Die fietsryer Lance Armstrong het erken dat hy verbode opkikkermiddels gebruik het tussen 1999 en 2005 toe hy die Tour de France fietswedren sewe keer gewen het.
Hy het egter ontken dat hy die middels tydens sy terugkeer na die sport in 2009 gebruik het. Armtrong het aan die Amerikaanse kletsprogram-aanbieder Oprah Winfrey gesê dat hy kwaad is dat die Amerikaanse anti-dwelm agentskap hom daarvan aankla dat hy in 2009 en 2010 steeds opkikkermiddels gebruik het.
Armstrong het gesê hy is jammer en hy neem verantwoordelikheid vir sy foute.
Vroeër het die internasionale Olimpiese komitee Armstrong gelas om sy bronsmedalje terug te gee. Armstrong, wie se voormalige US Postal-span beskuldig word van die mees gesofistikeerde, professionele en suksesvolle opkikkerprogram, het die medalje tydens die 2000 Sidney Olimpiese Spele gewen.
Hy is ook van sy sewe Tour de France-titels gestroop nadat hy ná ‘n verslag van die Amerikaanse anti-dwelm agentskap uit fietsry verban is.
‘n Voormalige Suid-Afrikaanse fietsrykampioen wat anoniem wou bly het aan PRAAG gesê die gebruik van opkikkers is algemeen onder professionele fietsryers en die grootste uitdaging is om nie gevang te word nie.
Hy sê sodra fietsryers presteer, word hulle deur farmaseutiese maatskappye genader met die opkikker sowel as die middel wat dit kan wegsteek.
Volgens hom is daar beduidende navorsing deur die verskaffers en vervaardigers van opkikkermiddels wat ook opkikkertoetse deur die sport se owerhede kan fnuik.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.