Dr. Mulder het as hoof van die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die Cairns-groep se 36ste ministeriële vergadering in Saskatoon, Kanada aan die bespreking rakende die Doha-onderhandelinge deelgeneem.
Die Cairns-groep bestaan uit 19 voedseluitvoerlande wat hulle beywer vir billike en vrye internasionale handel van landbouprodukte. Tans is dit veral lande soos die VSA en die Europese Unie wat met groot landbousubsidies die internasionale mark verwring en dit baie moeilik maak vir onder andere Suid-Afrikaanse landbouers om internasionaal op gelyke vlak te kan meeding.
Suid-Afrika is die enigste Afrikaland wat lid van die Cairns-groep is.
“Landbou is steeds een van die sektore in die wêreld wat die meeste verwringing van markte ervaar. Dit moet reggestel word. Daarom is voorstelle van lande soos die VSA dat daar van die Doha-mandaat afgestap moet word, onaanvaarbaar,” het dr. Mulder gesê.
Volgens dr. Mulder ondersteun Suid-Afrika die G20-standpunt dat al die beperkinge wat tans deur lande op die uit- en invoer van voedsel geplaas word, net daartoe lei dat dié mense wat voedsel die nodigste het, die swaarste onder hierdie onbillike reëls ly.
Die vergadering van ministers vind oor twee dae plaas en duur nog tot Vrydag 9 September 2011.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.