Suid-Afrika, Libië en Viëtnam het saam met Rusland en China teen die Amerikaanse voorstel gestem. Indonesië het buite stemming gebly.
Robert Mugabe het gesê dat hy "baie gelukkig" met die uitslag is. Suid-Afrika het ook by monde van Ronnie Mamoepa, die woordvoerder vir die departement van buitelandse sake, die besluit "verwelkom".
Die ineenstorting van die Westerse inisiatief is aangehelp deur die samesprekings wat tans onder geheimhouding iewers in Pretoria tussen ZANU-PF, die MDC, en ‘n wegbreekfaksie van die MDC plaasvind.
‘n Bron naby die samesprekings het gesê dat die tweedaagse beraad op ‘n memorandum van deelname uitgeloop het waarin alle partye die voorwaardes uitstippel om substantiewe onderhandelings oor ‘n moontlike koalisie- of oorgangsregering te begin.
Die MDC hou vol dat dit nie gaan onderhandel tensy geweld van die staat opgeskort word, humanitêre hulp mag voortgaan, politieke gevangenes vrygelaat word en die parlement weer mag vergader nie.
Volgens Boniface Chidyausiku, die Zimbabwiese afgevaardigde na die VN, wat die Veiligheidsraad toegespreek het, is die toestand in sy land deur die Weste oordryf aangesien dit geen bedreiging vir wêreldvrede en –veiligheid inhou nie. Daarom voldoen dit nie aan die voorwaardes vir die Veiligheidsraadbesluit om sanksies in te stel nie.
Chidyausiku het verder gesê dat dit "'n weerspieëling van die regsekerheid by die Verenigde Nasies is wat veroorsaak dat niemand oor 'n monopolie beskik oor hoe dinge by die Veiligheidsraad moet wees nie. Rede het geseëvier."
Hy het gesê dat die "geknoei" van Brittanje, Frankryk en die VSA, asook hul swak rede vir nuwe sanksies, "aan die kaak gestel is en dat daar geen gronde vir dié tipe optrede bestaan nie".
Rusland het gesê dat sanksies die toestand in Zimbabwe kan laat versleg en teen die wense van die Afrikastate sou indruis wat ‘n bemiddelde oplossing nastreef.
Die Britse ambassadeur by die VN, John Sawers, het die vetostemme deur Rusland en China verwerp as sou dit “ernstige skade aan die langtermynbelange van die Zimbabwiese nasie aanrig”.
Intussen het China vanmore vanuit Beijing verklaar dat sanksies teen die Zimbabwiese regering die konflik in die land sou “kompliseer” eerder as oplos en daarmee sy besluit om die VN-resolusie te veto, verdedig.
Die Westers-gesteunde resolusie sou ‘n wapenboikot teen Zimbabwe instel, asook finansiële en reissanksies teen president Mugabe en dertien van sy amptenare. ‘n Spesiale gesant van die Verenigde Nasies sou ook na Zimbabwe gestuur word.
Die Chinese veto, sowel as die Soedanese kwessie, mag verhoudinge met Brittanje en Amerika op die vooraand van die Olimpiese Spele in Beijing bemoeilik.
Die woordvoerder van die Chinese buitelandsesakedepartement, Lioe Djiantsjaoe, het die veto as toepaslik vir Zimbabwe verdedig.
“Onder die huidige omstandighede sou ‘n sanksieresolusie teen Zimbabwe nie help om die verskeie faksies daar aan te moedig om tot politieke dialoog en onderhandelings in te stem nie,” het Lioe in ‘n verklaring op die ministerie se webwerf gesê.
“Inteendeel, dit sou die toestand in Zimbabwe verder kompliseer,” het Lioe gesê en bygevoeg dat China se beroep dat die Afrika-unie meer tyd vir bemiddeling gegun word, geïgnoreer is. Die internasionale gemeenskap behoort konstruktiewe hulp aan Suid-Afrika en die AU se bemiddelingspogings te verleen. Vermy optrede wat ‘n negatiewe uitwerking op die atmosfeer vir dialoog kan hê.”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.