Adjunkpresident Kgalema Motlanthe kom Dinsdag in Sjina aan op ‘n besoek wat daarop gemik is om politieke en ekonomiese bande tussen die lande te versterk.
Te midde van ‘n trae internasionale ekonomie wend talle moondhede hulle tot die wêreld se naasgrootste ekonomie vir beleggings en handelsgeleenthede.
Suid-Afrika en Sjina het reeds sterk bilaterale betrekkinge sowel as samewerking binne die Brics-groep.
Die Oosterse reus ontkom egter nie heeltemal aan die woelinge in die internasionale ekonomie nie. Volgens berigte het Sjina se reuse vervaardigingsektor vir die derde agtereenvolgende maand gekrimp, wat tot verdere senuagtigheid op wêreldmarkte aanleiding gee.
Die Griekse minister van Finansies, Evangelos Venizelos het berigte verwerp dat hy die moontlikheid van beheerde wanbetaling met die hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, Christine Lagarde en die hoof van die Europese Sentrale Bank, Jean-Claude Trichet bespreek het.
Intussen is meer besonderhede bekend oor ‘n omvattende plan wat waarop gemik is om die skuldkrisis in die Euro-gebied op te los. Diegene wat die vergadering van die IMF in Washington bygewoon het sê banke en ander instellings wat Griekse skuldeisers is, sal ‘n verlies van 50 persent van die waarde van die skuld moet aanvaar.
Intussen het Europese aandeelpryse verstewig ná verlede week se verliese, terwyl beleggers reageer op die nuus van ‘n omvattende plan om die Europese skuldkrisis onder beheer te bring.
Die hoofbeurs in Frankfurt het met meer as drie persent gestyg. In reaksie hierop het die markte in New York ook stewiger geopen.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.