praag.co.za

Droewige krieket in ‘n triestige land

Written by

in

Dis darem nie waar en hoe krieket gespeel moet word nie.

Ek is selde, indien ooit, in die versoeking om van Nieu-Seeland te hou. Dit is na alles die plek waarheen ek my ma se voormalige skoondogter verban het. Sou ek weens konsentrasieverlies besluit om die lang, weemoedige eiland die voordeel van die twyfel te gee, sal ‘n krieketkykervaring soos vanoggend daadwerklike herbesinning bring.

Toetskrieket is ‘n majestueuse sport, ontwikkel om op waatlemoenskilgroen, sondeurweekte velde in groot stadions met hoë paviljoene gespeel te word. Dis ‘n somersport, deksels, vir rooigebrande manne met sonrome oor lang neuse en breë kennebakke. Die velde in die Land van die Lang Lae Wolk is groen, ja, maar dis ‘n sopperige, tam groen. Die res van die sportpark lyk soos Laerskool Myndorp-Wes se sportkompleks, met draadheining en selfs ‘n straat duidelik sigbaar in die lang gapings tussen die lae paviljoene.

Daar is dan nog ‘n ander element wat die vonkel uit die atmosfeer suig. Die primitiewe sportgronde in Nieu-Seelandse het altyd ‘n aantal Nieu-Seelanders in die paviljoene tydens wedstryde. Dit is, trouens, een van die groot nadele van die hele Nieu-Seeland: Maak nie saak waar jy gaan nie, daar is altyd ‘n goeie kans dat jy in ‘n Nieu-Seelander gaan vasloop. Is dit die triestige eiland wat die Nieu-Seelander die droewige wese maak wat hy is, of is dit die Nieu-Seelander wat die eiland nog ellendiger as die natuurlike toestande maak?

Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat ek geen smaak het vir die Nieu-Seelanders het nie. Ek het nie vergeet hoe selfverhewe hulle in 1981 teen die Springbokke betoog het nie. Daardie meelbomme het nie ver van waar hierdie eerste toets gespeel word op die speelveld van Carisbrooke geplof nie. En nou? Noudat hulle alles in Suid-Afrika gekry het waarvoor hulle so hartstogtelik gesanik het? Wat? Nie eers ‘n teesakkie uit ‘n mikrovliegtuig in protes teen die geweld wat Suid-Afrika so verspoel nie? Of wat van ‘n pakkie suiker uit ‘n modelhelikopter om teen plaasmoorde te agiteer? Wat? Niks? Dekselse spul anaal-retentiewe liberale.

Nou ja, daar is toe ‘n kriekettoets aan, ‘n belangrike een in ‘n belangrike reeks vir Suid-Afrika, een wat laat begin het omdat – natuurlik! – die oggendsessie uitgereën was. Graeme Smith het die loot verloor en vir sy sondes is hy en die Proteas deur Ross Taylor, die Kiwi-kaptein, ingestuur om te kolf op ‘n gekooktekondensmelkkleur blad.

Dié oppervlakte is veelseggend van die Nieu-Seelandse dilemma teen Suid-Afrika. Hulle het onlangs ‘n ongegronde vertroue in hulle naatbouleraanval opgebou en sou graag ‘n skerpwippende groen blad daarvoor wou aanlê. Maar dit is presies die blad wat Suid-Afrika se intimiderende kwartet van Steyn, Morkel, Philander en Kallis ‘n verwoestende offensiewe mag sal maak. Duidelik het die Swart Keps-kolwers nie vir dit kans gesien nie. So: ‘n Sawwe blad wat nie venyn of swaai tot die bal sal voeg nie.

Graeme Smith en Alviro Petersen het die veldtog teen ‘n bedeesde boulaanval begin. Daar was nou regtig geen pofadders wat na hulle geslinger is nie. Die bal het nie gesuis of geswaai nie en beide kolwers het min moeite gehad om die bal telkens vol in die tande te slaan nie, totdat Petersen ‘n ondreigende bal van Boult onverklaarbaar gemis het en been voor paaltjie omgekom het.

Die werklike interessante stryd was dié tussen Graeme Smith, sy eie krom tegniek en sy persoonlikheid. Biff is nou nie by ‘n kruispad in sy loopbaan nie, maar dan beslis in ‘n belangrike trajek wat die oorlewing van sy krieketlewe kan bepaal. As hy nie die soort dominerende vorm wat van hom ‘n fors in die sport gemaak het, vinnig herontdek nie, kan hy hom in die poorte wat na die buitenste duisternis lei, bevind. Dit is nie net dat hy lanklaas bestendig hoë tellings aangeteken het nie. Die werklike onsekerheid gaan oor sy vermoë om sy gebrekkige tegniek só te gebruik dat hy steeds ‘n betroubare aanvangskolwer sal wees.

Sy probleem is ‘n oordrewe onderhandgreep op die kolfsteel. Dit veroorsaak dat hy die vooraansig van die kolf voortdurend na die bykant draai. Dit dra by om hom verwoestend na die bykant toe te maak. Enige bal in lyn met sy penne of na sy bene, smeer hy as ‘n reël brutaal na die grens. Dit is aan sy wegkant waar die kat dood is. Om die kolfvooraansig oop te dwing, moet hy sy bohand se elmboog ver van sy lyf af sleep. As die bal wyd genoeg is, kry hy dit wonderbaarlik genoeg gedoen en wanneer hy in vorm is, kan hy die bal reëlmatig deur die dekke kasty. Dis egter wanneer die bal in daardie breë strook van onsekerheid buite sy wegpen deurkom, wat die ellende begin. Dit is daar wat hy met ‘n geslote kolfvooraansig na die balle voel of kap en wat so dikwels veroorsaak dat hy in die glippe gevang word of die bal in sy paaltjies afkaats.

Wat hierdie selfstruweling van Smith soveel fassinerender maak, is sy persoonlikheid. Hy is ‘n bombastiese kolwer wat daarin glo om die inkomende aanval te oorheers. Biff Smith domineer eenvoudig, of hy wórd gedomineer. Hy is kwesbaar teen ‘n goedontwerpte plan wat volgehou word, en sy verdediging daarteen is om die boulwerk aan te val totdat die bouler van die plan afsien. Wanneer Smith eers vasval teen ‘n bouler en sy bewegings word styf en hy begin blindelings tas na die bal buite sy wegpen en aflewerings klop sy buiterand ‘n paar keer, dan weet almal sy vertrek is naby.

In die eerste sessie, in dié geval die een voor tee, was dit Smith wat oorheers het. Hy het stelling regoor sy wegpen ingeneem en elke bal wat hy kon gehaak of getrek of na diepweg gedryf. Sy vyftigtal het betreklik geredelik gekom.

Suid-Afrika het, om die waarheid te sê, heel vloeiend tot teetyd gekolf, met Smith wat die boulwerk geboelie het en Hashim Amla wat moeiteloos lopies orals aangeteken het. Teen teetyd was die Proteas op 86 vir een met Smith op 53 en Amla met 27 in die sakkie.

Wat ‘n verskil kan ‘n teetyd nie maak nie.

Chris Martin lyk soos ‘n apteker, veral in sy krieketwitte, en sy boulwerk is nie die stoffasie van nagmerries nie, maar vir een of ander rede is hy Suid-Afrika se tokkelos. Onmiddellik na tee keer hy vir Smith vas en in plaas daarvan dat die kaptein diep asem haal, homself geduld in praat en van vooraf aan sy beurt werk, begin hy sy kolf buite die wegpen waai na balle wat hy net sowel kon gelos het. Die einde was net om die draai en het met die laaste bal van die boulbeurt gekom toe Smith uiteindelik ‘n wye bal gesien het. Hy het gereken hy kan dit dryf maar het dit sagkens na die vlakdekpunt veldwerker geskep.

In sy volgende boulbeurt het Martin twee vernietigende nulletjies op die SA kolfkaart ingeskryf. Kallis het ‘n bal van die wegpen af na ‘n glip geknikker en AB de Villiers het sy eerste bal op die beenskut ontvang vir ‘n BVP.

Amla het sy naatlose gang gegaan voordat hy ‘n Vettori-aanbieding aangegee het na Kruger van Wyk agter die penne.

Jacques Rudolph het intussen voortgegaan om die werk te doen waarvoor hy as nommer 6 op die kolflys gekies is: Hy het sy paaltjie verdedig en aangehou lopies maak. Boucher het kom aansluit, die ene malende kiesspiere en konsentrasie, maar ‘n onbesonne poging tot ‘n lopie het hom sy paaltjie met ‘n uithardloop gekos.

Steyn het kom kolf en gedoen wat hy doen. Hy het ‘n interessante tegniek. Hy bring sy kolf in lyn met die bal, halt en dan stamp hy die bal met so ‘n kort houtjie. Bracewell het naderhand die Steyn-buiterand getref en die Protea is na ‘n wiggelary van Guptill en Taylor uitgevang.

Philander het ingeslenter gekom en hy en Jacques Rudolph het gou daarna die honde op hok gesit en gespeel om tot die einde te oorleef. Dit het hulle gedoen, hoewel Rudolph morsdood been-voor-paaltjie was teen Bracewell, net om Lasarus te word toe die kykweer gewys het die bouler het oorgetrap.

Die Nieu-Seelanders is ongetwyfeld in ekstase en hulle verdien dit met die ses paaltjies wat hulle vir net 105 lopies in die laaste sessie gekoop het. Hulle droom ongetwyfeld nou reeds van ‘n reeksoorwinning, maar die laaste rites is nog nie in hierdie wedstryd geprewel nie. As Suid-Afrika nog 50 lopies in môre se oggendsessie kan maak, sal Nieu-Seeland 350 of beter in hulle eerste beurt moet aanteken. Hulle sal eers moet bewys dat hulle die ruggraat daarvoor het teen ‘n vlamspuwende Suid-Afrikaanse bouloffensief.

Geen span speel deur ‘n toetsreeks sonder ‘n rampspoedige sessie iewers in die proses nie. Hierdie kon wel Suid-Afrika s’n gewees het. Nieu-Seeland sal nie op nog ‘n paar van Suid-Afrika kan staatmaak nie. Vir julle Suid-Afrikaners wat tydelik uitgewyk het na die mistige eiland totdat die Volkstaat ingerig is, gaan sê dit vir hulle.

En sê sommer hulle kan my ma se voormalige skoondogter maar hou. Hulle verdien haar en ek wens hulle sterkte daarmee toe.

данильченко юрий брониславович прокурор

Comments

Leave a Reply