In ’n opname wat vir die tydskrif Jeune Afrique gedoen is deur ’n befaamde marknavorser, dink 57% van swart kiesers dat hulle haar in die eerste rondte sal ondersteun, terwyl 85% Royal bó Nicolas Sarkozy in die tweede rondte verkies.
Sy is die gunsteling teen kandidate soos François Bayrou wat slegs 19% van voorgenome stemme trek en Sarkozy wat op 11% staan.
Ten spyte van Jean-Marie Le Pen se toenadering tot Arabiere onlangs, lyk dit asof slegs 1% vir hom sal stem in ’n eerste stemming.
Wat ’n tweede en bepalende rondte betref is Royal sonder gelyke onder die swart kiesers. Net 15% verkies Nicolas Sarkozy teen die 85% wat ’n eerste vrouepresident sal steun. Die ander gunsteling, Bayrou, behaal 29% teen Royal se 71%.
Nietemin verkies meer swart kiesers Bayrou bó Sarkozy, met 83% teen 17%. Sarkozy het tydens die onluste in Parys sy stem dik gemaak teen die immigrante-“rampokkers” en hom sodoende ongewild onder swartes en Arabiere gemaak.
Swartes uit Afrika verteenwoordig tussen 3,5% en 4% van die totale kieserslys in Frankryk. Die marknavorser Ifop kon nie d.m.v. kieserslyste hierdie bevolking noukeurig afsper nie en moes hulle tot Cevipof en die ministerie van Binnelandse Sake se opnames wend.
Navorsing wat gedoen is i.v.m. met die Franse politieke barometer het 21 776 mense opgelewer waarvan 806 verklaar het dat hul ouers of grootouers uit Afrika afkomstig is. Dié spesifieke swart kiesersgroep is daarna met behulp van statitiese modelle verfyn.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.