Dit gons nou al amper ‘n week sedert die slagting by hierdie myn, met oor en weer vergelykings met Sharpeville van destyds. In die gedrukte en elektroniese media en die nuuskanale is die penne nog warm soos naalde van ‘n Richterskaal wat ‘n groot aardbewing geregistreer het. Een voordeel is dat die internasionale gemeenskap nou vrae gaan begin vra oor die aard van Zuma se leiding, hoewel ek nie dink dat dit iets gaan verander aan die vernaamste probleme van Suid-Afrika (geweld, RA, gebrekkige dienslewering ens.) nie. Hierdie faktore is almal deel van ‘n groter politieke verwikkeling.Iemand wat wél ‘n briljante insig gehad het in die huidige situasie is vreemd genoeg amper 2300 jaar gelede oorlede. Die filosoof Plato het in sy dialoog Politeia (Die Republiek) ‘n uitstekende ontleding gebied en help om dinge vir ons in ‘n duideliker perspektief te stel. In hoofstuk 8 van hierdie werk beskryf hy die oorgang van ‘n demokrasie na ‘n diktatuur. Die volgende aanhalings is uit die Nederlandse vertaling vry vertaal:
566D: “Hy sal die eerste dae en eerste tye almal wat hy teëkom vriendlik na glimlag en begroet. Hy sal beweer dat hy geen diktator is nie en sal die nasie en sy mense goue berge belowe. Hy sal skulde kwytskeld en land herverdeel onder sy volk en sy aanhang. Teenoor almal sal hy homself vriendlik en soepel gedra.
Maar veronderstel dat hy met sommige van sy teenstanders van buite versoen het en ander verpletter het waardeur daardie kant nou rustig is. Dan sal hy voortdurend oorloë uitlok sodat die volk nie langer sonder hom kan funksioneer nie?”
567A: “Tegelyk bly die gewone mense arm as gevolg van hoë belastings. Hulle moet by hul daaglikse werk bly en het geen tyd om iets teen hom te begin nie.
En wanneer hy vermoed dat mense soveel waarde aan hul vryheid heg dat hulle nie aan sy gesag onderworpe wil wees nie kan hy oorlog as slenter gebruik om van hulle ontslae te raak.
Maar met so ‘n beleid sal hy homself ongetwyfeld gehaat maak by sy burgers?
Wie weet sal enkeles wat hom aan die mag gehelp het en self baie invloed het teen mekaar en teen hom openlik kritiek oor die gang van sake lewer.
‘n Diktator moet van al sulke mense ontslae raak as hy aan die mag wil bly. Of hy nou wil of nie, moet hy teenstanders bly bestry totdat hy die staat gesuiwer het. Hy doen die teenoorgestelde as wat dokters met liggame doen. Dokters haal die slegte dele weg en laat die goeie dele agter.”
568E: “Maar wat as die inkomste begin opraak?
Dan is dit voor die hand liggend dat sy volk – wat hom voortgebring het soos ‘n vader sy kind – vir hom en sy partytjieganger-vriende se onderhoudskoste moet opdraai.
Dan sal die volk nou vies word en sê dat dit verkeerd is dat die volwasse ‘seun’ deur sy ‘vader’ onderhou moet word en dat dit eintlik andersom moet wees. Die volk het hom nie verwek en aan die mag gehelp sodat hy die slaaf van sy slawe sou word nie, en hom en sy by-mekaar-geraapte klomp slawe te onderhou nie. Nee, die bedoeling was om met hom as leier die staat te bevry van die rykstes en die beter klasse. Net soos ‘n vader sy lawaaierige kind en partytjiegenote beveel om uit die huis te gaan, sal die diktator beveel word om die land te verlaat.”
569B: “Dan sal die volk uiteindelik insien watter monster hulle verwek, gekoester en grootgebring het. En hulle besef nou dat hulle die swakkeres is wat die sterke wil verdryf. Die diktator sal dan waag om geweld te gebruik teen sy ‘vader’ oftewel volk.
Die diktator is dus ‘n vadermoordenaar; iemand wat geen genade het vir oumense nie. Dit is die ware gesig van ‘n diktatuur. En die volk het sodoende van die wal in die sloot geval. Die mense het hulself bevry van slawerny onder vry mense om deur ander slawe gekneg te word. Hul misplaaste vryheid het hulle verruil vir hierdie uiters bitter en swaar juk: Om slawe van slawe te wees!
So sien ons hoe ‘n demokrasie in ‘n diktatuur kan verval, antwoord Plato.”
Hierdie maatskaplike ewolusie van demokrasie tot diktatuur sien ons presies so in Suid-Afrika. Die verskil is dat Suid-Afrika die skyn van demokrasie moet hooghou aan sy volk en het sedert 1994 drie diktators gehad in plaas van Plato se een diktator. Mandela in die begin met sy leë beloftes, Mbeki met sy agterdog en wapenskandale en Zuma met sy onversadigbare kwistigheid. Suid-Afrika se diktatorskap het anders presies op dieselfde wyse verloop.
Waar rubriekskrywers soos Henry Jeffries meen dat ‘ons niks geleer het uit die erflating van Mandela’ nie, is die werklikheid dat ons juis baie hieruit geleer het. Die Afrikaner Nasionale regering se onoorwonne oorgawe het die verval van wet en orde ingelui en die pad na ‘n diktatuur moontlik gemaak. Mandela het ‘n ryk en effektiewe land geërf van sy ‘vaders’ en tegelyk ‘n hoop nuwe belastings ingevoer. Elke leier na hom het die lewe vir die gewone burger slegs moeiliker gemaak met rooftogte van die staatskas en ‘n hoop ekstra belastings teen sy wit burgers in te stel – wat ook nog deur regstellende aksie benadeel word.
Gierigheid en skynvertoon is wat gebeur wanneer ‘n mens ‘n slaaf op ‘n troon sit. Preuts, hardwerkend, talentvol en wys by sy onderdane, maar ‘n eindelose dronkaard, kwaadstoker, hoereerder en seksverslaafde by sy binnekring. Dit is onmoontlik om van so iemand te verwag dat hy die algemene standaarde van moraliteit en fatsoen in die samelewing sal beskerm.
Daarom was dit slegs ‘n kwessie van tyd of hierdie insident by Marikana sou in elk geval plaasgevind het. Ten minste het Verwoerd komplimente gekry oor hoe vinnig hy Suid-Afrika weer op die regte pad gehelp het na Sharpeville; ‘n toonbeeld van sy nugtere Calvinistiese benadering. Ek verwag nie ‘n soortgelyke reaksie van Zuma nie.
En as Zuma wel binnekort komplimente sou kry hiervoor, sal dit in elk geval slegs ‘n skynvertoning wees.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.