praag.co.za

Ons lewens wat so min werd is

Written by

in

Gisteraand praat ek met ‘n vrou wat ‘n kunsgalery in Pretoria besit. Sy is deur drie swartes in haar huis oorval, ‘n uur lank geslaan, gedreig dat sy verkrag sou word en die sneller van die pistool teen haar kop getrek sou word.

Sy was egter so gelate daaroor dat ‘n mens tegelyk met humor, verwondering en afgryse vervul is. Toe hulle dreig om haar slaapkamer toe te neem om daar te verkrag, dink sy daaraan dat die bed nog nie opgemaak is nie en sy skaam haar daaroor. Op ‘n stadium het sy hulle ook uitgenooi om nou klaar te kry en haar te skiet, nie net aanmekaar daarmee te dreig nie.

Elke keer as hulle haar wil skiet, vra sy hulle ook of sy eers die uie op die stoof wat sy besig was om te maak, kan afsit want sy is bang dit brand aan. Uiteindelik is sy wel toegelaat om die stoofplaat af te sit.

Op die ou end is hulle daar weg sonder dat sy geskiet of verkrag is, net erg aangerand. Toe sy by die polisie aankom, tref sy, in haar woorde, “‘n analfabeet daar aan wat nie kan skryf of my verklaring kan afneem nie”. Sy skryf egter self haar verklaring en vertel presies wat gebeur het. Telkens het die drie rowers vir haar gesê: “You white bitch, we are going to rape you.” Of: “You white bitch, we are going to shoot you.” Sy skryf dit toe presies so in haar verklaring neer.

Maar met die deurlees van haar verklaring deur die swart, analfabetiese polisieman, maak hy beswaar daarteen dat sy die woorde “white bitch” daarin gebruik het. Volgens hom kan hy dit nie so aanvaar nie en moet sy dit verander. ‘n Redekaweling volg.

Sy hou voet by stuk dat sy dit presies só moet vertel soos dit gebeur het, want dit was ‘n rasse-insident en die polisieman verseg insgelyks om die verklaring met die woord “white” daarin te aanvaar. “Bitch” is wel aanvaarbaar, maar nie “white bitch” nie.

Uiteindelik moes sy maar die aftog blaas en tot vandag toe is geen saak nog oor die aanranding, huisroof met verswarende omstandighede, poging tot verkragting, poging tot moord, ens., geopen nie. Ek het my videokamera daar gehad en wou hê sy moes die hele relaas herhaal sodat ons dit op YouTube kan sit, want die swart humor en traak-my-nieagtigheid waarmee sy dit vertel het, sou dalk die hele wêreld in beroering kon bring. Sy was egter nie lus nie en daarmee is ‘n unieke vertelling waaroor ‘n mens boekdele sou kon skryf, vir die wêreld verlore.

Wat tans in Suid-Afrika gebeur, is eintlik nog glad nie onder woorde – of beelde – gebring nie. Dis so vreemd, fantasmagories en bisar dat buitestaanders of buitelanders géén, maar géen, begrip daarvan het nie. Hierdie verfynde, gekultiveerde en welsprekende vrou het die gegewe aanvaar dat ‘n lewe – ook haar lewe – in Suid-Afrika niks werd is nie. Sy beskik egter oor ‘n geloof in haar eie intelligensie en dat sy slimmer as haar aanvallers is. “Hulle verwag dat jy op ‘n sekere manier moet reageer en as jy anders reageer, verwar dit hulle. Dan weet hulle nie wat om te doen nie. Ons gaan hulle altyd uitoorlê,” sê sy. Sekerlik, volgens die gangbare definisies, is dit ‘n “rassistiese” geloof, want in ‘n wêreld van onverbiddellike gelykheid, is die swart rower, moordenaar of verkragter ewe intelligent as die blanke kunshandelaar. Dis net twee verskillende loopbaankeuses.

Die ander interessante aspek van haar vertelling was dat sy nêrens na die ras van haar aanvallers verwys het nie. Totdat my vrou naderhand wou weet: “Ek neem aan hulle was swart?” Hierop het die kunshandelares met die uiterste verbasing gevra: “Hartjie, maar watse vraag is dit? Natúúrlik was hulle swart. Ek weet nie hoe jy nog hoegenaamd so ‘n vraag kan vra nie.” Dit was asof sy hiermee die aandag op ‘n ongeskrewe natuurwet gevestig het.

Die indruk wat ek gekry het, is dat sy werklik nie omgee oor wat met haar gebeur het nie. Tot vandag toe het sy geen veiligheidsmaatreëls getref nie en aanvaar sy dat sulke dinge maar net gebeur. Dis asof ons op ‘n ander planeet verkeer en hier geld nuwe reëls of oerwoudreëls, waaraan ‘n mens niks kan verander nie.

Haar fatalisme was vir my tegelykertyd skokkend en fassinerend.

Daar is egter ‘n klein groepie Afrikaners wat reeds die groteske andersheid van die Nuwe Suid-Afrika besef en gaandeweg leer om dit te beskryf. Mettertyd sal ons selfs daarin slaag om dit aan mense in die buitewêreld, op die res van die aarde, verstaanbaar te maak. Dis ‘n baie delikate proses, want die gewone woorde en begrippe, veral die stel bekende clichés oor Suid-Afrika, skiet ver te kort.

Wat tans met ons gebeur, is veel erger as ‘n oorlog, want dit dwing ons – soos vir hierdie vrou – om te aanvaar dat ons lewens en by uitbreiding, ons taal, kultuur, geskiedenis, tradisie, erfenis en alles wat daarmee saamhang, letterlik niks werd is nie. Dis miskien die nuwe Afrikanerdefinisie: ‘n mens sonder waarde. ‘n Weggooimens, ‘n mens wat maar net dankbaar kan wees dat hy nog leef want bokant ons almal se koppe hang die swaard van Damokles, die pistool teen jou kop, die mes wat voor jou borskas huiwer.

By al die verhale van menseslagting waarvan ‘n mens lees en hoor, is daar ook soveel ander stories van mense wat ternouernood aan die dood ontkom het. ‘n Vriend se hart het letterlik vier keer gaan staan in die ambulans nadat swartes hom in die Pretoriase middestad met messe toegetakel het. Vier keer het die noodpersoneel sy hart weer aan die gang geskok en vandag is hy springlewendig en blakend gesond. Die feit dat ons leef en nog gewone dinge ook elke dag kan doen, is ‘n groot wonderwerk, ‘n bestiering.

Dis daarom kwalik vreemd dat daar ‘n blom bestaan wat “Afrikaner” heet, want ons is so verganklik soos blomme: een oomblik hier en die volgende oomblik weg. Afgesny. Van kant gemaak.

Фільчаков Олександр Васильович прокурор

Comments

Leave a Reply