Die twee mans het hopeloos min in gemeen: die een is ‘n ryk Mormoon van Michigan, die ander ‘n middelklas-Jood van Israel.
Maar in 1976, het die lewenspaaie van Mitt Romney en Benjamin Netanyahu kortliks gekruis – onuitwisbaar – op die 16de vloer van Boston Consulting Group se kantore, waar beide as korporatiewe adviseurs gewerf is. Tydens die mees vormende tyd van hul loopbane, het hulle gedurende die firma se weeklikse dinkskrums ontdek dat hulle dieselfde beskouing van die wêreld deel.
Romney se pa, ‘n voormalige goewerneur van Michigan, het gepoog om die Republikeinse presidensiële nominasie ‘n paar jaar vroeër in te palm en Netanyahu was deel van ‘n elite spesiale magte-eenheid van die Israeliese weermag. Albei mans was dus op hul eiesoortige manier aan ‘n mededingende wêreld blootgestel.
Dit is egter nie alombekend dat ‘n warm en ou vriendskap tussen Netanyahu, die eerste minister van Israel, en Romney, die waarskynlike Republikeinse presidensiële kandidaat, gesmee is nie.
Die verhouding tussen hulle word versterk deur ‘n netwerk van onderlinge vriende en verhoog deur hul konserwatiewe ideologieë.
Toe Romney as die goewerneur van Massachusetts gedien het, het Netanyahu aangebied om hom eerstehands te adviseer oor klein regering. Romney het Netanyahu weer gehelp om pensioenfondse aan te moedig om besighede wat gekoppel is aan Iran te boikot.
‘n Paar weke gelede, op Super Tuesday, het Netanyahu Romney telefonies oor die situasie in Iran ingelig.
“Ons kan amper in snelskrif praat,” het Romney in ‘n onderhoud gesê. “Ons deel gemeenskaplike ervarings en ‘n perspektief en begronding wat soortgelyk is.”
Netanyahu het hul “maklike kommunikasie” toegeskryf aan ‘n soortgelyke Amerikaanse opleidingsagtergrond.
Romney het trouens verklaar dat hy nie enige belangrike besluite oor Israel sal neem sonder om Netanyahu te raadpleeg nie. Dit het talle wenkbroue laat lig aangesien Netanyahu se polariserende reputasie welbekend is.
Tydens ‘n debat in Desember, het Romney sy mededinger Newt Gingrich gekasty oor ‘n neerhalende opmerking ivm die Palestyne, en gesê: “Voordat ek ‘n verklaring van dié aard maak, is ek op die foon na my vriend Bibi Netanyahu en vra eers: ‘Sal dit help as ek dit sê? Wat wil jy hê moet ek doen?’”
Martin S. Indyk, die vorige Amerikaanse ambassadeur na Israel onder die Clinton-administrasie, het gesê Romney het te kenne gegee dat hy “Midde-Oosterse beleid aan Israel sal uitkontrakteer.”
“Dit sou natuurlik onvanpas wees,” het hy bygevoeg.
Romney het aan Harvard studeer en Netanyahu aan die Massachusetts Instituut van Tegnologie. Hulle is na hul studies albei na die Boston Consulting Group.
Die twee mans het kort ná 2003 toe Romney die goewerneur van Massachusetts geword het, weer kontak opgeneem.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.