Die 16-jarige seun het omstreeks 02:00 vermoedelik toegang tot die huis op Dagbreek-plaas gekry deur ‘n kombuisvenster, het Malcolm Pojie, woordvoerder, gesê.
Charlotte Sroneman, wat langs haar man geslaap het, het wakker geword en opgestaan om ondersoek in te stel toe sy die geraas hoor. Sy is herhaaldelik in die bors gesteek deur die aanvaller, het Pojie gesê.
Haar man het met ‘n geweer in sy hand ondersoek gaan instel. ‘n Bakleiery het ontstaan en hy is ook gesteek. Hy het egter daarin geslaag om verskeie skote af te vuur en die seun te wond.
“Die verdagte is aan die regterkant van sy gesig en in sy skouer geskiet. Hy het probeer vlug, maar is nie ver van die huis af nie deur die polisie in hegtenis geneem,” het Pojie gesê.
Charlotte is op die toneel dood verklaar, terwyl haar man na ‘n hospitaal geneem is in ‘n ernstige toestand.
“Die verdagte is op die oomblik by ‘n provinsiale hospitaal onder swaar polisiebewaking,” het Pojie gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.