Slegs 53% van graad 4 se wiskunde-onderwysers kon drie jaar gelede ‘n eenvoudige breukvraag wat gebaseer is op die graad 6-kurrikulum, korrek beantwoord, het ‘n studie bevind.
Slegs 72% van graad 5 se wiskunde-onderwysers het dieselfde vraag, naamlik 1/4 + 3/5, reg gehad in 2009.
Die studie is gedoen deur die JET Education Services in 268 skole in agt provinsies, met Gauteng uitgesluit. Navorsers het 8 383 kinders oor ‘n tydperk van drie jaar vanaf graad 3 in 2007 tot graad 5 in 2009 gevolg.
JET se senior navorser dr Nick Taylor het gesê die gebrekkige vakkennis van onderwysers “moet ‘n diepgaande uitwerking op kinders hê”.
“Onderwysers kan nie oordra wat hulle nie ken nie nie,” het hy gesê.
Die impak van hul gebrekkige kennis word vererger omdat baie leerders nie behoorlike toegang tot handboeke het nie en “byna geheel en al afhanklik van hulle onderwysers vir kennis is”, het Taylor gesê.
Die studie maak deel uit van die 3Rs-projek waartydens verskeie organisasies, waaronder die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, gesyferdheid en geletterdheid in skole nagevors het.
Die studie het ook bevind dat die “oorweldigende meerderheid” van wiskunde-onderwysers uitdagende onderwerpe vermy. Gemiddeld slegs 24% van die onderwerpe in die wiskunde-kurrikulum is in Graad 4 en 5 gedek. Onderwysers dek die “eenvoudigste van onderwerpe” en die meeste gee klas in ‘n “meganiese [en] prosedurestyl”.
“Hierdie praktyk het rampspoedige gevolge op die wiskundige kennis waaraan leerders blootgestel word.”
Navorsers het bevind dat uitgebreide stelwerkoefeninge “baie selde in Suid-Afrikaanse klaskamers” voorkom, wat “een van die grootste tekortkominge van skole is”.
Graad 5’e in die Oos-Kaap het slegs twee keer per jaar paragrawe of langer skryfoefeninge geskryf, terwyl die Wes-Kaapse leerlinge dit byna agt keer ‘n jaar gedoen het.
Indien leerlinge nie genoeg behoorlike skryfoefeninge doen nie, sal hulle sukkel om inligting later te ontleed en te interpreteer, het Taylor gewaarsku.
Van Graad 4 se leerlinge het 44% en 32% van die graad 5-klasse nie enige paragrawe in ‘n jaar geskryf nie, wat “ontstellend” is.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.