In ‘n rubriek wat Donderdag in The Star gepubliseer is, kritiseer de Vos regter Colin Lamont se uitspraak en sê dit is gebaseer op rasse-stereotipes.
Die uitspraak beteken dat enigiemand wat die lied sing, aangehou kan word vir minagting van die hof, skryf hy.
“Dít in my opinie kom neer op ‘n absurde en drastiese skending van die reg op vryheid van spraak wat nie deur die Wet op Gelykheid regverdig word nie – selfs gegewe die omvattende bepalings van die wet.”
Lamont het Maandag beslis dat Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, se sing van die woorde “awudubule ibhunu” by openbare saamtrekke, neerkom op haatspraak en boere bedreig.
Die regter het Malema en die ANC verbied om die woorde in die openbaar en privaat te sing.
De Vos skryf verder in die rubriek dat Lamont die samelewing in terme van ras in ‘n minderheids- en meerderheidsgroep verdeel.
“Die essensialistiese en simplistiese skeidings van Suid-Afrikaners in verskillende rassegroepe kan as problematies gesien word.”
Die jeugliga het Woensdag aangekondig dat hy die beslissing tot in die konstitusionele hof sal beveg en die parlement sal nader vir wetgewing om liedjies wat deel van die ANC se erfenis is, te beskerm.
De Vos het gesê deel van die probleem met Lamont se beslissing is, in sy opinie, dat die gedeelte oor haatspraak in die Wet op Gelykheid self, te breedvoerig is.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.