Moenie bekommerd wees nie, Afrika, Amerika sal die vasteland red, berig Donderdag se uitgawe van die Washington Post. “Amerika brei geheime intelligensie-operasies in Afrika uit,” met anti-terreuroperasies in Mali, Nigerië, Oeganda en Somalië.
Amerikaanse amptenare sê die Afrika-operasies is nodig om terroristegroepe in mislukte state op die vasteland op te spoor wat dreig om naburige lande te destabiliseer, skryf Craig Whitlock, Pulitzerpryswenner, skrywer van bekroonde stories en Withuis-persvrystellings.
In besonder handel die aankondiging oor die skepping van ‘n dosyn klein aanloopbane versprei regoor Afrika, wat klein, ongewapende vliegtuie op verkenningsmissies sal stuur om foto’s en video, infrarooipatrone op te neem asook radio- en selfoonseine.
Dit verskil in benadering van Amerika se gewone taktiek in plekke soos Afghanistan, Pakistan en Jemen, waar onbemande tuie wat wapens dra, gebruik word vir dieselfde funksie.
“Die meeste van die spioenasievlugte in Afrika egter, sal op die outydse manier – met vlieëniers in die kajuit – gedoen word,” skryf Whitlock. “Die konvensionele vliegtuig hou twee groot voordele oor onbemande tuie in: Hulle is goedkoper om te bedryf en veel minder geneig om aandag te trek, want hulle is so soortgelyk aan die vliegtuie wat gebruik word oor die hele Afrika.”
Die Washington Post se aankondiging is effektief ‘n verklaring dat die oorlog na die swart vasteland uitgebrei word. Nie dat dit kom as ‘n verrassing vir diegene van ons eintlik in Afrika woon nie, wat onder die indruk is van die teenwoordigheid van China en die VSA op die vasteland.
Simon Allison skryf in die Daily Maverick in Oktober verlede jaar: “Die Amerikaanse weermag, deur sy Africa-Command, het Al-Shabaab, al-Kaida in die Islamitiese Magreb en Boko Haram in Nigerië, aaneengeskakel om ‘n prentjie van ‘n soort super-Afrika terroristegroep op te tower.” Allison sê dis bloot ‘n verskoning om ‘n vastrapplek in Afrika te vestig, aangesien skakels tussen die groepe nie werklik bestaan om die bedreiging te internasionaliseer nie.
Dit is ‘n gevaarlike spel wat die VSA speel. Die retoriek oor ‘n bedreiging in Afrika wat eintlik maar ‘n reeks plaaslike probleme is, skep die risiko dat sulke probleme weliswaar in iets groter, en selfs meer ernstig omskep kan word en kan oorspoel in ‘n onverkwiklikheid vir lande waar daar geen konflik is nie.
Boko Haram, byvoorbeeld, is meer begaan oor plaaslike Nigeriese kwessies: ‘n Korrupte regering en maatskaplike probleme soos armoede en werkloosheid.
Al-Shabaab is soortgelyk. Die wedywering vir toegang tot hulpbronne is die onderliggende kwessie en nie soseer ‘n ideologiese stryd nie.
Dan is daar die Islamitiese Magreb met Aqim. Aqim het ook soos die bogenoemde twee bewegings ‘n vreesaanjaende internasionale reputasie probeer skep met hul gewaande “bande met al-Kaida” wat grootliks onverdienstelik is, aangesien hulle nie in staat is tot veel nie.
Al drie groepe hou dalk ‘n bedreiging in vir die lande en streke waarin hulle werksaam is, maar Amerikaanse betrokkenheid, egter, sal hul aansien verhoog eerder as om dit te verminder. Na meer as ‘n dekade van direkte Amerikaanse betrokkenheid in Afghanistan is die Taliban grootliks ongeskonde, en al-Kaida ‘n funksionerende bedryf. Skaars ‘n prestasie.
Die gevaar in Afrika is soortgelyk, veral gegewe die kontinent se arbitrêre grense en vlakke van armoede – dikwels die werklike oorsaak van militante optrede – en plaaslike konflikte kan vinnig buite beheer raak, met rampspoedige gevolge vir sigbare minderhede.
“Sommige staatsamptenare van die departement het voorbehoude oor die militarisering van die Amerikaanse buitelandse beleid op die vasteland uitgespreek,” verduidelik Whitlock in sy artikel. “Hulle het aangevoer dat die meeste terroristeselle in Afrika besig is met plaaslike doelwitte, nie globales nie, en nie ‘n direkte bedreiging vir die Verenigde State inhou nie.”
Die potensiaal vir ‘n gewilde teenreaksie wat simpatie genereer vir die VSA se vyande is beslis daar, ook verder suid.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.