Suid-Afrika en Pakistan het buite stemming gebly in die jongste Westerse skuif teen die Siriese regering, het die adjunk-minister van Internasionale Betrekkinge Ebrahim Ebrahim aan Eyewitness News Donderdag gesê.
Hy sal die media oor die Verenigde Nasies se Veiligheidsraadsstem aangaande die situasie in Sirië in Pretoria Vrydag toespreek, berig Sapa. Ebrahim het gesê die besluit sou net die Siriese regering straf, en nie die rebelle nie.
Hy het bygevoeg dat die rebelle goed bewapen is. Hy het ‘n oproep gedoen dat die Siriërs self hulle probleme moet oplos.
Brittanje, Frankryk, Duitsland en die Verenigde State van Amerika het voorgestel dat die internasionale gesant Kofi Annan se sespunt-vredesplan ingevolge Hoofstuk Sewe van die VN-handves verleng word, sodat die Veiligheidsraad aksies wat wissel van diplomatieke en ekonomiese sanksies tot militêre ingryping kan magtig.
Op die oomblik, sê Ebrahim is die geweld in Sirië “buite beheer”.
Hy het gesê om ‘n einde te maak aan die lyding van onskuldige burgerlikes is ‘n prioriteit.
Ebrahim het gesê Suid-Afrika ondersteun die pogings van die spesiale gesant vir Sirië, Kofi Annan, in die rigting van die beëindiging van die konflik.
Hy het gesê ‘n bom in die hoofstad Damaskus Woensdag, wat senior regeringsamptenare gedood het, waaronder die minister van verdediging Daoud Rajha, en “die baie gruwelike slagtings” van die afgelope paar weke, het getoon daar is twee kante van die konflik.
Beide Rusland en China het die skuif in die Veiligheidsraad geveto.
Siriese owerhede en rebelle is gewikkel in ‘n 16-maande-konflik oor die bewind van president Bashar al-Asaad.
Betogers het ook intussen die Siriese ambassade in Kaïro bestorm uit simpatie met teenstanders van president Bashar al-Assad.
Sirië se staatsnuusagentskap het berig dat die aanval die werk van “saboteurs was, wat befonds word deur die Golf-state bekend vir hul teenkanting teen Sirië deesdae.”
‘n Siriese diplomaat in die Egiptiese hoofstad het aan Reuters gesê dat die ambassade filmmateriaal van die betogers wat deur die hekke gebreek het, in hul besit het.
“Dit is dieselfde mense,” het Sirië se ambassadeur in Kaïro, Yusuf al-Ahmed, aan die Siriese nuusagentskap gesê wat glo reeds teen Sirië betoog het. “Ons het ‘n lys van name aan die owerhede oorhandig, maar geen stappe is geneem nie.”
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.