Ook die vervaardiger van die hagiografie oor Braam Fischer, Sharon Farr, was op die paneel teenwoordig. Haar film is ‘n uitstekende stuk linkse politieke propaganda: Fischer word soos ‘n held uitgebeeld wat onskuldig in die gevangenis gesmyt is omdat hy reg en geregtigheid vir swarmense in Suid-Afrika nagestreef het. Daar word selfs gespog oor hoe hy Regter Rumpf tydens die Rivoniaverhoor belieg en om die bos gelei het en sodoende lewenslange gevangenisstraf – pleks van die doodstraf vir sabotasie – vir Mandela en sy medebeskuldigdes behaal het.
Tot my uiterste verbasing het die regisseuse agterna aan my genoem dat die weelderige dokumentêre film wat seker ‘n paar miljoen rand moes gekos het om te maak, deur M-Net gefinansier is. “Die betaalkanaal het dit ‘n hele paar keer in die gewildste tydgleuwe, ook in primatyd, uitgesaai,” het sy ewe voldaan aan my vertel.
Op pad huis toe in die motor vanaf ‘n getransformeerde Brixton waar sjebiens, pandjieswinkels en mikroleningsbedrywe die hoofstraat oorheers, het daar skielik vir my ‘n lig opgegaan. ‘n Rooi lig, om die waarheid te sê.
Waarom sou die betaalkanaal M-Net, wat in terme van die winsmotief bedryf word, as deel van die DSTV-boeket met sy dieet van Hollywoodfilms, ‘n propagandafilm oor die lewe van Braam Fischer, die eertydse saboteur en leier van die ondergrondse Kommunistiese Party van Suid-Afrika, wou laat maak?
Hoe ongelooflik dit mag klink, lyk dit asof Nasionale Pers – die grootste mediagroep in die land wat M-Net, DSTV, asook die meeste Afrikaanse koerante en tydskrifte (soos Beeld, Die Burger, Huisgenoot), tesame met ‘n hele aantal webwerwe, beheer – ‘n beduidende sprong na links gemaak het.
Benoude katte maak benoude spronge, sê hulle. Dié ou spreekwoord is van hulp om die paradoks te verstaan van die veramerikaansde, winsmotiefgedrewe Naspers wat in die rooi held, Braam Fischer, ‘n gelukbringer gevind het. Hoewel die besturende direkteur van Naspers, Koos Bekker, self ‘n bewondering vir Braam Fischer koester, sou dit my verbaas indien Bekker wel ‘n oortuigde kommunis of Marxis sou wees.
Aan die ander kant kan niks mens meer in Suid-Afrika verbaas nie, ‘n land waar geweld hoogty vier, absurde rassewetgewing geld en endemiese korrupsie heers. Selfs die president (Mbeki) poog om sy rampokkerpolisiehoof (Selebi) teen vervolging te beskerm.
Die aantrekkingskrag van kommunisme vir baie twintigste-eeuse intellektuele soos Jean-Paul Sartre of Antonio Gramsci, die literatore van Oxford soos Terry Eagleton, die Duitse dramaturg Bertolt Brecht en andere, was juis die gesofistikeerde filosofie wat Marx, Lenin, Lukács, Adorno en die res vanuit die Duitse idealisme van die negentiende eeu, die sogenaamde “linkse Hegelianisme”, ontwikkel het.
In teenstelling hiermee, is die hedendaagse Afrikanerkommunisme meer op die Oos-Europese model geskoei waar die elite noodgedwonge kommunisme na ‘n militêre neerlaag of besetting moes aanvaar en klakkeloos nagepraat en uitgevoer het – sensuur, strafkampe, massamoorde en al.
En ja, u het reg gelees: daar bestaan vandag iets soos Afrikanerkommunisme. Dit is die nuwe Rooi Gevaar. Hoewel Braam Fischer iewers langs die pad sy Afrikanerskap afgesweer het, behalwe om dit as ‘n emosionele pleidooi ter versagting in sy hofsaak te misbruik – kompleet met ‘n oneerlike aanhaling uit Paul Kruger – verteenwoordig hy waarskynlik die aartsvader van die nuwe geslag Afrikanerkommuniste.
Afrikanerkommunisme, anders as die Franse of Italiaanse neo-Marxisme van dertig of veertig jaar gelede, beskik oor geen intellektuele tradisie nie. Dit is dóm, opportunisties, verraderlik, histrionies en onverdraagsaam. Ongelukkig wil dit lyk asof die sentrum van Afrikanerkommunisme aan die Universiteit van Stellenbosch gesetel is. Immers is dit Stellenbosch wat Fischer met ‘n nadoodse eredoktorsgraad gesalf het.
Die hoof van Naspers, Koos Bekker, het op 11 November 2004 in Die Burger ‘n roerende pleidooi vir die toekenning van ‘n eredoktorsgraad aan Fischer gelewer waarin hy die retoriese vraag stel: “Hoe op aarde stel mens Fischer se nalatenskap as bloeddorstig voor, waar Afrikaners soos hy en Beyers Naudé so 'n groot rol gespeel het om Nelson Mandela en ander van die essensiële goedheid van die mens te oortuig? Hierdie aanname lê vandag ten grondslag van ons demokrasie.”
Die joernalis en historikus Leopold Scholtz het ‘n jaar of twee gelede ‘n insiggewende artikel oor die Fischer-debakel aan Stellenbosch geskryf, wat in ‘n groot mate onthul hoe daardie suidelike universiteit sodanig gerysmier is dat dit met sommige ultra-linkse en Maoistiese kampusse van die vroeë jare sewentig in Wes-Europa vergelyk kan word.
‘n Vraag wat sekerlik vandag by elke gewone, behoudende Afrikaner opkom, is: waar kom al hierdie Afrikanerlinkses vandaan? Ons weet dat breinspoeling, asook Mao se kulturele revolusie waardeur die jeug tot geweld en haat aangehits word, van die belangrikste wapens in die politieke arsenaal van kommuniste is. Dat die Universiteit van Stellenbosch vandag vol sit met fanatici wat die ineenstorting van die Berlynse Muur as ‘n tragedie beskou, is gewis.
Die hoof van die joernalistiekskool by Stellenbosch, Lizette Rabe, word deur Leopold Scholtz aangehaal waar sy sê: “Sover ek weet, is kommunisme nog nooit as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar nie. Apartheid wel. Is daar enige kwessie oor wat die grootse euwel was?”
Met ander woorde, die twintig miljoen mense wat tydens Josef Stalin se bewind om die lewe gebring is, die strafkampe of goelags wat in Solsjinitsin se boeke opgeteken is, Pol Pot se volksmoord in Kambodja waarin vier miljoen mense gesterf het, Mao se Kulturele Revolusie, die somtotaal van 100 miljoen mense ter wêreld wat regstreeks as gevolg van kommunisme omgekom het, dit alles is maar ’n vulletjie vergeleke met apartheid!
‘n Praagrubriekskrywer, Joseph Secrève, het onlangs die lesers van LitNet daarop attent gemaak dat veel meer mense in politieke geweld tydens hetsy die De Klerk-bewind, hetsy Mandela s’n, gesterf het as onder al die sogenaamde apartheidsleiers se regerings saam:
Onder Malan (1948 – 1954): 53 gedood.
Onder Strydom (1954 – 1958): 16 gedood.
Onder Verwoerd (1958 – 1966): 114 gedood.
Vorster (1966 – 1978): 128 gedood.
Botha (1978 – 1989): 1423 gedood.
De Klerk (1989 – 1994) 14 000 gedood.
Mandela (1994 – 1996) 18 500 gedood.
Hierdie statistiek is afkomstig uit Max Coleman se A Crime Against Humanity – Analyzing the repression of the Apartheid State.
Lizette Rabe, Max du Preez en ander Afrikanerlinkses is egter bereid om die feite rondom die tienmiljoene mense wat onder kommunisme gesterf het, asook die honderdduisende dooies van die post-apartheid- mislukte staat in hul anti-apartheidsmanie te ignoreer.
Asof dit nie genoeg is dat die meningsblaaie van Nasperspublikasies wemel van onbesonne linkse en selfs ekstreem-linkse sienings van Suid-Afrika nie, vind ons dat sulke sienings ook op die buiteland geprojekteer word. Onlangs fulmineer Charles Smith, die Amerikaanse korrespondent van Beeld, teen Hillary Clinton omdat sy “kniediep in die regses is”.
Ja, liewe leser, u het reg gelees. Hillary Clinton, die doyenne van liberale Amerika – en onthou dat liberal in die VSA gelykstaande aan “links” in Europa of Suid-Afrika is – is régs. En haar veldtog teen Obama speel op die verborge rassisme van blanke Amerika wat, anders as Suid-Afrikaners, nie die swart bevrydingsteologie (lees: kerklike kommunisme) verstaan nie.
Die geskiedenis van die twintigste-eeu, asook alles wat daar elders ter wêreld oor kommunisme geboekstaaf is, het aan ons Boerekommuniste wat hul plekkie aan die ANC-rokspante gevind het, verbygegaan. Ons kan lekker vir hulle lag, omdat hulle sulke gekke van hulself maak.
Dit maak hulle egter nie minder gevaarlik nie. Pol Pot, Mao of Stalin was ook op hul manier lagwekkend, selfs banaal. Maar Hannah Arendt het ons juis gewys op die “banaliteit van boosheid” wat so dikwels tot die afgryslike kommunistiese en fascistiese konsentrasiekampe of volksmoorde van die twintigste eeu gelei het.
Afrikaners sou myns insiens ‘n fout maak om die nuwe Rooi Gevaar, bestaande uit fanatiese, wêreldvreemde en veral opportunistiese Afrikanerverraaiers wat magsposisies in die media en die akademie beklee, sonder meer te ignoreer.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.