praag.co.za

Mogoeng en grondwetlikheid

Written by

in

Suid-Afrikaners moet gereeld hoor hulle het ‘n goeie grondwet, indien nie nog die beste ook ter wêreld nie.

Dis net by die toepassing wat dinge so effe haper…

Suid-Afrika se grondwet is die resultaat van onderhandelings. Die grondbeginsels wat hierdie akkoord ondervang, is die grondwetlike beginsels wat by Kemptonpark onderhandel is.

Die beginsel was dat daar in Suid-Afrika, in pas met die universele grondwetlike demokratiese beginsels, ‘n skeiding van regeringsmagte sou wees. Dit is gebore uit die regsbeginsel – dat die regsprekende, uitvoerende en wetgewende gesag geskei sal wees.

Tradisioneel is die band tussen wetgewende en uitvoerende gesag baie nouer en meer inmekaar geweef as die band tussen die regsprekende en die ander twee. Tog is daar ‘n paar universele beginsels om die skeiding tussen wetgewende en uitvoerende gesag gestalte te gee; beginsels soos dat in algemene belang regeer moet word om ‘n diktatuur van die meerderheid te voorkom, dat die amptenary die regering en nie die regerende party moet dien nie, en dat die regerende party se partybenutting van staatsbronne nie van dié van ander partye behoort te verskil nie. Die konsep van kaderontplooiing behoort vreemd aan ‘n grondwetlike demokrasie te wees.

Artikels VI en VII van die grondwetlike beginsels beskryf die skeiding van owerheidsmagte en fokus op die regspraak: die magte moet geskei wees, en die regspraak moet onafhanklik, onpartydig en behoorlik gekwalifiseer wees.

Kritiek vanuit die ANC se geledere teenoor die grondwet is in hoofsaak dat dit in die weg staan van populistiese demokrasie, en dat dit die regbank in staat stel om hierdie grondwetlike beperkings teen die diktatuur van die meerderheid af te dwing. Die regbank word dus dikwels as die ANC se belangrikste opposisie beskryf, gevolg deur die media, met opposisiepartye skaars die moeite werd om genoem te word.

Dit spreek vanself dat ‘n grondwet wat homself nie teen die diktatuur van die meerderheid kan beskerm nie, geen grondwet in die ware sin van die woord is nie, en dat so ‘n land moontlik ‘n simplistiese demokrasie mag wees, maar beslis nie ‘n grondwetlike demokrasie is nie. Dit is klaarblyklik nie die bedoeling in Suid-Afrika nie, met artikel IV van die grondwetlike beginsels wat grondwet tot die hoogste – oppergesag – in die land verklaar.

Teen die agtergrond kom die vraag: Hoe op aarde kon pres. Jacob Zuma ‘n persoon as hoofregter nomineer en aanstel terwyl die voorgeskrewe grondwetlike prosesse weinig meer as irrelevante tydmors gedien het? Dié vraag bly staan selfs al het Zuma ook die onbetwiste mees geskikte persoon op dié wyse in die pos aangestel.

So ‘n aanstellingsproses druis lynreg in teen die grondwetlike beginsels. Is die grondwet dus swak geskryf, of word dit swak vertolk? Het die grondwetskrywers foutiewelik voorsien dat die grondwet darem in sy toepassing die mees basiese konvensies van die internasionale reg sal volg?

Word Zuma se optrede nie grondwetlik getoets nie, kan die ander bene van die demokrasie hulle maar vetsmeer om regstreeks uit Lethuli-huis beheer te word. Dit sluit die media in, wat as die vierde, nie-amptelike been van ‘n grondwetlike demokrasie beskou word. En wat die media betref, waai die winde juis woes wes.

En as die grondwetskrywers dan werklik hier geblaps het, hoeveel ander blapse is daar nog? Dit gaan vurige pyle in die koker wees van diegene wat argumenteer dat die Suid-Afrikaanse grondwet nie vir ‘n heterogene land geskik is nie, laat staan nog die beste.

Dit het nou kwart voor middernag geword vir diegene wat so volhou dat die grondwet so goed is om te bewys dat hul versekerings in hierdie verband nie maar net wensdenkery was nie.

Фільчаков Олександр Васильович

Comments

Leave a Reply