“As my pa nie ‘n mens was nie, was hy ‘n bobbejaan!” Só sê die een seun vir die ander terwyl hulle stry oor wie se pa nou eintlik die domste is.
Die Dinges is ‘n Watsem – Jan Spies is die verpersoonliking van een van Suid-Afrika se grootste storievertellers se staaltjies en slinkste sêgoed.
Die karakters wat deur Karin Retief, Deon Coetzee en Johan Engelbrecht tot lewe gebring word, laat die gehoor telkens skaterlag, hul asems intrek van verbasing, en saamstemmend koppe knik.
Die stuk skop af met die konsternasie wat op die dorp heers nadat die Bybel in Afrikaans vertaal is. Die dominee wend natuurlik ‘n poging aan om die nuwe Bybel-boekname met die hulp van die dorp-skinders aan die inwoners bekend te stel. Sonder sy wete, ruil die kinders egter hul baniere uit – want wie wil nou met die naam van Habakuk opgeskeep sit?
So volg daar die een staaltjie na die ander en die drie akteurs is meesterlik in hul vertolking. Deon Coetzee en Johan Engelbrecht se gesigsuitdrukkings is iets om oor huis toe te skryf en Karin Retief se sterk verhoogpersoonlikheid sorg dat haar karakters uiters genotvol uitgebeeld word.
Die Dinges is ‘n Watsem bring die halstarrigheid, uniekheid en spontane komedie van die Afrikaner na die voorgrond en dit word aangebied met ‘n mengelmoes van fyn, slinkse humor en skaterlag grappe.
Die titel van die toneel word uiteindelik onthul tydens die laaste skets. Dit vertel van die gesin wat telkens na enige voorwerp of verskynsel as die “dinges” of die “watsem” verwys: “Nee man, ek vra dan gee vir my die dinges aan, nie die watsem nie.” Alhoewel dit soms moeilik raak om kop te hou met al die “dinges” en “watsems” wat so goedsmoeds rondgeslinger word, is dié uitbeelding ‘n fantasiese einde aan ‘n stuk wat gevleg is met humor, kwinkslae en unieke sêgoed. Die Dinges is ‘n Watsem is ‘n fees van toneel-spel en woorde en ‘n moet op elke feesganger se agenda – Jan Spies aanhanger of de not.
Dit is weer op die planke by die Pierneefteater en sluit ‘n Sondagmiddagvertoning in – 4 November 2012 om 15h00 – vir diegene wat sou verkies om dit in die dag by te woon, asook Saterdagaand – 1 Desember 2012 om 19h00. Daar is ‘n konsessie prys vir skoliere en pensioenarisse @ R90. Toegang R100.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.