Onthou die ou SA was nie uitstekend omdat die Afrikaner ‘n goeie Christen was nie maar omdat hy gesorg het vir die uitbou van infrastruktuur, die ontwikkeling van nywerhede en die opvoeding van sy nageslag, wat alles tot ‘n hoër lewensstandaard gelei het.
Dit is opvallend dat op Praag se webwerf onder die hoof Tegnologie/Wetenskap nie ‘n enkele bydrae gelewer word nie! Hier faal Praag net so soos die res van die SA-media en spesifiek die SABC wat slegs oor kunsprojekte kan praat as dit kom by projekte om mense te leer om self iets ter verbetering van hul lewensstandaard te doen.
Soos Dan in sy “Voorwaarts na vryheid?” skryf sal demografie ons niks bring nie want getalle verander voortdurend in ons onguns. In 1913 skryf Sol Plaatje van die onregverdigheid dat 25% van die bevolking 80% van grond besit.
Dink net wat ons met ons wetenskaplike/tegnologiese kundigheid vandag op net 25% van SA se grond kon uitrig, ons sou die Taiwan, of Singapoer van Afrika kon wees. Tans word ons dominante posisie op die kontinent meer en meer afgewater of vervrot net eenvoudig onder wanbestuur (sien hospitale, Eskom, Telkom, watervoorsiening, afwaterbehandeling, padbou en -instandhouding), of word aan buitelanders verkoop. (Sien Yskor, ABSA, SASOL, ens)
Dit is ons egter nie beskore om 25% van die land te bekom nie en sal ons ons lot moet aanvaar en die kundigheid en intelektuele vaardighede wat ons van die res onderskei, ten volle tot ons voordeel moet uitbou. Wiskunde en Wetenskap op skool moet verpligtend vir elk van ons kinders onder bekwame onderwysers wees, asook hoër opleiding of dit nou op universiteitsvlak, tegnikons of ambagskole is. Ons moet dus ‘n intelektuele republiek binne die huidige SA wees, ten spyte die druk op grondbesit.
Ons tegnologiese maatskapye moet ferm in ons hande bly, ons moet produkte van uitstaande kwaliteit vervaardig vir uitvoer en binnelandse markte, en diens op so ‘n uitstekend vlak kan lewer dat ook die staat dit sal aankoop ten spyte van ‘n gebrek aan regstellende aksie in sodanige bedrywe.
Terloops ons wetenskaplik/tegnologiese kundigheid sluit die suksesvolle kommersiële boerdery in. Kyk net wat gebeur as daardie kundigheid van die plaas af verwyder word!
Ons moet ons lewensuitkyk sodanig aanpas dat ons goeie infrastruktuur en tegnologiese produkte nie as iets vanselfsprekend aanvaar nie, maar moet besef, en sorg dat ons kinders besef dat dit deur goedopgeleide persone met ‘n roeping in hull lewe daargestel is. Ons moet aan ons kinders uitstaande wetenskaplikes/tegnoloë/ingenieurs as rolmodelle voorstel. Wie weet nog hoekom die dorp langs Vereniging Vanderbijlpark genoem is? Ons moet protesteer as Vanderbijlplein in Johannesburg na ‘n politikus hernoem word.
Ons moet ons daarvoor beywer dat toekomstig opkomende bedrywe vrygestel word van regstellende aksie en SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging), en aandring dat sodanige bedrywe bloot op goeie besigheidsbeginsels bestuur mag word. Ons moet voorduurend aandring dat kwotastelsels en regstellende aksie en SEB ‘n enddatum in die nabye toekoms kry.
Mooi gedigte, pragtige skilderye, hoogstaande letterkundige werke en ander vorme van kuns kan nie die basis vir ‘n lewenvatbare toekoms wees nie, ofskoon dit belangrik is en die lewe mooi maak, kan dit nie kos op die tafel van die volk bring nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.