Die Suid-Afrikaanse “transisie” kan allerwee in dieselfde asem genoem word as die ander twee voorloper-rewolusies op hierdie gebied, te wete die Franse Rewolusie van 1787 en die Oktoberrewolusie van 1917. Hierdie drie aardskuddende bewegings het inderdaad ‘n aantal dinge met mekaar in gemeen gehad. Elkeen het byvoorbeeld ‘n element van Kommunisme bevat; elkeen was teen Christendom gekant en elkeen was gekenmerk deur uiterste bloeddorstigheid en barbarisme. Ook het elkeen wereldwyd skokgolwe veroorsaak.
Die Franse Rewolusie was bekend gewees vanwee sy belangrikste wapen, die guillotine. Daarbenewens was die gemeengoed gewees om Christendom te belaster, soos Voltaire op ‘n stadium geskryf het “Geen God geen meester” en “Ruk die bastaard van Sy kruis af!”
In 1917 onder die Bolsjewiste het die aantal kerke afgeneem van 29 584 tot minder as 500 in die periode 1927 – 1940, en wyle Aleksandr Solzjenitsyn skat die aantal hoofsaaklik Christene wat omgekom het op 66 miljoen. Origens kon diegene wat gewaag het om indertyd ‘n sinagoge te vandaliseer op die doodstraf reken.
Die situasie in Suid-Afrika is welbekend en hoef nie al te veel aandag hier te geniet nie.
‘n Ander interessante eienskap wat hierdie drie rewolusies in gemeen gehad het, is dat hulle onnodig was.
Wat die Franse Rewolusie aanbetref kan ons verwys na De Tocqueville se analise in Ancien Regime. Die algemene lewensstandaard van die gepeupel was in elk geval besig om te verbeter. Daar was ‘n gesonder bevolkinggroei, en mense het gemiddeld langer geleef. De Tocqueville argumenteer dat hierdie verbetering die oorsaak van die Rewolusie was aangesien die bevolking meer energie gehad het om uiteindelik hul griewe in aksie om te sit.
Die Oktoberrewolusie was ook onnodig gewees om min of meer dieselfde redes. Aan die gewone mens word vertel dat die korrupte, oorlogsugtige Tsaar Nikolai die Rewolusie in die hand gewerk het by die gepeupel. Wat min mense egter weet is dat Nikolai ongeveer ses maande voor die Rewolusie al geabdikeer het. Die Russiese regering was oorgeneem deur die Mensjewiek (‘n kleiner party) Kerensky, en onder sy bewind het hy meer regte vir minderhede begin waarborg.
Suid-Afrika is nie anders nie: vanweë die demografiese oorverteenwoordiging van swartes in die stede sou apartheid in elk geval ten onder gegaan het. Die Verwoerdiaanse apartheid het nie realiseer nie, en Vorster het na oorname al begin om apartheid af te breek kort na Verwoerd se dood.
Wat het hierdie bloedige rewolusies dan veroorsaak? Ons kan in elk geval konkludeer dat hulle, vanweë die intense propagandaveldtog, koördinasie en omvang, van buite-af opgelê is, en inderdaad kos dit ‘n astronomiese bedrag om ‘n rewolusie te finansier.
Ek dink ons kan die volgende hipotetiseer: Die barbarisme wat gepaardgegaan het met hierdie rewolusies was deel van die taktiek gewees. Mense het bepaalde sedes, gewoontes en opvattings voor die rewolusie gehad, en hierdie moet verander. Ervaring in die verlede het geleer dat gewoontes en opvattings baie hardnekkig is, en die beste manier om dit te verander is om die bevolking te skok en te traumatiseer. Mense wat getraumatiseer is, is meer vatbaar vir suggestie en meer bereid om nuwe aksies te onderneem om hul situasie te wysig. Die doel van herhaalde propaganda is om die getraumatiseerde bevolking te indoktrineer met nuwe gewoontes en sedes om as’t ware ‘n nuwe mens te skep. Die rewolusionêr Leo Trotski het selfs so ver gegaan as om te beweer dat daar ‘n permanente rewolusie moet wees, sogenaamd om te sorg dat daar geen nuwe heersersklas kan ontwikkel nie. In werklikheid is dit om die bevolking voortdurend in ‘n staat van verwarring, skok en dus onderwerping te hou. Sommige analiste meen dat Frankryk nog steeds nie van hul Rewolusie herstel het nie, gesien die minagting wat die Franse nog vir geloof koester.
En as die rewolusie eenmaal voltrek is en mense begin uiteindelik wel ‘n “nuwe” waardesisteem te ontwikkel, bevind hulle hulself in ‘n situasie wat Churchill omskryf het as “onmoontlike gelykheid, opgeskorte ontwikkeling en kwaadwillige jaloesie”.
‘n Beter omskrywing word gegee deur die filosoof José Otega y Gasset waarin hy meen dat ‘n massa-mens die gevolg is. ‘n Massa-mens word gekenmerk deur sy anti-mentaliteit en homself verset teen alle vorme van tradisie terwyl hy tegelykertyd nie in staat is om ‘n eie goed gefundeerde moraal te ontwikkel nie.
Onthou dus die volgende keer wanneer iemand trots en selfingenome die “struggle” verheerlik, tesame met die daaropvolgende valse oorwinning wat hulle bekom het: Hulle stryd was ‘n leuen gewees met ‘n Pyrrusoorwinning as resultaat. Hul rewolusie was eintlik ‘n rew-illusie gewees.
Soos Albert Camus gesê dat het elke rewolusie slegs tot meer staatsmag gelei met minder vryheid vir die gepeupel as voorheen.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.