praag.co.za

Akte van oprigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR)

Written by

in

,

Hier volg die Akte van oprigting van die Afrikaanse Taalraad soos dit aan verskeie Afrikaanse organisasies uitgestuur is:

AKTE VAN OPRIGTING

VAN DIE

AFRIKAANSE TAALRAAD

Registrasienommer: 2009/014249/08

NAAM VAN MAATSKAPPY

  1. NAAM

  1. Die naam van die maatskappy is die AFRIKAANSE TAALRAAD MSW

  2. Die verkorte vorm van die naam van die maatskappy is die Taalraad en die akroniem ATR.

  1. HOOFBESIGHEID

Die hoofbesigheid van die Taalraad is om deur die Afrikaanstalige gemeenskap ʼn taalpolitieke situasie in ʼn veeltalige Suid-Afrika te skep waarin Afrikaans as inheemse taal, benewens ander inheemse tale, doelbewus gehandhaaf en bevorder word as hoëfunksietaal en taal van bemagtiging in die breë gemeenskap.

  1. HOOFDOELSTELLING

Die hoofdoelstelling van die Taalraad is om die hoofbesigheid te bedryf deur te steun op die beskerming wat die Grondwet van Suid-Afrika bied vir taal-, kultuur- en godsdienstige regte van die breë gemeenskap.

  1. AANVULLENDE HOOFDOELSTELLINGS

Aanvullend tot die hoofdoelstellings, sluit die Taalraad se doelstellings onder meer in:

  1. om as konfederale liggaam op te tree vir outonome, afsonderlike organisasies wat dieselfde doelstellings nastreef;

  1. om as inisiërende, koördinerende en netwerkskeppende liggaam op te tree en die spesialisfunksie van lede-organisasie te erken en te benut, sonder om inbreuk te maak op die outonomie van die afsonderlike organisasies;

  1. om ʼn inisiërende en koördinerende rol te speel om Afrikaanse kundigheid te ontsluit, en die infrastruktuur van die Afrikaanse gemeenskapsnetwerk doeltreffend te benut, en ook om finansiële en mensehulpbronne te werf en te ontsluit;

  1. om die beskikbare kundigheid aan te wend om sosio-ekonomiese ontwikkeling en welvaartskepping vir die breë Afrikaanse gemeenskap te bewerkstellig;

  1. om strategieë te ontwikkel vir die bevordering van Afrikaans op verskillende lewensterreine;

  1. om ʼn omvattende, geïntegreerde Afrikaanse taalstrategie te aanvaar en dit deurlopend aan te pas en te implementeer;

  1. om deur netwerkskepping en samewerking doelgerig inhoud te gee aan die ontwikkeling van die breë Afrikaanse taalgemeenskap;

  1. om die belange van die Afrikaanse taalgroep as ʼn selfrespekterende gemeenskap te bevorder en te beskerm;

  1. om gereeld ʼn nasionale Afrikaanse taalberaad te organiseer;

  1. om deurlopend ʼn bestekopname oor Afrikaans op verskillende terreine uit te voer;

  1. om kragtens artikel 185 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika as die spreekbuis in belang van Afrikaans met die regering en ander rolspelers van die dag op te tree;

  1. om Afrikaans onder anderstaliges te bevorder;

  1. om vaardigheid in ander tale onder Afrikaanssprekendes te bevorder.

HOOFSTUK EEN: INLEIDING

Artikel 1 – Woordbepaling

Tensy anders blyk uit die samehang het die volgende woorde die aangeduide betekenis, beide vir die doeleindes van die akte en Akte van Oprigting:

  1. “akte” – die akte van oprigting van die maatskappy, soos van tyd tot tyd gewysig;

  1. “Akte van Oprigting” – die Akte van Oprigting van die maatskappy, soos van tyd tot tyd gewysig;

  1. “algemene jaarvergadering” – die algemene jaarvergadering van die maatskappy soos bedoel in artikel 61 (2) (a) van die wet;

  1. “algemene vergadering” – ʼn algemene vergadering van die maatskappy, soos bedoel in artikel 61 (5) en (6) van die wet en soos belê ingevolge artikel 11 tot 17 van die Akte van Oprigting, waarby ingesluit is ʼn algemene jaarvergadering;

  1. ATR – akroniem van die Afrikaanse Taalraad;

  1. “besturende direkteur” – ʼn direkteur aangestel ingevolge artikel 28 van die Akte van Oprigting;

  1. “direksiekomitee” – ʼn komitee aangestel ingevolge artikel 25 van die Akte van Oprigting;

  1. “elektronies” of “elektroniese kennisgewing” – enige vorm van elektroniese oordrag deur die direkteure goedgekeur, vir gebruik om onder meer omsendbriewe, statutêre kennisgewings, finansiële state, kennisgewings, volmagvorms en ander dokumente en inligting met betrekking tot die maatskappy uit te reik, aan te bied, af te lewer, te beteken en op rekord te stel;

  1. “lid” – ʼn persoon toegelaat as lid van die Taalraad ingevolge artikel 4 van die Akte van Oprigting en wie se lidmaatskap nie beëindig is of verval het nie;

  1. “persoon” – ʼn natuurlike persoon en sluit, tensy die teendeel blyk, ʼn regspersoon in, ongeag of dit ʼn kragtens wet ingelyfde regspersoon is al dan nie;

  1. “sekretaris” – die sekretaris van die maatskappy van tyd tot tyd;

  1. “spesiale besluit” – ʼn besluit van ʼn algemene vergadering soos omskryf in artikel 65 (9) van die wet;

  1. “stembrief” – ʼn geskrewe stembrief, hetsy geheim al dan nie, en sluit in stemming deur middel van enige toepaslike elektroniese meganisme;

  1. “stemgeregtigde” – ʼn lid wat ingevolge artikel 5.3 van die Akte van Oprigting met stemreg beklee is vir die doeleindes van ʼn algemene vergadering;

  1. “Taalraad” of die “maatskappy” – die Afrikaanse Taalraad maatskappy sonder winsoogmerk, registrasienommer: 2009/014249/08;

  1. “verkose nie-uitvoerende direkteur” – ʼn direkteur verkies ingevolge Skedule 4 Deel A. van die Akte van Oprigting;

  1. “wet” – die Maatskappywet, Wet 71 van 2008, soos gewysig;

  1. Die manlike vorm sluit die vroulike vorm in.

Artikel 2 – Taal

Die amptelike taal van die Taalraad is Afrikaans.

Artikel 3 – Waardes

Die Taalraad huldig die volgende waardes:

  1. die Taalraad onderskryf die taalregte genoem in die grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.  Deur die gebruik van hulle moedertaal word landsburgers bemagtig en kan hulle potensiaal ten beste ontwikkel word;

  1. die Taalraad verbind hom tot die inklusiwiteit van alle dele van die Afrikaanstalige gemeenskap, en ook die gebruikers van Afrikaans uit ander taalgemeenskappe;

  1. die Taalraad erken die feit dat Afrikaans die eiendom is van almal wat dit praat.  Afrikaans is ook almal se gesamentlike verantwoordelikheid;

  1. die daarstelling en funksionering van ʼn Afrikaanse Taalraad kan moontlik as model dien vir ander Suid-Afrikaanse tale met dieselfde visie;

  1. die Taalraad onderskryf die taalklousules in die land se grondwet, asook die waardes genoem in die grondwet. Dit sluit onder meer in die bestryding van diskriminasie en van sosiaal-ekonomiese ongelykheid, ʼn strewe na gelykwaardigheid van individue en die uitbou van demokrasie;

  1. om verdeeldheid te heel, word versoening tussen gemeenskappe wat Afrikaans gebruik, en ook tussen Afrikaanstaliges en ander taalgemeenskappe as ʼn belangrike prioriteit geag;

  1. Suid-Afrikaners, en daarom ook Afrikaanstaliges, het die reg en verdien die geleentheid om hulleself deur middel van die taal of tale van hul keuse te bemagtig;

  1. andersheid onder Afrikaanstaliges word gerespekteer en “eenheid in verskeidenheid” word nagestreef;

  1. die diversiteit van die Afrikaanssprekende taalgemeenskap en meertaligheid in Suid-Afrika word as ʼn bate beskou;

  1. die variante in taalgebruik wanneer Afrikaanstaliges kommunikeer, word as deel van die rykdom van Afrikaans beskou;

  1. die Taalraad beskou Afrikaans se internasionale taalfamiliebande as ʼn kosbare werklikheid;

  1. Afrikaanstaliges taalgemeenskappe in die buiteland word beskou as deel van die dinamiese, geskakeerde Afrikaanse gemeenskap wat mekaar onderling versterk;

  1. die Taalraad erken die belangrike rol van Afrikaans as tweede en derde taal en is verbind tot die vestiging en uitbouing van sterk vennootskappe met hierdie sprekers.

HOOFSTUK TWEE: LIDMAATSKAP

Artikel 4 – Lidmaatskap

  1. ʼn Organisasie wat die belange van die Taalraad en dié van die Afrikaanse taalgemeenskap dien en die doelstellings ondersteun soos in hierdie Akte van Oprigting uiteengesit is, kan lid wees.

  1. ʼn Natuurlike persoon wat die doelstellings van die Taalraad ondersteun soos in hierdie Akte van Oprigting uiteengesit is, op voorwaarde dat die natuurlike persoon nie ʼn stemgeregtigde sal kan wees nie.

  1. Die direksie van die Taalraad is geregtig om na sy oordeel lidmaatskap te verleen en te kategoriseer kragtens artikel 5, of om lidmaatskap te weier sonder opgaaf van redes.

  1. Die aantal lede van die Taalraad is onbeperk.

  1. Lidmaatskap van die Taalraad is nie oordraagbaar nie.

  1. Die Taalraad hou by sy geregistreerde kantoor ʼn lederegister aan van alle lede, soos wat bepaal word in artikel 24 (4) van die wet. Die lederegister is ter insae beskikbaar soos wat bepaal word in artikel 25 en 26 van die wet.

Artikel 5 – Lidmaatskapkategorieë en prosedures

  1. Die lidmaatskapkategorieë en voorwaardes vir lidmaatskap in enige kategorie kan van tyd tot tyd deur die algemene jaarvergadering bepaal word;

  1. Lidmaatskap van die Taalraad sal bestaan uit:

  1. stemgeregtigde lede;

  1. nie-stemgeregtigde lede.

  1. Behoudens die bepalings van artikel 5.1 is:

  1. stemgeregtigde lede daardie organisasies, hetsy geïnkorporeerd al dan nie, wat as stemgeregtigde lede in die lederegister geregistreer is en wat lidmaatskapgelde betaal soos bepaal in artikel 6;

  1. nie-stemgeregtigde lede persone wat hulle jaarliks tot die doelstellings van die Taalraad verbind en wat as nie-stemgeregtigde lede in die lederegister geregistreer is;

  1. Behoudens die voorskrifte vervat in hierdie Akte van Oprigting:

  1. stel die direksie van tyd tot tyd die prosedure vas waarvolgens ʼn lid se lidmaatskap kragtens subartikel 5.2 gekategoriseer word; en

  1. bepaal die direksie die lidmaatskapkategorie van die persoon wat aansoek doen om lidmaatskap.

Artikel 6 – Registrasie en lidmaatskapgelde

  1. ʼn Lid se lidmaatskap dateer vanaf die dag waarop die kantoor sy lidmaatskapgelde ontvang het en sy naam in die lederegister opgeteken is kragtens artikel 5.3.

  1. Die lidmaatskap word jaarliks hernu deur die betaling van die voorgeskrewe lidmaatskapgeld betaalbaar deur lede.

  1. Die jaarlikse ledegeld is by ondertekening van die Akte van Oprigting soos volg:

(a) 10 -100 lede, betaal jaarliks R100 (ʼn stemeenheid)

(b) 101 – 500 lede, betaal jaarliks R500 (ʼn stemeenheid)

(c) meer as 500 lede, betaal jaarliks ʼn minimum van R1 000 (ʼn stemeenheid) en ʼn lid kan na sy keuse enige getal “stemeenhede opneem, met die voorbehoud dat die stemreg van ʼn lid beperk word soos uiteengesit in artikel 13 (maksimum 10)

  1. Die omvang van die daaropvolgende jaarlikse lidmaatskapgelde betaalbaar word van tyd tot deur die algemene jaarvergadering bepaal, met inagneming dat die beginsel van differensiasie steeds geld.

  1. Lidmaatskapgelde is betaalbaar voor die aanvang van die algemene jaarvergadering soos deur die direksie bepaal.

Artikel 7 – Beëindiging van lidmaatskap

  1. Lidmaatskap kom tot ʼn einde indien die persoon as lid bedank; indien dit ʼn natuurlike persoon is, hy tot sterwe kom, of indien ʼn regspersoon, dit ontbind; of indien sy lidmaatskapgelde onbetaald bly en hy na skriftelike aanmaning steeds in gebreke bly om sy lidmaatskapgeld te betaal.

  1. Die direksie van die Taalraad is geregtig om lidmaatskap in te trek indien die lid volgens die oordeel van die direksie wesenlik afwyk van die oogmerk en waardes van die Taalraad soos in die Akte van Oprigting uiteengesit, of enige van die reglemente of reëls van die Taalraad wat op gesag van die Akte van Oprigting aanvaar is, of indien die lid andersins nie meer aan die vereistes vir lidmaatskap voldoen nie, met die voorbehoud dat die lid skriftelike kennis gekry het van sodanige afwyking en ʼn redelike geleentheid gekry het om sy saak te stel.

  1. In geval van die beëindiging van die lidmaatskap van ʼn persoon ingevolge artikel 7.2, is die persoon steeds geregtig om by ʼn algemene jaarvergadering van die Taalraad teen die besluit van die direksie te appelleer.  Die beslissing van die algemene vergadering is finaal.

  1. ʼn Lid se lidmaatskap sal eindig sodra die Taalraad so ʼn lid skriftelik van die beëindiging van lidmaatskap in kennis gestel word.

  1. Geen terugbetaling sal gemaak word van enige lidmaatskapgelde of gedeelte daarvan aan ʼn lid wie se lidmaatskap kragtens artikel 7.2 beëindig is nie.

Artikel 8 – Bevoegdhede en regte van lede

  1. ʼn Lid werk mee en neem deel aan die bedrywighede van die Taalraad en is geregtig om enige algemene vergadering by te woon en aan besprekings deel te neem en indien die lid ʼn stemgeregtigde is, om by so ʼn vergadering te stem.

  1. Geen lid het bloot uit hoofde van sy lidmaatskap die bevoegdheid om namens die Taalraad op te tree of die Taalraad op enige wyse te verbind of te verteenwoordig nie.

HOOFSTUK DRIE: BESTUUR EN BEHEER

Artikel 9 – Organisatoriese samestelling van die Taalraad

Die Taalraad word organisatories soos volg saamgestel:

  1. die algemene vergadering; en

  1. die direksie.

Hierdie organe word elk beklee met die funksies en bevoegdhede soos vervat in of ontleen aan hierdie Akte van Oprigting en, waar toepaslik, die Wet.

HOOFSTUK VIER: DIE LEDE IN ’N ALGEMENE VERGADERING

Artikel 10 – Gesag

Die lede in ʼn algemene vergadering is die hoogste gesag van die Taalraad met betrekking tot daardie aangeleenthede wat deur die Wet of die Akte van Oprigting binne die jurisdiksie van die algemene vergadering geplaas is.

Artikel 11 – Die belê van ʼn algemene vergadering

  1. ʼn Algemene vergadering word belê ooreenkomstig die bepalings van artikel 61(2) van die wet, en vind jaarliks so gou moontlik plaas, maar binne ses maande na afloop van die Taalraad se finansiële jaar.

  1. Die datum, tyd en plek van die algemene vergadering word deur die direksie bepaal.

  1. Die algemene jaarvergadering behandel die aangeleenthede soos deur die wet voorgeskryf en in hierdie Akte van Oprigting bepaal.

  1. Benewens die algemene jaarvergadering kan ander algemene vergaderings van tyd tot tyd gehou word.  Hierdie algemene vergadering kan na goeddunke deur die direksie kragtens die Akte van Oprigting belê word.  Die direksie is egter verplig om ʼn vergadering te belê ooreenkomstig artikel 61(3) van die wet op aanvraag van minstens 100 lede of sodanige getal lede wat nie minder nie as een twintigste van die totale stemreg verteenwoordig van al die lede wat op die betrokke datum die reg het om op algemene vergaderings van die maatskappy te stem, mits die aanvraag voldoen aan die vereistes van artikel 61(3) van die wet.

  1. Die sekretaris moet in opdrag van die direksie binne die kennisgewingtydperk wat die direksie ooreenkomstig die wet bepaal, skriftelik per pos of elektroniese kennisgewing aan alle lede kennis gee van die belê van ʼn algemene vergadering insluitende ʼn algemene jaarvergadering.

  1. Ondanks die feit dat ʼn vergadering op korter kennisgewing belê is as wat in hierdie Akte van Oprigting voorgeskryf word, word dit kragtens artikel 62 (2A) van die wet as behoorlik beskou as alle lede wat stemreg het, daartoe instem voor of tydens die vergadering.

  1. Die bona fide versuim om aan ʼn lid kennis te gee van die vergadering of die nie-ontvangs van ʼn behoorlike uitgereikte kennisgewing deur ʼn lid wat daarop geregtig is om kennis te kry, maak nie die verrigting van daardie vergadering ongeldig nie.

Artikel 12 – Samestelling van die algemene vergadering

  1. Enige lid mag ʼn algemene vergadering bywoon en daartydens praat, en indien hy stemgeregtig is, daartydens stem.

  1. Behoudens die bepalings van artikel 64 van die wet en artikel 17.2 van hierdie Akte van Oprigting, kan die algemene vergadering sy vergaderings na goeddunke reël en kan die kworumvereistes vir die behoorlik konstituering daarvan vasstel, met dien verstande dat totdat ʼn kworum aldus bepaal is, nie minder nie as een-kwart van alle stemgeregtigde lede persoonlik of deur ʼn behoorlik gevolmagtigde verteenwoordiger teenwoordig, ʼn kworum daarstel.

Artikel 13 – Stemreg op die algemene vergadering

  1. Elke stemgeregtigde lid wat by ʼn algemene vergadering teenwoordig is of verteenwoordig word, het een stem per stemeenheid soos bepaal in artikel 6.3, met die voorbehoud dat geen lid meer as 10 stemme kan uitoefen nie.

  1. Stemming by ʼn algemene vergadering geskied deur die opsteek van hande tensy ʼn stemming met stembriefies aangevra word voor of onmiddellik na die aankondiging van die uitslag van die stemming deur die opsteek van hande:

  1. deur die voorsitter van die vergadering; of

  1. deur nie minder as vyf lede wat stemgeregtig is tydens daardie vergadering.

  1. Indien ʼn stemming per stembrief vereis word, sal dit plaasvind soos deur die voorsitter bepaal. word, Die uitslag van die stemming sal geag word om die besluit van die vergadering te wees waarop sodanige stembriefprosedure vereis is. Die voorsitter van die vergadering sal stemopnemers/-tellers aanwys om die uitslag van die stemming vas te stel.

  1. In die geval van staking van stemme, hetsy by die opsteek van hande of ʼn stemming per stembrief, het die voorsitter van die vergadering ʼn beslissende stem.

  1. Behoudens die bepalings van artikel 14, mag enige lid ʼn gevolmagtigde aanstel, om namens hom teenwoordig te wees, te praat en te stem op algemene vergaderings van lede.  ʼn Gevolmagtigde kan slegs in ʼn stemming met stembriefies stem.

  1. Alle besluite word deur ʼn meerderheid van stemme (50% plus een) van stemgeregtigde lede wat by ʼn algemene vergadering teenwoordig is, aanvaar, behalwe in die geval van spesiale besluite waarvoor in artikel 17 voorsiening gemaak is.

Stembrief

AFRIKAANSE TAALRAAD

Verkiesing van lede in vakante poste in die direksie in terme van die statuut en besluite van die algemene jaarvergadering

Die volgende kriteria sal volgens die Akte van Oprigting vir hierdie verkiesing geld en moet in ag geneem word tydens die stemming vir kandidate:

(i) Geografiese verteenwoordiging word in ag geneem.

(ii) Bewese betrokkenheid by die bevordering van Afrikaans as ʼn noodsaaklikheid.

(iii) Bewese bestuurs- en/of administratiewe vaardighede is ʼn aanbeveling.

(iv) Goeie menseverhoudings en die vermoë om oor kultuurgrense te skakel is ʼn aanbeveling.

Artikel 14 – Volmagstemme (proksies)

  1. Elke kennisgewing vir die belê van ʼn vergadering bevat ʼn verklaring wat die aandag vestig op ʼn lid se reg om ʼn gevolmagtigde aan te stel om namens hom teenwoordig te wees, te praat en te stem.

  1. ʼn Volmagvorm, wat wesenlik ooreenstem met die formaat soos in hierdie Akte van Oprigting uiteengesit, of soos deur die direksie goedgekeur, mag skriftelik deur die volmaggewer onder sy handtekening voltooi word waarin hy een of meer gevolmagtigdes uit die geledere van lede van die maatskappy aanstel om namens hom teenwoordig te wees, te praat en te stem op algemene vergaderings van die maatskappy.  Die handtekening van die volmaggewer moet deur ʼn getuie bevestig word.

  1. Die oorspronklike ondertekende volmag of ʼn faksimilee-afskrif daarvan indien sodanige afskrif in die oordeel van die voorsitter aanvaarbaar is, moet minstens 48 uur voor die aanvang van die algemene vergadering waarvoor die gevolmagtigde(s) aangestel is deur die maatskappysekretaris by die geregistreerde kantoor van die maatskappy ontvang word, en nie-nakoming van enige van die voorskrifte in hierdie artikel ten aansien van volmagstemme stel die volmag bloot aan ongeldigheid tensy die voorsitter van die vergadering in sy diskresie andersins reël.

  1. Die volmagaanstelling moet wesenlik in die volgende formaat of in ʼn alternatiewe formaat soos deur die direksie goedgekeur, opgestel word:

Volmagvorm

AFRIKAANSE TAALRAAD

Hiermee magtig ondergetekende as verteenwoordiger van ………….. (naam van ATR-lidorganisasie) ……………….. (volle name van persoon) om as my gevolmagtigde by die algemene vergadering/jaarvergadering van die Afrikaanse Taalraad op…….. (datum) te fungeer.

Hy/sy kan na goeddunke namens my stem of buite stemming bly rakende enige aangeleentheid wat by die betrokke vergadering ter tafel kom.

Indien my gevolmagtigde nie die vergadering kan bywoon nie, stel ek die voorsitter van die vergadering aan om na goeddunke, waar van toepassing, as my gevolmagtigde namens my ʼn stem uit te bring.

Naam: Getuie

Naam:

Datum: Datum:

Handtekening Handtekening:

Kennisgewing:

Let daarop dat ʼn lid daarop geregtig is om enige ander lid van die Taalraad as gevolmagtigde aan te stel om namens hom teenwoordig te wees, te praat en te stem by algemene vergaderings van die organisasie.

Artikel 15 – Voorsitter van die algemene vergadering

Die voorsitter van die direksie is ampshalwe voorsitter van ʼn algemene vergadering en in sy afwesigheid tree die ondervoorsitter van die direksie as voorsitter op. Indien sowel die voorsitter en die ondervoorsitter afwesig is of nie in staat of bereid is om as voorsitter van die algemene vergadering op te tree nie, kies die algemene vergadering ʼn tydelike voorsitter uit sy midde wat as voorsitter optree totdat die voorsitter of ondervoorsitter die stoel inneem.

Artikel 16 – Bevoegdhede van die algemene vergadering

  1. Algemene vergaderings is bevoeg om sake wat kragtens die wet, en Akte van Oprigting binne die bevoegdheid van die algemene vergadering val, te oorweeg en af te handel.

  1. Behoudens die bepalings van die wet, moet die algemene jaarvergadering die volgende sake behandel:

  1. die verslae van die voorsitter en besturende direkteur van die Taalraad;

  2. die finansiële jaarstate, die direkteursverslag en die ouditeursverslag;

  3. die verkiesing van direkteure volgens Skedule 4 Deel A;

  4. die aanstelling van die ouditeure

  5. die oorweging van enige sake wat ʼn algemene jaarvergadering kragtens die wet of kragtens hierdie Akte van Oprigting geregtig is om in behandeling te neem en waarvan behoorlik kennis gegee is.

  1. ʼn Algemene vergadering anders as ʼn algemene jaarvergadering behandel enige saak wat ʼn algemene vergadering kragtens die wet of kragtens hierdie Akte van Oprigting geregtig is om in behandeling te neem en waarvan behoorlik kennis gegee is.

Artikel 17 – Spesiale besluite

  1. Behoudens die bepalings van artikel 66 (7) (8) van die Wet, moet ʼn skriftelike kennisgewing dat ʼn spesiale besluit op ʼn algemene vergadering voorgelê sal word, waarin die voorneme om die besluit as ʼn spesiale besluit voor te stel, die bepalings en uitwerk van die besluit en die redes vir die besluit gemeld word, met ten minste vyftien (15) werksdae gegee word in ooreenstemming met die voorskrifte van die wet en artikel 11 van hierdie Akte van Oprigting.

  1. Vir doeleindes van die neem van ʼn spesiale besluit vorm een kwart (25%) van die totale stemme van al die stemgeregtigde lede van die maatskappy en wat persoonlik of by wyse van volmagstem teenwoordig is, ʼn kworum.  Indien daar by die aanvang van die algemene vergadering ingevolge artikel 64 (4) tot (7) van die wet vir die doeleindes van die neem van ʼn spesiale besluit nie ’n kworum is nie, moet die vergadering verdaag na ʼn datum nie vroeër nie as sewe dae en nie later as een en twintig dae van die datum van die algemene vergadering.  By sodanige verdaagde algemene vergadering is die lede wat persoonlik of by volmag teenwoordig en stemgeregtig is, geregtig om met die sake waarvoor die oorspronklike algemene vergadering belê is, te handel, en ʼn besluit aangeneem deur nie minder nie as driekwart van sodanige lede word geag ʼn spesiale besluit te wees, selfs indien minder as een-kwart van die totale stemme verteenwoordig word by sodanige verdaagde algemene vergadering.

  1. ʼn Spesiale besluit word aanvaar, indien deur die opsteek van hande, deur ʼn driekwart (75%) meerderheid in getal van lede persoonlik of indien die lid ʼn regspersoon is, deur middel van ʼn verteenwoordiger teenwoordig, of indien by wyse van ʼn stembrief, deur ʼn driekwart (75%) meerderheid van die totale aantal stemme waarop die lede wat by die oorgaan tot besigheid van die vergadering persoonlik of deur middel van ʼn gevolmagtigde teenwoordig is, geregtig is.

Artikel 18 – Reglement van orde

  1. Die direksie kan ʼn reglement van orde vir die verrigtinge van algemene vergaderings daarstel, mits dit nie strydig met die wet of met hierdie Akte van Oprigting is nie. Die reglement van orde tree in werking nadat dit deur die algemene vergadering goedgekeur is.

  1. Sodanige reglement mag bepalings bevat met betrekking tot die vergaderingsprosedures, die sameroeping en vergadering van ʼn algemene vergadering, en ook enige ander saak wat die direksie mag goedvind.

  1. Die bepalings van enige sodanige reglement is bindend op die direksie en lede.

HOOFSTUK VYF: DIE DIREKSIE

Artikel 19 – Bevoegdhede van die direksie

Die sake van die Taalraad word deur die direksie bestuur ingevolge die bevoegdhede wat aan hulle verleen is in die Akte van Oprigting en die wet.

Artikel 20 – Direkteurspligte

Benewens die pligte opgelê uit hoofde van die wet, rus daar gemeenregtelike vertrouenspligte op ʼn direkteur om sy bevoegdhede te goede trou en tot voordeel van die maatskappy uit te oefen, en om redelike sorg en vaardigheid in die uitvoering van sy pligte aan die dag te lê.

Artikel 21 – Samestelling van die direksie

  1. Die direksie bestaan uit minstens ses (6) en hoogstens elf (11) verkose direkteure, insluitend die besturende direkteur indien van toepassing. Niks hierin vervat verhoed die direksie om ingevolge Skedule.4 Deel A (a).(e) van die Akte van Oprigting nie-uitvoerende direkteure te koöpteer om tussentydse vakatures te vul nie.

  1. Die algemene jaarvergadering kies die verkose nie-uitvoerende direkteure ingevolge die bepalings van Skedule 4 Deel A.

  1. Die direksie mag, addisioneel tot die nie-uitvoerende direkteure wat kragtens Skedule 4 Deel A verkies is, binne hulle oordeel en in die beste belang van die Taalraad ʼn besturende direkteur aanstel.

  1. ʼn Lid van die direksie kan slegs in een amp op die direksie dien.

Artikel 22 – Stemreg

  1. Elke direksielid het een stem.  Die voorsitter het by staking van stemme ook ʼn beslissende stem.

  1. Behoudens die bepalings van die wet is skriftelike besluite wat deur al die direkteure onderteken is, tensy so ʼn direkteur in die buiteland is en om daardie rede nie bereikbaar is nie, net so geldig en van krag asof dit aanvaar is op ʼn vergadering van die direkteure wat behoorlik belê en gehou is.  Die ondertekening van skriftelike besluite hoef nie noodwendig op dieselfde dokument te geskied nie.  Daar moet by die eersvolgende direksievergadering kennis geneem word van alle skriftelike besluite en dit word in die notule van die vergadering vervat.

Artikel 23 – Kworum vir direksievergaderings

Die helfte plus een van die dan dienende direksielede vorm ʼn kworum.

Artikel 24 – Byeenroeping, plek en datum van die vergadering.

  1. Die direksie vergader, hetsy in persoon of per telefoonkonferensiefasiliteit, so dikwels as wat die werksaamhede van die Taalraad dit vereis, maar nie minder as kwartaalliks nie.

  1. Kennisgewing van vergaderings van die direksie word minstens veertien (14) dae voor die datum van die vergadering skriftelik aan die direksielede gestuur, en sodanige kennisgewings bevat die datum, plek en tyd van die vergadering.

  1. Die voorsitter van die direksie, en in sy afwesigheid die ondervoorsitter, mag enige tyd (en moet op versoek van minstens drie [3] direkteure) ʼn vergadering byeenroep; in dringende gevalle met minder as veertien dae (14) kennisgewing.

Artikel 25 – Direksiekomitee

  1. Die direksie kan komitees van die direksie instel, lede van die komitees aanstel en hulle aanstelling ophef.  Sodanige komiteelede hoef nie direksielede te wees nie.

  1. Die direksie mag enige van sy bevoegdhede aan enige van die komitees delegeer. Die delegasie mag voorwaardelik of onvoorwaardelik wees. Die direksie behou al sy pligte en bevoegdhede ten opsigte van funksies wat gedelegeer is, en mag enige delegasie wysig of intrek.

  1. Komitees van die direksie lê besonderhede van sy verrigtinge en besluite aan die direksie voor.  Die direksie kan die besluit van enige komitee van die direksie wysig of tersyde stel.

Artikel 26 – Reglemente

  1. Die direksie is bevoeg om, onderhewig aan die bepalings van die wet en die Akte van Oprigting, van tyd tot tyd reglemente of interne reëls in te stel, te wysig of op te hef:

  1. vir die beheer en administrasie van die werksaamhede van die Taalraad;

  1. vir die samestelling, bevoegdheidsverlening, werksfeer en werkswyse van die komitees van die direksie.

  1. Die reglement en regulasie is bindend op die lede, die direksie, komitees van die direksie en sekretariaat.

Artikel 27 – Betaling van onkoste

  1. Redelike reis-, verblyf- en ander uitgawes van ʼn lid van die direksie of ander persoon wat ten behoewe van die Taalraad dienste verrig, kan onderhewig aan vooraf geskrewe magtiging deur die direksie betaal word; met dien verstande dat ʼn persoon wat aldus skriftelike magtiging gekry het, geregtig is op vergoeding van reis- en verblyfkoste.

  1. Uitgesonder die besturende direkteur, ontvang geen lid van die direksie besoldiging vir sy dienste as direkteur nie, anders as die direksiegeld gemeld in artikel 27.1 nie, met dien verstande dat ʼn lid van die direksie geregtig is op redelike vergoeding deur die maatskappy vir professionele of ander spesialisdienste wat hy aan die maatskappy mag lewer buite sy normale direksiepligte.

Artikel 28 – Besturende direkteur

  1. Die direksie mag, indien daar fondse beskikbaar is, ʼn besturende direkteur aanstel om die dag-tot-dag bestuursverantwoordelikheid van die Taalraad te aanvaar en sy diensvoorwaardes en besoldiging bepaal.

  1. Die direksie mag na goeddunke enige van sy magte en bevoegdhede aan so ʼn besturende direkteur delegeer vir welke tydperk, doel en oogmerk ook al. Die delegasie mag voorwaardelik of onvoorwaardelik wees en mag ʼn bevoegdheid tot subdelegasie insluit. Die direksie behou al sy pligte en bevoegdhede rakende sodanige gedelegeerde bevoegdhede en mag enige delegasie wysig of ophef.

  1. Die besturende direkteur beklee die amp vir die duur van sy dienskontrak, of totdat hy bedank, sterf of onbevoeg raak, of totdat sy dienste deur die direksie beëindig word.

Artikel 29 – Ondersoek van stukke deur die direksie

Alle boeke, verslae, dokumente en stukke van die Taalraad is altyd beskikbaar vir insae deur lede van die direksie.

Artikel 30 – Beperking van stemreg van ʼn direksielid

Geen lid van die direksie het op die direksie stemreg oor ʼn saak wat sy persoon of sy persoonlike belang raak nie, tensy die direkteur vooraf sodanige belang formeel aan sy mededirekteure verklaar het en die mededirekteure aanvaar het dat dit nie ʼn wesenlike botsing van belange inhou nie.

HOOFSTUK SES – ALGEMEEN

Artikel 31 – Finansiële jaar

Die finansiële jaareinde van die Taalraad is 28 Februarie.

Artikel 32 – Finansiële rekords

  1. Die direksie moet rekeningkunde boeke en rekords soos voorgeskryf deur artikel 28 van die wet laat hou by die geregistreerde kantoor van die Taalraad. Die rekeningkundige rekords is altyd vir insae deur die lede van die direksie beskikbaar.

  1. Die direksie sien ooreenkomstig artikel 29 van die wet toe dat die finansiële jaarstate opgestel en aan die algemene jaarvergadering voorgelê word.

  1. Die direksie bepaal van tyd tot tyd wanneer en in watter mate en op welke tye en plekke en onder welke voorwaardes die rekeningkundige boeke en rekords van die Taalraad ter insae van lede is. Geen lid is geregtig op insae in die rekeningkundige boeke, rekord of dokumente van die Taalraad nie, behalwe in soverre die wet hom die reg daartoe verleen, of die direksie, of algemene vergadering hom daartoe gemagtig het.

Artikel 33 – Oudit

ʼn Ouditeur of ander bevoegde rekenkundige beampte moet deur die algemene jaarvergadering aangestel word.

Artikel 34 – Fondsinsameling

Die Taalraad mag, onderhewig aan alle toepaslike wetsvoorskrifte, fondse insamel.

Artikel 35 – Kennisgewings

  1. Kennisgewings aan die Taalraad word op die geregistreerde kantoor van die Taalraad bestel.

  1. Alle kennisgewings bedoel vir ʼn lid word na sy jongsbekende adres in die lederegister van die Taalraad gepos of elektronies gestuur.

  1. Termyne van enige kennisgewing wat hiervolgens deur die Taalraad gegee word, onderworpe aan tydperke wat die wet voorskryf, begin loop by afsending van die betrokke kennisgewing per vooruitbetaalde pos.

Artikel 36 – Likwidateurs

Indien, ingevolge ʼn spesiale besluit, ʼn voorstel vir die onbinding van die Taalraad aanvaar word, moet die algemene vergadering een of meer likwidateurs aanwys om oor die bates en laste van die Taalraad te beskik soos in artikel 6.3 van die akte uiteengesit word. Indien die algemene vergadering versuim om likwidateurs aan te stel, kan ʼn aanstelling deur ʼn bevoegde hof op aansoek van enige belanghebbende party gedoen word.

Artikel 37 – Foute in prosedures

  1. ʼn Niewesenlike fout wat te goeder trou in die proses van sameroeping van ʼn sitting van die algemene vergadering, of van die direksie ontstaan het, maak nie die sameroeping ongeldig nie.

  2. ʼn Niewesenlike fout wat te goeder trou in die proses van verkiesing van enige ampsdraer van enige bestuursliggaam van die Taalraad ontstaan het, maak nie die verkiesing ongeldig nie.

  1. Die voorsitter van ʼn betrokke vergadering beslis of ʼn fout soos bedoel in artikel 37.1 of 37.2 hierbo wesenlik is of nie, en sy beslissing is finaal.

SKEDULE 1 – OPRIGTING EN AARD VAN MAATSKAPPY

DEEL A

(Bepalings wat die doelstellings of bevoegdhede van die Maatskappy beperk – artikel 19(1)(b) van die Wet.)

Geen.

DEEL B

(Omheiningsbepalings soos omskryf in artikel 15(2)(b) of (c) van die Wet.)

  1. Geen beperkende voorwaardes geld nie.

DEEL C

(Bepalings wat voorsiening maak vir ʼn skema vir die distribusie van die netto bates van die Maatskappy by sy ontbinding, soos vereis deur Item 1(4) van Skedule 2 van die Wet.)

By die likwidasie of ontbinding van die Maatskappy –

  1. is geen voormalige of huidige lid of direkteur van die Maatskappy, of ʼn persoon wat ʼn direkteur van die Maatskappy aanstel, geregtig op enige deel van die netto waarde van die Maatskappy nadat sy verpligtinge en laste gedelg is nie; en

  2. word die geheel van die netto waarde van die Maatskappy uitgekeer aan een of meer maatskappye sonder winsoogmerk, geregistreerde eksterne nie-wins maatskappye wat hulle aktiwiteite in die Republiek bedryf, vrywillige verenigings of nie-wins trusts –

  1. wat doelstellings soortgelyk aan die Maatskappy se hoofdoelstelling het; en

  2. soos bepaal –

(aa) ingevolge die Maatskappy se Akte;

(bb) deur sy lede, indien enige, of sy direkteure, by of onmiddellik voor sy ontbinding; of

(cc) deur die Hof, indien die Akte, of die lede of direkteure sou versuim om sodanige bepaling te maak.

DEEL D

(Voeg in –

  1. enige bepalings rakende die wysiging van die Akte, soos omskryf in artikel 16(1)(c) van die Wet; en

  2. enige bepalings rakende die direksie se bevoegdheid om reglemente vir die Maatskappy te maak, ooreenkomstig die bepalings van artikel 15(3) tot (5) van die Wet.)

  1. Die Akte word gewysig soos bepaal in artikel 16(1)(c) van die Wet.

  2. Die direksie is bevoeg om, onderhewig aan die bepalings van die Wet en die Akte, van tyd tot tyd reglemente te maak, te wysig of op te hef –

  1. vir die beheer en administrasie van die werksaamhede van die Taalraad;

  2. vir die samestelling, delegasie van magte en reglemente van komitees van die direksie;

  3. vir die keuring en aanstelling van gekoöpteerde nie-uitvoerende direkteure en die verkiesing van verkose nie-uitvoerende direkteure.

  1. Die reglemente is bindend op die lede, die direksie, komitees van die direksie.

  2. Kennis van die instel, wysiging en opheffing van reglemente asook enige wysiging van die Akte word per pos, elektroniese pos aan lede bekendgemaak.

DEEL E

(Bepalings en voorwaardes met betrekking tot lidmaatskap.)

SKEDULE 2 – REGTE VAN LEDE

DEEL A

(Bepalings wat die reg van lede om te ageer sonder voldoening aan formele vereistes beperk, soos omskryf in artikel 57(4) van die Wet.)

Soos volgens die Wet.

DEEL B

(Bepalings wat addisionele regte vir lede skep met betrekking tot toegang tot inligting soos omskryf in artikel 26 van die Wet.)

DEEL C

(Bepalings rakende die bevoegdhede van lede om gevolmagtigdes aan te stel, hulle aanstelling en die bevoegdhede van sodanige gevolmagtigdes, soos omskryf in artikel 58 van die Wet.)

Artikel 14 van die Akte.

DEEL D

(Bepalings rakende die bepaling van ʼn rekorddatum, soos omskryf in artikel 59 van die Wet.)

Soos volgens die Wet.

SKEDULE 3 – LEDEVERGADERINGS

DEEL A

(Bepalings wat ʼn vereiste skep om ʼn ledevergadering te hou.)

Geen.

DEEL B

(Bepalings wat die bevoegdheid van die direksie beperk om die plek van ledevergaderings te bepaal, of die bevoegdheid om buite die Republiek te vergader.)

Geen.

DEEL C

(Bepalings wat die bevoegdheid van die direksie beperk om elektroniese kommunikasie vir ledevergaderings te gebruik, soos omskryf in artikel 63 van die Wet.)

  1. Lede mag deelneem aan ledevergaderings deur middel van elektroniese kommunikasie.

  2. Slegs stemgeregtigde lede wat deelneem aan ledevergaderings deur middel van elektroniese kommunikasie mag deur sodanige kommunikasie stemreg uitoefen.

DEEL D

(Bepalings met betrekking tot die kworumvereistes vir ledevergaderings, of die wysiging van die bepalings van artikel 64 van die Wet.)

Ten einde ʼn geldige kworum vir die oorweging van ʼn aangeleentheid deur ʼn ledevergadering daar te stel, moet ten minste 25% (vyf en twintig persent) van die stemgeregtigde lede teenwoordig wees tydens die ledevergadering.

DEEL E

(Bepalings wat artikel 64(13) van die Wet wysig met betrekking tot die maksimum periode vir die verdaging van ʼn ledevergadering.)

Geen.

DEEL F

(Voeg in –

  1. enige bepaling wat verskillende vereistes neerlê vir die goedkeuring van ʼn gewone besluit vir verskillende aangeleenthede: Geen;

  2. enige bepaling wat verskillende vereistes neerlê vir die goedkeuring van ʼn spesiale besluit vir verskillende aangeleenthede: Geen; of

  3. enige bepaling wat die vereiste van ʼn spesiale besluit oplê vir die goedkeuring van ʼn aangeleentheid, soos omskryf in artikel 65(11) van die Wet: Geen behalwe soos bepaal in Skedule 1 Deel A paragraaf (a) van die Akte.).

SKEDULE 4 – DIREKTEURE

DEEL A

(Bepalings wat die proses vir die verkiesing en aanstelling van direkteure uiteensit.)

Verkiesing van die nie-uitvoerende direkteure

Die verkose nie-uitvoerende direkteure word op ʼn algemene jaarvergadering verkies ooreenkomstig die volgende prosedure:

(a) Nominasieproses

  1. Die direksie van die Taalraad is verantwoordelik vir die opstel van kriteria waarop die direksie moet beskik om ʼn gebalanseerde direksie daar te stel. Hierdie kriteria word deur die algemene jaarvergadering goedgekeur of gewysig.

  1. Teen die agtergrond van die goedgekeurde kriteria dui die direksie jaarliks aan watter behoeftes op die direksie bestaan.

  1. ʼn Uitnodigingskennisgewing word twee (2) maande voor die algemene jaarvergadering aan lede gerig, waarin om nominasies van geskikte kandidate gevra word ooreenkomstig die kwalifikasies vir direkteure soos in die wet, en die Akte van Oprigting vervat is. Die bepaalde vakatures, besonderhede behoeftes wat op die direksie bestaan, asook die goedgekeurde kriteria word in die kennisgewing uiteengesit.

  1. Nominasies word voorgelê –

  1. onder handtekening van ʼn lid of gevolmagtigde verteenwoordiger van ʼn lid;

of

  1. deur die direksie onder handtekening van die voorsteller en ʼn sekondant wat albei lede van die direksie moet wees;

en word vergesel van ʼn aanduiding van die vakature(s) waarvoor die genomineerde genomineer word, ʼn motivering ter ondersteuning van die nominasie, ʼn volledige CV asook toestemming van die genomineerde.  Sodanige nominasies word nie later as dertig (30) dae voor die algemene jaarvergadering of soos deur die direksie bepaal, by die besturende direkteur ingehandig.

  1. Die volle direksie tree op as nominasiekomitee en word met die bevoegdheid beklee om op te tree as ʼn pre-advieskomitee wat vir elke vakature uit die genomineerdes wat vir daardie vakature genomineer is, ʼn voorkeurlys saamstel van persone wat na die komitee se oordeel aan die kriteria vir die vakature voldoen.  Die nominasiekomitee oorweeg ook by samestelling van die voorkeurlys die direksie se gestelde behoeftes volgens Skedule 4 Deel A (a) (ii).

  1. Indien ʼn lid van die nominasiekomitee ʼn genomineerde ingevolge artikel Skedule 4 Deel A (a) (iv) is, word sodanige persoon verskoon wanneer sy nominasie oorweeg word, waarna hy weer sy plek op die nominasiekomitee sal inneem.

  1. Nominasies wat aan die bepalings van die wet, die Akte van Oprigting en die goedgekeurde kriteria ingevolge Skedule 4 Deel A (a) (iii) voldoen nie, word deur die nominasiekomitee verwerp Die nominasiekomitee lig die lid wat die nominasie voorgelê het skriftelik per pos of elektroniese pos in van die verwerping van die nominasie en die redes daarvoor.

(b) Kennisgewing van mosies vir direksieverkiesing

Die direksie vervat al die nominasies en hulle voorkeurlys, cv’s en ander benodighede inligting wat van die nominasiekomitee ontvang is in ʼn mosie vir die verkiesing van direkteure en publiseer dit in die statutêr voorgeskrewe kennisgewing van die algemene jaarvergadering, vir oorweging van en stemming deur die algemene jaarvergadering.

(c) Verkiesingsprosedure

  1. Die verkiesing vind met geslote stembriewe plaas. Elke stembrief bevat die kriteria ooreenkomstig Skedule 4 Deel A (a) (ii) vir die besondere pos(te) en al die kandidate wat vir die pos(te) genomineer is (met uitsondering van die nominasies wat ingevolge Skedule 4 Deel A (a) (viii)8 verwerp is), met ʼn aanduiding van wie die voorkeurkandida(a)t(e) ingevolge Skedule 4 Deel A (a) (v) is sowel as wie ooreenkomstig artikel Skedule 4 Deel A (a) (vii) die geografiese voorkeurkandida(a)t(e) en/of die demografiese voorkeurkandida(a)t(e) is.

  1. Die verkiesing van direkteure vind met ʼn gesamentlike stembrief plaas.

a. Die stembrief maak ooreenkomstig die Akte van Oprigting voorsiening vir geografiese verteenwoordiging.

b. ooreenkomstig die bestaande vakatures kan per gebied gestem word.

c. Kandidate word op die basis van ʼn meerderheid van stemme aangewys.

d. Indien daar ʼn staking van stemme (per kandidaat) is, word ʼn nuwe rondte stemme gehou.

  1. Die direksie wys ʼn persoon aan wat die verkiesingsproses hanteer.

(d) Termyn

  1. Op die tweede algemene jaarvergadering en in elke daaropvolgende jaar tree een derde van die direkteure, of as hulle getal nie ʼn meervoud van drie is nie, die grootste getal naaste aan ʼn derde, uit hulle amp.

  1. Die direkteure wat in elke jaar moet uittree, is dié wat die langste in hulle amp was sedert hulle jongste verkiesing, maar tussen persone wat op dieselfde dag direkteure geword het, word dié wat moet uittree deur loting beslik, tensy hulle onderling anders ooreenkom.

  1. ʼn Uittredende direkteur is herkiesbaar, maar geen direkteur mag vir meer as twee agtereenvolgende termyne of vir ʼn tydperk van meer as ses jaar aaneenlopend, watter een ook al die kortste is, op die direksie dien nie.

  2. ʼn Lid van die direksie hou op om direkteur te wees:

  1. wanneer hy sy bedanking skriftelik by die sekretaris indien;

  1. wanneer hy sterf;

  1. wanneer hy ingevolge die wet onbevoeg word om ʼn direkteur van ʼn maatskappy te word; of

  1. wanneer hy sonder redes wat vir die direksie aanvaarbaar is van drie agtereenvolgende vergaderings afwesig is.

  1. ʼn Nie-uitvoerende direkteur wat nie weer vir ʼn verdere termyn verkies word nie, beklee sy posisie tot aan die einde van die betrokke algemene jaarvergadering.

(e) Tussentydse vakatures

Tussentydse vakatures in die direksie kan deur die direksie gevul word tot met die eersvolgende algemene jaarvergadering waarop dit deur die algemene jaarvergadering gevul word vir die onverstreke gedeelte van die betrokke termyn.

(f) Voorsitter

Die direksie kies jaarliks na afloop van die algemene jaarvergadering uit eie geledere ʼn voorsitter.  ʼn Voorsitter is na sy dienstermyn herkiesbaar, maar hy mag nie vir meer as drie (3) aaneenlopende termyne as voorsitter dien nie.

DEEL B

(Bepalings rakende die reg van enige persoon om ʼn direkteur aan te stel, of wat die reg van enige persoon om ʼn ex officio direkteur te wees, vestig.)

DEEL C

(Bepalings wat addisionele kwalifikasievereistes vir direkteure en voorgeskrewe ampsdraers oplê.)

DEEL D

(Bepalings wat die bevoegdhede van die direksie om die besigheid en sake van die Maatskappy te rig en te bestuur, beperk, soos omskryf in artikel 66 (1) van die Wet.)

Geen.

DEEL E

(Bepalings wat die bevoegdheid van die direksie om ʼn aangeleentheid te oorweeg andersins dan tydens ʼn vergadering beperk, soos omskryf in artikel 74 van die Wet.)

Geen beperkings geld nie.

DEEL F

(Bepalings wat die bevoegdheid van die direksie met betrekking tot die hou van sy vergaderings beperk of wysig, soos omskryf in artikel 73 van die Wet.)

Geen.

DEEL G

(Bepalings wat die bevoegdheid van die direksie beperk of uitbrei om voorskotte aan ʼn direkteur te maak ter bestryding van uitgawes, om ʼn direkteur te vrywaar, of om versekering uit te neem om die Maatskappy of ʼn direkteur te beskerm, soos bedoel in artikel 78 van die Wet.)

Geen.

DEEL H

(Bepalings wat die bevoegdheid van die direksie beperk met betrekking tot die instel van komitees, soos omskryf in artikel 72 van die Wet.)

Geen

 

Comments

Leave a Reply