Dit is nie dikwels dat die magtigste man in die wêreld homself wend tot toilethumor nie en daarna grappies vertel oor die eet van honde, rooksug, ‘n dronk minister van buitelandse sake en die instelling van ‘n “radikale sosialistiese agenda”.
Gisteraand in Washington, DC, is Amerikaanse mediaswaargewigte getrakteer op toiletspoel deur president Obama. Oorblufte verslaggewers het na hul kos gestaar en gewonder of dit regtig nodig was vir die president om te vertel hoe hy “op die toilet sit, sekondes voordat [hy] die Withuis-perskorps toespreek”?
Hy het ook gespot oor sy sosialistiese agenda en dat sy teenstander. Mitt Romney, net nie so byderwets soos hy is nie.
Saterdagaand se Withuis-korrespondentedinee is goed bygewoon. Die meeste van die bekende gesigte wat die daaglikse perssessies verduur en die president regoor die land volg, was byeen in ‘n volgepakte Hiltonbalsaal. Daar was ook ‘n gesonde aantal van die bekende gesigte wat daagliks koerantopskrifte haal.
Reken maar op Lohan om vir die soveelste maal gevang te word onder die invloed van een of ander verbode middel, of Kardashian se huweliksprobleme of die gebrek daaraan om “nuus” te genereer wat Amerikaners se aandag aflei van belangrike politieke kwessies.
Die president verlustig homself nie net in toilethumor nie. Onderwerpe soos waar hy gebore is, kom ook aan bod. Hy knipoog vir sy gehoor met die woorde, “En ek, natuurlik, is in Hawaii gebore.” Daar is ‘n groeiende groep mense wat glo Obama is nie in die VSA gebore nie.
Daarna ‘n paar grappies oor die eet van honde, die grootste flop van die aand met ongemaklike reaksies uit die gehoor.
Hillary Clinton, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, se bierdrinkery in Colombia kom dan aan die beurt. “Sy wou nie ophou om my dronk te SMS van Cartagena nie,” vertel Obama ewe vrolik aan die gehoor.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.