praag.co.za

The Racketeer deur John Grisham, ‘n swart suksesverhaal

Written by

in

Die Angelsaksers het ‘n uitstekende manier ontdek om politieke doelwitte doeltreffend na te streef: Laat die stemvee betaal vir die voorreg om geïndoktrineer te word, soos met ‘n “blitsverkoper”. ‘n Blitsverkoper is deesdae ‘n boek wat gratis deur die gedrukte media binne die eerste week van verskyning reeds so bemark word. In hierdie geval is dit die jongste boek van John Grisham wat verlede week verskyn het, by name The Racketeer. Sy naam is terloops ook ‘n handelsmerk vir spookskrywers soos Tom Clancy en JK Rowling s’n.

Sedert die verskyning van sy roman, The Firm in 1991, is die “produktiewe” en populêre John Grisham op elke lys van topverkopers wat in Engels gedruk word. Dit is dus nie moeilik om te sien waarom The Racketeer, Grisham se 30ste boek, weereens bo-aan die trefferslys staan nie. Die boek bied ‘n deeglike vertoning van sy kenmerkende deugde: ‘n Bron met binnekennis se siening van die “komplekse, dikwels noodlottig gebrekkige wit Amerikaanse regstelsel”.

Soos Clancy is Grisham op sy beste wanneer sy gevoel van morele verontwaardiging die fokus is. In sy jongste boek, is dit swart verontwaardiging teen blankes, aangesien die hoofkarakter swart is. Hy is ‘n slagoffer van die korrupte Amerikaanse regstelsel en ‘n vriend van kokaïenehandelaars.

‘n Enkele, magtelose swart individu veg vir die duur van die boek teen ‘n groot, onverbiddelike teëstander: ‘n verotte stelsel. Grisham is toevallig ook ‘n lid van die raad van direkteure van die Innocence Project, ‘n organisasie wat gevangenes help wat opgesluit word vir misdade wat hulle nie gepleeg het nie. Dit is dan ook die dramatiese stukrag vir gebeure waarin die swart Malcolm Bannister, die hoofkarakter, sy weerwraak teen “white trash”, die wit wêreld van die boek, beplan.

Die roman begin met: “Ek is ‘n prokureur, en ek is in die tronk. Dis ‘n lang storie.” As daardie lang storie begin, is Bannister halfpad deur 10-jaar-tronkstraf vir geldwassery uit klaarblyklike onkunde. Bannister ontvang ‘n buitensporige straf omdat hy swart is en een wat hom gestroop het van sy familie, vryheid en loopbaan. Dit laat hom verbitterd en gretig om wraak te neem. Uit die oogpunt van die verteller, is alle blankes bevooroordeeld en gereed om swartes te benadeel.

Die boek loop oor van sulke rasseverwysings, wat uit die perspektief van die universele swart slagoffer gesien word. Dit raak later meer van ‘n openlike Amerikaanse verkiesingstraktaat as ‘n roman.

Bannister kry sy kans wanneer ‘n korrupte wit federale regter tesame met sy sekretaresse-minnares in ‘n afgeleë hut in die berge van die suidweste van Virginië vermoor word. Die FBI-ondersoek lei na nêrens nie, totdat Bannister met toegang tot ‘n groot klomp kriminele geheime, die moordenaar se motief en identiteit in ruil vir geld, vryheid en ‘n nuwe begin aanbied. Die FBI aanvaar sy aanbod en en hy word as Max Baldwin herdoop wat met ‘n nuwe lewe begin. Op hierdie punt, kan die werklike onderliggende storie begin: Swart tronkmisdadigers en swart dwelmhandelaars, die ware helde, wat meehelp om die wittes op hul baadjie te gee.

By tye is die ingewikkelde skema van die roman wat geleidelik ontvou te afhanklik van blote toeval om problematiese gebeure op te los, maar die “onskuldige” swart dwelmhandelaars en misdadigers seëvier uiteindelik. ‘n Besondere aaklige deel van die boek is waar die tengerige wit boosdoener stelselmatig deur swart tronkbewoners mishandel word tot die groot plesier van die hoofkarakter. Die foltering word in grafiese detail beskryf.

Met Bannister / Baldwin se komplekse scenario gebruik Grisham die vernuf van sy swart protagonis om die onwaarskynlike verhaal se los stukke aanmekaar te flans. Haastige narratiewe energie wat selde, indien ooit, enige diepte toon, red die swart “suksesverhaal”. Die resultaat is ‘n onbevredigende, oppervlakkige riller waarin verskillende vorme van geregtigheid, of liewer alternatiewe geregtigheid, uiteindelik seëvier. Die regse wit karakters word naamlik ingehaal deur hulle gierigheid, onnoselheid, agterlikheid, ongekunsteldheid en vooroordele.

Grisham beskryf die vaal roetines van ‘n minimum-sekuriteitgevangenis, ondervragingstegnieke wat kan lei tot gedwonge belydenisse, en die ervaring van vryheid. Die sentrale tema onderliggend aan die roman is die vraag hoe billik die huidige Amerikaanse (lees: wit) regstelsel is? Hoe dikwels is strawwe heeltemal buite verhouding tot misdade? In Bannister se woorde, “Die ware tragedie van die federale strafregstelsel is nie die absurditeit nie. Dit is die geruïneerde en vermorsde lewens.” En daarby bedoel Grisham natuurlik swart lewens.

 

Neem hierdie boek gratis uit by PRAAG se ebiblioteek. Indien u nog nie lid is nie, sluit hier by Klub digiTAAL of by PRAAG aan.

Фільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply