Bewyse van tenderbedrog is glo deur die Valke gekry in hul ondersoek na die sakebelange van Julius Malema.
Luidens ‘n berig in die Sunday Independent is dit nie meer “of” nie, maar eerder “wanneer” Malema voor die hof gesleep word.
Die leier van die ANC-jeugliga gebruik glo die Ratanang-trust om omkoopgeld te kanaliseer.
Senior ANC-amptenare word glo by die ondersoek betrek wat die doen en late van SGL Engineering, ‘n sustermaatskappy van On-Point Engineering, ondersoek.
Malema was ‘n direkteur toe tenders ter waarde van miljoene deur owerhede in Limpopo goedgekeur is.
Die ondersoek van die trustfonds dateer terug tot 2004, met SGLonder die soeklig vanaf 2007.
Alhoewel sekere ANC-lede aandring dat die ondersoek nie polities gemotiveer is nie, het spanning onder Malema se bondgenote opgelaai.
Die ondersoek is duur al geruime tyd, volgens kol. McIntosh Polela, Valke-woordvoerder. Hy wou egter nie oor hulle vordering met die ondersoek uitbrei nie.
Die Burger het Sondag ontdek dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ook reeds genader is om die Valke met die ondersoek te help. Die NVG se batebeslagleggingseenheid is eweneens betrokke.
“Sover ek bewus is, is daar geen ondersoek [teen Malema] nie, ook nie deur die NVG se batebeslagleggingseenheid nie.”
Malema was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Hy is tans in Mauritius waar hy vakansie hou.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.