praag.co.za

Stellenbosch, Transformaties en Ukwanda

Written by

in

Onlangs is berig oor die inwyding van die Universiteit Stellenbosch (US) se landelike kliniese skool op Worcester (Die Burger, 26 Okt, p 13). Die geboue het R65 miljoen gekos; ‘n bedrag waarmee eerder heelwat op die Stellenbosch- of Bellville-kampus van die US vermag kon word. Naas hierdie nuwe Worcester-kampus word addisionele US-leersentrums op Caledon, Ceres, Hermanus, Robertson en Swellendam beoog. Dit is deel van die US se strategie om pleks van op sy universitêre kernfunksies, naamlik onderrig en navorsing, te konsentreer, eerder al hoe meer klem op gemeenskapsdiens te laat val. Dit is wat die ANC verlang, gevolglik is dit wat die US doen. Hierdie leersentrums word gevestig op dorpe waar daar ‘n groot konsentrasie bruin mense is. Op hierdie manier word uitdrukking aan die rektor, Russel Botman, se etniese voorkeur gegee.

Naas Botman is die inwyding deur Jimmy Volmink, die nuwe dekaan van die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, bygewoon. By diensaanvaarding het Volmink nie na sy primêre akademiese verantwoordelikheid, naamlik om die akademiese beste studente en die akademies beste dosente te trek, verwys nie. (Weens transformasie is dit in elk geval iets waaraan reeds jare lank nie meer gevolg aan die US gegee word nie.) As dekaan beskou Volmink sy taak as by uitstek van ‘n politieke aard, naamlik nasiebou. Studente gaan op Worcester in landelike omstandighede opgelei word, terwyl hulle terselfdertyd benut kan word om gemeenskapsdiens te verrig. (Maar dit is natuurlik moontlik om studente praktiese ondervinding in landelike gebiede te laat opdoen sonder om daar ‘n duur kampus te vestig.)

Helen Zille is ‘n ander glanspersoon wat die inwyding bygewoon het. Sy is die DA- (oftewel die ANC Lite-) premier van die Wes-Kaap, wat hierdie US-inisiatief steun. Les bes was die oud-MK-vegter, Basil Kivedo, daar. As ruim vergoeding vir sy dienste in die “bevrydingstryd” is hy as burgemeester van die Munisipaliteit Breedevallei herontplooi.

Wat my veral dwars in die krop steek, is Botman se kenmerkende blatante verpolitisering van die byeenkoms. “Botman het gesê die US erken sy deel aan die ongeregtighede van die verlede, maar die uitdaging is om dié verlede reg te stel.” Hier verwys Botman nie na die wandade (insluitende misdade) van die UDF, ANC, MK en hulle meelopers nie. Hierdie mense word geag so onskuldig soos ongebore babas te wees. Botman vra neerbuigend verskoning vir apartheid, dus vir die gedrag van wit mense. Die akademies voortreflike US van weleer word deur Botman as deel van die ongeregtighede van die verlede beskou. Die gedagte het blykbaar nog nooit by hom opgekom om dankie te sê vir wat wittes aan die US tot stand gebring het nie. Om by daardie punt te kom, sou Botman akademies pleks van polities geöriënteerd moet wees.

Die US se landelike skool te Worcester word nie deur Botman in die eerste plek akademies benader nie. Getrou aan sy politieke gepreokkupeerdheid is hierdie kampus glo ‘n “regstelling vir die verlede”, ‘n “regstelling en ontwikkeling vir die mense van Worcester”. Botman sou ook nie sy rede afsluit sonder om na “hoop” (‘n woord eie aan die swartmagbeweging) te verwys nie. Hierdie keer het hy gepraat van “ware, volhoubare hoop … gegrond … op die wetenskap”. Aan die US word ideologie deesdae op hierdie manier in wetenskap omskep.

Maar wat is die naam van hierdie nuwe US-kampus? Om dit te verstaan, moet ‘n mens besef dat die US nie meer die eentalige Afrikaanse universiteit van weleer is nie. Sedert Engels as addisionele onderrigtaal ingevoer is om die universiteit ” meer toeganklik” vir veral nie-wittes te maak, is Afrikaans progressief afgeskaal. Maar dit het die US nie in ‘n tweetalige inrigting getransformeer nie. Die US is deesdae, soos Botman nooit moeg raak om te verkondig nie, ‘n meertalige inrigting. Dit is nie ook meer bloot ‘n Suid-Afrikaanse universiteit nie; dit word trots as ‘n Afrika-universiteit geparadeer. Volgens die webwerf studeer daar 76 doktorale studente uit Afrika aan die US. Die gedagte dat dit eties meer regverdigbaar sou wees om eerder Suid-Afrikaanse studente te befonds en op te lei, word blykbaar nie ernstig deur die ideologie-gepreokkupeerde Botman & kie oorweeg nie.

Amptelik is Afrikaans veronderstel om steeds by verstek (of outomaties) die US se taal van voorkeur te wees. In die praktyk het Engels, onder Botman se leiding, egter die voorkeurtaal geword. Die afkorting van Universiteit Stellenbosch is nie US soos ‘n mens sou verwag nie, want dan sou dit lyk asof die so gesogte transformasie agterweë gebly het. Anders as bv by die Universiteit Pretoria (UP), word Stellenbosch University as die amptelike naam beskou, met SUN as die afkorting. Dit is dus soos Ou Mutual net Old Mutual, die Poskantoor net die Post Office, Eerste Nasionale Bank net First National Bank, ens, in die nuwe Suid-Afrika geword het. Die amptelike afkorting wat vir internetdoeleindes gebruik word, is sun. Dit lyk en klink Engels, soos die bewindhebbers dit wil hê. Deesdae heet die universiteit se uitgewery Sun Press. Die webwerf Vryematie het pas sy naam na Bonfire verander. Die nie-inklusiewe, rassediskriminerende US-beursskema heet Rachel’s Angels. Net nie-wittes mag engeltjies wees. Enige beurse wat eksklusief vir wittes bedoel is, word egter geweier.

Die Botman-US se weersin in Afrikaans strek selfs verder as die duidelike voorkeur vir Engels. Die US-kommunikasiesatelliet wat in 2009 gelanseer is, se naam is Sumbandila, wat glo “lead the way” in Venda beteken. Dus, wat sou ‘n geskikte naam vir die US se Worcester-kampus wees? Klaarblyklik enige naam behalwe een in Afrikaans, die US se verstektaal. Daar is ‘n Xhosa-woord gevind, wat glo “to grow, to develop” beteken. Die naam wat dus gekies is, is Ukwanda. Dit is ‘n naam waarmee die getransformeerde US en die ANC hoogs tevrede behoort te wees. Die Maties het Transformaties geword. Die Universiteit Stellenbosch het, pleks van ‘n universiteit, die Diversiteit Stellenbosch geword. Geen haan kraai hieroor nie.

Олександр Фільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply