Onophoudelike nuus oor Mandela se afsterwe het blykbaar die regering en sy buitelandse aanhangers tot inkeer gebring.
‘n Taakspan bestaande uit plaaslike en buitelandse media- en regeringsamptenare sal ingestel word om toekomstige nuusberigte oor oud-president Nelson Mandela se gesondheid te hanteer.
Regeringswoordvoerder Jimmy Manyi het gesê die besluit om die span te vorm, is geneem tydens ‘n vergadering tussen die media en verteenwoordigers van die regering Maandag.
“Die karakter van die vergadering was baie positief. Daar was ‘n samevloeiing en instemming betreffende die kommer oor die oud-president Nelson Mandela,” het hy in ‘n verklaring gesê.
“Alle partye het waardering uitgespreek vir die kommer oor Madiba se privaatheid en vir sensitiwiteit in die kommunikasie oor sy gesondheidstatus.”
Die taakspan sal bespreek hoe Mandela se moontlike hospitaalbesoeke in die toekoms bestuur moet word.
“Alle partye het weer onderneem om nie ‘n negatiewe impak op Madiba se waardigheid en sy familie se privaatheid te maak nie.”
Die presidensie het gesê Mandela is ontslaan uit ‘n onbekende hospitaal Sondag, nadat hy Saterdagoggend vir ‘n maagkwaal daar behandel is.
Minister van Verdediging, Lindiwe Sisulu het gesê daar is “niks verkeerd” met Mandela nie en dat hy ‘n laparoskopie ondergaan het.
Op 26 Januarie 2011, het ‘n gebrek aan inligting oor Mandela se toelating tot die Milpark-hospitaal in Johannesburg vir ‘n respiratoriese infeksie, verslae van sy dood op Twitter laat sirkuleer.
Dit het later na vore gekom dat daar ‘n “turfoorlog” woed oor wie die vloei van inligting oor Mandela se gesondheid moet hanteer.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.