As jy bietjie gaan lees, die internet is ’n wonderlike bron van inligting, en as jy net wil gaan soek, sal jy die feite kry. Die antwoorde is daar. Nelson Mandela is nie tronk toe oor hy piekniek gehou het op Kerkplein nie. Hy en ander mense het bomme gestel en onskuldige mense is dood.
Die enigste rede waarom Mandela en sy mede-aangeklaagdes nie destyds die doodstraf ontvang het nie, was omdat hulle en hulle advokaat, Braam Fischer, meineed in die hof gepleeg het en oneerlik in hul getuienis was. Hulle het naamlik aan die staat voorgehou dat hulle planne om die Suid-Afrikaanse staat omver te werp deur sabotasie bloot “in die besprekingstadium” verkeer het nie reeds ’n aanvang geneem het nie. Die onlangse dokumentêre film oor Braam Fischer wat deur Sharon Farr gemaak is, stel hierdie punt baie helder en rondborstig: sowel Fischer as die aangeklaagdes het vir regter Rumpff gelieg en hy was naïef genoeg om hulle te glo. Anders sou die doodstraf wat deur die staatsaanklaer, Percy Yutar, aangevra is, toegestaan gewees het.
Ek weet nie waar julle die illusies en dagdrome vandaan kry nie, maar die land het níé verbeter in die tyd wat die ANC aan bewind is nie. In die tyd toe julle jeugdiges op skool was, het julle ’n goeie opvoeding aan huis en op skool gekry, een wat julle in staat gestel het om universiteit toe te gaan en julle drome te gaan volg. Ek wil hier vir jou vra: wat het vandag se kinders? Die antwoord is níks. Hulle skoolkwalifikasies is minder werd as die papier waarop dit gedruk is.
In die tyd wat julle op skool was, het die skole nie soos nou in slagvelde ontaard waar anargie en disrespek die botoon voer nie. Eskom het goed gewerk. Die ekonomie was lewendig. Ons het in ’n tyd gelewe waar mense se lewens nog gerespekteer was en die doodstraf het vele misdadigers afgeskrik. Die hospitale was iets waarop ons kon trots wees en die staatsdiens dieselfde.
En dan kom sê julle jongmense dat dinge verbeter het? In jou drome poplap, in jou drome. Dit is mense soos julle, en julle siening dat sepies die mense ’n insig gee in die moderne samelewing wat maak dat vandag se jeug een sonder ’n toekoms is wat op ’n ramp afstuur. Inteendeel, die jeug van vandag is rééds in ’n totale ramp en slegs radikale aksie en ’n drastiese hartsverandering by julle geslag kan nou enigsins ’n verskil maak.
Ja, julle kan wel sê dat ons land nou finaal apartheid afgeskud het en ons lewe in ’n demokrasie. Teen watter prys? Ek hoop jy is gelukkig met jou eie private tronk en die elektriese heinings wat jou verskoning vir ’n wonderlike lewe beskerm. Ek, ek hou van wyd kyk, ver oor berge en valleie heen om die mooi van my land te kan sien. Ek hou daarvan om diep te kan asemhaal en die vars lug in te trek.
Julle is deel van ’n geslag mense wat nie weet wat dit is om op te offer nie. Ek en die mense van my ouderdom, ons was daar; ons het ons deel gedoen. Dit was veral mans wat die prys betaal het; hulle het betaal met tyd, met hulle lewens, vaardighede, jong sterk liggame wat in ’n oorlog vermink is. En wat gee julle as jongmense? Stank vir dank. Die een ding wat julle nóóit sal kan sê nie is: “ek was ook daar”.
Die oorlog was teen die einste mense wat julle jong generasie as volkshelde beskou, mense wat moordenaars was en nog steeds is. En as hulle nie meer self die moorde pleeg nie, kyk hulle met stilswyende goedkeuring toe hoedat die sisteem wat hulle tot redelik hoë opvoedingsvlakke opgelei het, disintegreer. Ek weet nie hoeveel van julle met die “bloeiende harte”, wat so vreeslik jammer is oor die “onregte” wat julle sogenaamd die swartmense aangedoen het, familie verloor het nie. Maar klaarblyklik voel julle niks vir die opoffering wat die blanke mense voor julle gemaak het nie. Die mense wat wel daar was. Dit is dinge wat saak maak. En selfs die dames het ook in heelparty gevalle vrywillig aangesluit en hulle diens vir die weermag aangebied. Ek wil dit vir jou stel dat die sisteem wat vandag in werking is nie eers ’n skaduwee is van wat dit kan wees nie.
Ek wil dit vir jou stel dat as jy as blanke, wat ook ’n voorbeeld en rolmodel vir vele is, nie jou hart en jou ingesteldheid gaan regkry teenoor jou eie mense nie, gaan julle die land se verdoemenis net verder vasteken in die bloed van julle vriende, familie en kollegas.
Dan was die moord op julle kollega maar net die begin. Of dalk is ek verkeerd om jou te sien as iemand wat ’n verskil kan maak. Miskien is ek verkeerd as ek julle sien as intelligente mense wat ’n verskil wíl maak. Dalk wíl jy hê dat daar nog sulke insidente moet plaasvind, dalk moet daar nog so ’n paar sinnelose moorde, aanrandings en verkragtings wees op akteurs en dergelike mense wat eers nodig sal wees om jou oë te laat oopgaan.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het meegevoel met die familie wat agterbly, ek weet hoe dit voel om familie en vriende te verloor, maar hoeveel keer moet julle ’n ding deurgaan tot jy eers die boodskap kry? Is dit vir julle soos om die dialoog van ’n stuk te leer ? Nuusflits: die lewe gee jou een kans, niks meer nie, en anders as in die sepies is die moorde iets wat nie weer geoefen kan word nie, dit is werklik, daar is net een opname op die toneel. Dan is dit oor. Wil jy nog moorde sien? Nee, ek is seker jy wil nie.
Indien dit wel julle siening is dat dit nou genoeg is en was, sou ek voorstel dat julle wat soveel invloed het van julle agterstewes af opstaan en iets begin doen, julle het die aansien daarvoor. Julle het ’n mate van ’n gevolg, in so ’n mate dat as julle ’n standpunt sal inneem julle baie meer invloed kan uitoefen as wat julle ooit sou dink. Maar hier lê die probleem: julle wag vir ander om iets te doen. Julle het nie die wilskrag om self iets te doen nie. Maar net ingeval julle sou besluit om wel iets te doen: die tyd raak min. Die uurglas loop leeg; julle sal nou vinnig moet maak om dinge te keer en om te draai sodat die situasie wat tans buite beheer raak nog gered kan word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.