Dat daar uit Nederland en Vlaandere belangstelling is vir Afrikaans is waar, en dat buitelandse politici hulle sal uitspreek téén misdaad in SA is ook waar. Maar van “Afrikaner-redding” uit die buiteland is daar geen sprake nie. Want dit is nie nodig nie. Afrikaanse leiers vra nie daarvoor nie, waarom sou daar dan hulp kom? Misdaad en korrupsie in sy totaliteit kry wel aandag, van plaasmoorde, renosterstropery, korrektiewe verkragting van lesbiërs, kindermishandeling, ens.
Dat regse Afrikaners hul hoop nou juis op Nederland toespits is interessant. Die regses haat juis die Hollanders vir hulle bydrae om apartheid te beeïndig. Maar as jy dan gaan kyk na die bedmaats wat regse Afrikaners soek in Nederland, raak dit duidelik waarom daar geen noemenswaardige hulp uit die EU sal kom vir Afrikaans en die Afrikaner nie. Eerstens, sodra politici hul verdiep in die werklike leefstyl en lewensstandaard van Afrikaners in SA, besef hulle dat die Afrikaner baie goed leef in Afrika. Nederlanders emigreer selfs na SA. Die politici kom gou agter dat sekere regse groepe in SA, onder andere Praag, kwessies soos taal, misdaad, AA, ens, probeer misbruik om rassehaat aan te sterk. Net één kykie na die kommentare op praag.co.za wys alreeds vir dié politici met wie hulle werklik te doen het.
Dan tweedens, die bedmaats: As een voorbeeld, onlangs was Martin Bosma van de PVV nie welkom by die Afrikaanse Taalraad (ATR) nie, juis omdat hy aan ‘n party behoort wat anti-Islam is. Dit het in die Nederlandse pers bekend geword:
“Bosma, die nu in Zuid-Afrika is, heeft zich eerder opgeworpen als pleitbezorger van het aan het Nederlands verwante Afrikaans. Maar volgens de krant zit de Afrikaanse Taalraad niet op de PVV’er te wachten. Voorzitter van de raad Michel le Cordeur zegt in Beeld dat onder de mensen die Afrikaans spreken, ook moslims zijn: ‘Afrikaans is nie gelyk aan Afrikaners nie’. De sprekers zijn niet alleen blanke Afrikaners maar ook mensen die ‘bruin en swart’ zijn, ‘wat Moslems insluit’. “
‘n Heel duidelike boodskap dus. Weer eens word ons taal misbruik om goedkoop politieke punte aan te teken. Die onderduimse mosie wat regse Afrikaners dmv naïwe en regse politici deur die NL-parlement probeer druk het, was verwerp met die minagting wat dit verdien.
Dat daar op websites van groepe soos BKA en Geloftevolk ophef gemaak word oor die sogenaamde “redding van buite”, is geensins ‘n positiewe faktor vir julle veldtog nie. Net één verbintenis met dié tipe van groepe, so ook Praag, moet onder die aandag kom van EU en NL politici, en hulle sal weier om so ‘n mosie te ondersteun. Die Jooste-video, wat ondersteun word op regse websites, en as “nie so erg” afgemaak word, het groot opslae gemaak in Nederland, en simpatie met misdaad laat daal. Sit daarby die rassistiese uitlatings en homofobie op ander websites, en julle kan net julself blameer dat “redding van buite” nie sal gebeur nie.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.