Dieselmotors is ‘n groot besigheid in Suid Afrika. Mercedes was al van die begindae van dieselaangedrewe motors van die leiers op die gebied. So ‘n paar jaar gelede het een van die ander drie Duitsers, Audi, besluit om diesel en motorsport as een pakket te begin bemark. Audi het groot sukses met hulle dieselaangedrewe Le Mans-sportmotor behaal. Kort daarna het Peugeot ook so begin maak en siedaar, vandag kry ons dieselaangedrewe sportsedanmotors wat nie net vinnig en ekonomies is nie maar ook practies en sportief.
Ons het die geleentheid gekry om een van die heel beste sportsedanmotors ter wêreld onder hande te neem. Mercedes se C350 CDI.
Herontwerpte baadjie
Die nuwe opgekikkerde C-Klas Mercedes is vir seker die brood-en-bottermodel in die hele Mercedes-reeks. Die motor is ongetwyfeld een van die top drie in die segment en nou in die jongste, herontwerpte baadjie is die C-klas nog meer aantreklik. Die konserwatiewe beeld wat die Mercedes-motors nog altyd uitgestraal het, is stadig maar seker besig om te verander. Met die nuwe C-klas is daar meer rondings, veral oor die neus en hoofligte en die motor vertoon nie net groter nie, maar ook heelwat jonger.
Daar is nuwe slim LED-dagryligte en 18-duimvellings wat die C heelwat moderner laat voorkom, veral as hy langs die opgekikkerde Audi A4 en BMW 3-Reeks bekyk word. Die motor is nog steeds die mees konserwatiewe ontwerp in hierdie geselskap, maar die ligte en wiele gaan nogal baie ver om kers vas te hou by totale nuwe ontwerpe soos die ander twee Duitsers nou het.
Bougehalte in die binneruim van die nuwe C-klas is ook heelwat beter as sy voorganger. Die binneruim herinner nou baie aan dié van die E-klas met splinternuwe lyne vir byna elke paneel voor die bestuurder. Die sportstuurwiel met die chroom-insetsels is een van my gunsteling- nuwe elemente in die C-klas. Daar is nou ‘n baie duidelike LCD-skerm wat allerhande inligting na die bestuurder deurgee, reg in die middel van die instrumentepaneel voor die bestuurder. Dit verskaf ‘n egte luuksegevoel aan die instrumente, net soos in die E-klas.
Verrigting
Wanner dit by verrigting kom kan ‘n mens net eenvoudig nie glo dat ‘n dieselaangedrewe motor so rats kan wees nie. Byna al die luuksevervaardigers het deesdae superdieselmodelle in hul arsenaal. Die Mercedes C350 CDI BlueEfficiency wat ons onder hande gehad het, is toegerus met ‘n 3-liter- V6-dieselenjin wat 165 Kw en 510 Nm se wringkrag lewer. Dit is darem werklik baie in ‘n motor wat slegs 4,6 meter lank is. Hierdie syfers beteken dat die C350 CDI van rus tot 100km/u binne
6,9 sekondes kan kafdraf en elektronies beperk word tot 250 km/u. Dít in ‘n dieselmotor! En die beste van alles is dat die motor oor “stop-ry”-tegnologie beskik wat die brandstof wanneer die motor luier by ‘n stopstraat of verkeerslig afskakel en wanneer die rempedaal gelos word weer onmiddellik aanskakel. Die gevolg is ‘n brandstofverbruik van van slegs 6,0l/100km in die gekombineerde siklus en CO2 vlakke van slegs 157g/km. Mercedes se BlueEfficiency-tegnologie werk beslis om die motor nie net ekonomies nie, maar ook skoon te laat werk.
Die C350 CDI ding mee teen Audi se A4 3.0 TDI Quattro (R503 000), BMW se 330d Steptronic (R504 370) en Volvo se S60 D5 R-Design (R455 900). Teen R540 000 is die Mercedes duurder as al sy mededingers, maar dit bly ‘n Mercedes en die ander nie.
Bevinding
Na ons mening is die C350 CDI ‘n baie groot verbetering op die vorigegenerasie-C350 CDI, veral aan die binneruim. Maar teen R50 000 goedkoper sal ons eerder die C250 CDI koop: die motor se verrigting is byna dieselfde, jy kry dieselfde gehalte en “klas” en hy is nog suiniger by die pomp ook. As jy die kentekens agterop verwyder, sal niemand in elk geval die verskil agterkom tussen hom en die C350 CDI nie.
Ons gee die Merecedes C350 CDI BlueEfficiency 3 uit 5

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.