Gisteroggend het PRAAG se Engelse webblad www.praag.org die nuus oor die grusame marteldood van Amaro Viana op Walkerville begin versprei, met skakels wat op Facebook en Twitter geplaas is. Teen gisteraand het die feite oor Amaro Viana die wêreld se twee grootste nuuswerwe, Huffington Post en Mailonline met gesamentlik 140 miljoen gebruikers bereik. Enkele reëls vanuit PRAAG se berig is woordeliks deur albei webwerwe gebruik.
In die loop van gister het die daaglikse verkeer op www.praag.org met twintig vermenigvuldig. Webwerwe wêreldwyd het skakels na die PRAAG-storie geplaas en daar was ook terugpiengs in tale soos Sweeds en Italiaans.
PRAAG se skakelbeampte, Rike Bosman, het vanoggend met Dan Roodt oor hierdie internasionale deurbraak en ander kwessies gesels.
Word deel van die avontuur! Sluit by PRAAG aan
Rike Bosman: Dan, waaraan skryf jy hierdie ongelooflike deubraak toe, waardeur PRAAG die anti-blanke geweld in Suid-Afrika wêreldkundig gemaak het?
Dan Roodt: Ek dink dis ‘n kombinasie van tydsberekening, taalbeheer, ideologiese insig, begrip van internasionale politiek en nogmaals tydsberekening. En geluk! Toe praag.org gisteroggend die storie in Engels gebreek het, was dit nog nie op News24, The Sowetan of enige ander Engelstalige webwerf nie. Selfs nie eens SAPA, die groot Suid-Afrikaanse nuusagentskap, het dit gehad nie.
RB: Watter rol het PRAAG se internasionale netwerk hierin gespeel?
DR: ‘n Taamlike groot rol, sou ek sê. Ons het aanvanklik skakels op Twitter en Facebook geplaas, veral op die Facebook-profiele van mense en organisasies oorsee wat ons goedgesind is. Van daar af het dit begin sneeubal.
RB: Het PRAAG erkenning ontvang vir sy aanvanklike verspreiding van die grusame voorbeeld van Suid-Afrikaanse geweld?
DR: Ja. Die Mailonline, wat die wêreld se tweede grootste nuuswerf is, met 70 miljoen gebruikers, het wel na praag.org as een van die bronne vir hul storie verwys. Sommige van die kleiner webwerwe het ook skakels na praag.org geplaas, maar nie die Hufpost nie. Die feit dat hulle sommige reëls uit ons storie woordeliks gekopieer het, toon egter dat hulle ons gelees het, regstreeks of onregstreeks.
RB: Wat is die groter betekenis van hierdie gebeurtenis? Hoe bevorder dit ons Afrikanerstryd?
DR: Ons moet verstaan dat die Afrikaner vóór 1994 deur propaganda en leuens oorwin is. Vandaar die uitbuiting van Sharpeville, Soweto en veral natuurlik die foto van die dooie Hector Pieterson wat rondom 16 Junie 1976 deur die Britse koerante die wêreld ingestuur is. Soos ek egter vanoggend getwiet het, het Hector Pieterson gister ‘n tweede dood gesterf, want hy is vervang deur ‘n twaalfjarige Portugese seun, Amaro Viana, wat deur twee jong swart mans doodgemartel is. Vandag se geslag onthou nie meer Hector Pieterson nie, ook nie as simbool nie. Die nuwe simbool is Amaro Viana, wat ons gister geskep het.
RB: Jy het in jou onlangse rubriek en op Twitter gesê dat PRAAG daarna kyk om plaaslike verteenwoordigers in 50 groot Amerikaanse stede aan te stel, en van daar af ‘n globale kommunikasiestrategie in werking te stel? Jy het ook gesê dat Eschel Rhoodie oorspronklik so ’n idee gehad het, maar dat die destydse Inligtingskandaal hom daarvan weerhou het om dit toe te pas… Hoe kan PRAAG as Afrikaanse organisasie egter slaag waar die ou regering met miljarde rande aan geheime fondse, ambassades in al die luuksebuurte dwarsdeur Westerse hoofstede, asook die geheimediens, weermag, ens., misluk het?
DR: Net voor sy dood het ek by twee geleenthede met mnr. P.W. Botha gesels, die tweede keer saam met joernaliste van die grootste Japannese dagblad en die grootste gedrukte koerant ter wêreld, die Asahi Sjimboen. Mnr. Botha was natuurlik in beheer van daardie magtige organisasie, die staat van die ou Suid-Afrika. Maar ek hou nog al die tyd vol dat dit nie organisasie of hulpbronne is wat ‘n mens in staat stel om te oorwin nie, maar denke en begrip. Ek dink ons het dit gister gedemonstreer. Dis net jammer dat Oom P.W. dood is, anders kon ek hom daarvan vertel het.
RB: Wat gaan PRAAG volgende doen?
DR: Gister het ons ook die perskonferensie van dr. Gregory Stanton bygewoon. Daar het hy verduidelik dat die Amerikaanse regering nou ‘n amptenaar met ‘n hoër rang as ‘n ambassadeur by die ambassade aangestel het, wat dui op kommer oor Suid-Afrika by die Amerikaners. Die gedagte dat daar ‘n dreigende volksmoord in Suid-Afrika is, soos Stanton dan gister bevestig het met sy klassifikasie van Suid-Afrika as ‘n kategorie-5-land, word ook in die Amerikaanse buitelandse diens ernstig opgeneem.
PRAAG sal sorg dat die Afrikaner as slagoffervolk die ou en uitgediende ANC-propagandabegrip van ons as “dadervolk” en as ‘n klomp neo-Nazi’s en rassiste, in die internasionale media vervang word. Ons beplan om geweldige internasionale steun vir ons saak te werf.
RB: Wat is “ons saak”?
DR: Ons saak is Afrikanervryheid, Afrikanerselfbeskikking, die reg om oor ons eie onderwys, veiligheid, gesondheid en kultuur te mag besluit. Ook om self beheer oor ons tradisionele grond wat ons al dekades en eeue besit, uit te oefen.
RB: Benewens die verspreiding van inligting en nuus op die internet, wat doen PRAAG nog om die Afrikanersaak te bevorder?
DR: As mense moet weet watter ingewikkelde geostrategiese debatte ons in die binnekringe van PRAAG voer, sal hulle nogal verbaas wees! Dikwels praat ons meer oor oliepyplyne in die Midde-Ooste of Mitt Romney se mees onlangse uitlating oor Brittanje as oor Afrikaanse taalsake. Maar soos ek reeds onlangs te kenne gegee het, is ons besig om namens PRAAG, maar ook namens Afrikaners, vyf lande te nader omdat ons in hulle potensiële bondgenote en vriende sien. Dis geensins die gewone lande waaraan mense sal dink wat nie ons unieke perspektief en visie vir ‘n onafhanklike, herbore Afrikanervolk deel nie. Ook is ons natuurlik besig met klagtes by internasionale organisasies oor Afrikanermenseregteskendings. En binnekort enkele grondwetlike hofsake in Suid-Afrika.
RB: Onlangs op Twitter het jy laat val dat jy, Steve Hofmeyr en Pieter Mulder ‘n hele middag lank saam geëet het. Wat was die doel van die ete of was dit net sosiaal?
DR: Nee, natuurlik het ons ‘n doel gehad. Daar was ook ‘n vierde persoon van een van die groter Afrikaanse organisasies teenwoordig wat tans nie sy naam genoem wil hê nie. Ons het gesels oor die Afrikaner se hede en toekoms en natuurlik was daar plek-plek meningsverskil. Aan die einde het ons al vier egter ooreengekom dat ons eksterne selfbeskikking vir die Afrikaner nastreef. Ons enigste verskille gaan oor hóé dit bereik moet word.
RB: Maar hoe gaan PRAAG vryheid vir die Afrikaner verwesenlik?
DR: Presies soos die ANC en SAKP hierdie land verower het, met behulp van internasionale politiek.
RB: Maar die ANC het die Anti-apartheidsbeweging, Trevor Huddleston van die Anglikaanse Kerk en die Sweedse regering, om nie van die Sowjetunie en Oos-Duitsland te vergeet nie, agter hom gehad. Watter land gaan hom vandag oor ‘n onbenullige minderheid blankes in Suid-Afrika ontferm?
DR: Politiek gaan oor mag. Daar is twee maniere om ‘n rots op te tel: met brute krag óf deur middel van ‘n hefboom. Ek hou van die hefboomidee. Ons as Afrikaners kan só slim en goed georganiseerd raak, met al die tegnologiese middele tot ons beskikking, dat ons wel daardie rots gaan oplig.
RB: Goed en wel. Maar Stalin het mos gevra: “Hoeveel divisies het die Pous?” Mnr. P.W. Botha het die ou weermag opgebou van die dae toe hy minister van verdediging was tot die vierde of vyfde magtigste ter wêreld. Nogtans moes ons die knie buig voor die ANC en sy terreur, asook sy magtige propagandamasjien, Nelson Mandela as internasionale ikoon, ens. Stalin sou ook vra: “Hoeveel divisies het PRAAG?”
DR: Haha, ja. PRAAG beskik oor geen enkele divisie nie. Anders as die Pous of die Anglikaanse Kerk, het ons nie eens priesters in uniforms nie! Maar Huntington het tussen “sagte mag” en “harde mag” onderskei. P.W. Botha se fout was dat hy te veel op die harde mag gekonsentreer het en die sagte mag buite rekening gelaat het. Gister na afloop van die perskonferensie met Gregory Stanton, het ek by iemand gehoor dat die AWB steeds aan die gang is en oor 94 000 lede beskik, dus is daar iewers nog ‘n bietjie harde mag onder Afrikaners oor. Ons brei die Afrikaner se sagte mag en sy internasionale slaankrag in die media, by regerings en internasionale organisasies, geweldig uit.
RB: En soos PRAAG so pas gedemonstreer het: die pen is dikwels magtiger as die swaard…
DR: Inderdaad.
Word deel van die avontuur! Sluit by PRAAG aan

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.