reeds die Bruin Bemagtigingsbeweging (BBB) en Khoisan in die Noord-Kaap in. Die leiers van die Khoisan het ook reeds aangedui dat hulle bereid is om vir die VF Plus te stem.” Dr. Mulder het terselfdertyd bevestig dat hy weereens bereid sou wees om in ‘n ANC-kabinet opgeneem te word.
Front Nasionaal het sy kommer daaroor uitgespreek dat die Vryheidsfront Plus met sy omhelsing van multikulturalisme en afstanddoening van Afrikanerselfbeskikking insgelyks die Akkoord oor Afrikanerselfbeskking van 23 April 1994 tussen genl. Constand Viljoen en Thabo Mbeki in die gedrang bring.
Volgens dr. Dan Roodt “is dit van die uiterste belang dat daar steeds ‘n party in die parlement verteenwoordig sal wees wat die fakkel van daardie akkoord brandend sal hou. Front Nasionaal is al party wat nog oorbly wat locus standi sal hê om daardie historiese akkoord eerbiedig te sien.”
Front Nasionaal gaan insgelyks voort met sy veldtog om mnr. Clive Derby-Lewis om menslikheidsredes op parool te laat vrylaat. Tot dusver het die departement van korrektiewe dienste geweier om ‘n betoging op 12 April voor die Pretoria-sentraal-gevangenis toe te laat. Op daardie dag sal Front Nasionaal, tesame met ander Afrikaanse organisasies en openbare figure, waaronder Steve Hofmeyr, ‘n petisie aan die gevangenisowerheid oorhandig waarin Derby-Lewis se vrylating versoek word.
‘n Tweede vergadering met die departement van korrektiewe dienste en die Pretoriase munisipaliteit is vir 27 Maart belê om die betoging te bespreek.
“Indien die departement ons nie gelyk gee om met die betoging voort te gaan nie, sal ons die hof om ‘n interdik teen die departement nader,” sê Roodt.


Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.