Net soos destyds, is daar vandag ook drie soorte Afrikaners: dié met Engelse harte, dié met emgrasieharte en dié met Afrikaanse harte. Standaardafrikaans, dít wat deur ons voorouers met soveel sorg en toewyding geskep is, word vandag met minagting deur die openbare uitsaaier, asook sekere sangers, joernaliste en ander figure behandel.
Maar net soos Afrikaans in die twingtigste eeu stukrag aan die Afrikanerbeweging verleen het, het die taal meer onlangs die verskuilde totalitarisme van die huidige “demokratiese” bestel aan die kaak gestel. Die feit dat die huidige Suid-Afrika hoegenaamd geen poging eens aanwend om reg aan taalgelykheid te laat geskied soos dit in ander lande die geval is nie, maak juis ‘n bespotting van die gewaande “demokrasie” waarop die huidige regime en meelopers so trots is.
By denkende Afrikaners is daar lank nie meer twyfel dat Afrikaans en die Afrikaanse kultuur net tot sy reg sal kom binne ‘n eie volkstaat of onafhanklike republiek nie. Tydens die negentiende eeu was die Afrikaanse taalbeweging, soos die Groot Trek en Vryheidsoorloë, insgelyks ‘n uiting van die drang na vryheid, onafhanklikheid en selfbeskikking.
Ironies genoeg is die Afrikaner onlangs sy selfbeskikking en taalregte ontneem op ‘n tydstip toe soveel ander volkere ter wêreld juis hulle s’n herwin het. Die nuwe state van Oos-Europa, die Balkans, die Baltiese state, Eritrea en meer onlangs Suid-Soedan, getuig van die afgang van groot imperiale ryke en die opkoms van nasionale state oor die hele wêreld heen. Oral, behalwe in Suid-Afrika.
Die verval van die grondwetlike bepalings oor taalgelykheid asook die liggaam PANSAT wat veronderstel was om daaroor te waak, is tekenend van die mislukking van die eenheidstaat, Suid-Afrika. PANSAT het sedert sy totstandkoming in 1994 nog geen poging aangewend om grondwetlike taalregte te beskerm nie en verskeie hoofde van dié liggaam is al vir korrupsie of wanbesteding ondersoek of ontslaan. Wanneer ons van taalregte in Suid-Afrika praat, is dit min of meer op die vlak van menseregte in Idi Amin se Oeganda. Amin het sy vyande vir die krokodille gevoer en sedert 1994 is Afrikaans vir die krokodille gevoer.
Nietemin is dit belangrik dat Afrikaners soveel amptelike klagtes oor taaldiskriminasie, sowel by PANSAT as by ander liggame, selfs internasionale instansies en buitelandse ambassades, indien ten einde die konstitusionele klug van Suid-Afrikaanse “demokrasie” nog verder aan die kaak te stel.
Ons weet dat PANSAT hoegenaamd nie sal optree om Afrikaanse taalregte te herstel nie. Maar die rekord wat ons opbou oor hoe ons klagtes geïgnoreer word, sal tot ons uiteindelike vrywording bydra.
Min ander volke moes seker al 136 jaar lank vir hul taalregte stry. Die Afrikaner het egter al getoon dat hy nooit tou opgooi as dit by sy taal kom nie. Afrikaans is een van die min tale, indien nie die enigste nie, wat die volle aanslag van die Britse kolonialisme en taalverdrukking oorleef het. In die Verenigde Koninkryk self het Wallies, Iers en Skots grotendeels uitgesterf en word nie in die handel, op skool en aan die universiteite gebruik nie.
Ons moedig elke Afrikaner aan om soveel klagtes by PANSAT oor taaldiskriminasie teen Afrikaans in te dien. U kan ook u klagtes aan inlig@praag.org stuur waar ons hulle namens u sal indien. Die manier waarop ‘n politieke party soos die DA, wat onlangs in groot getalle deur Afrikaners by die stembus ondersteun is, ook Afrikaans misken deur ‘n eentalig-Engelse webwerf en mediaverklarings, verdien insgelyks ‘n klagte by PANSAT en ander instellings.
Nog ‘n manier waarop Afrikaners daagliks hul verset teen verengelsing kan toon, is deur in Afrikaans op Engelstalige webwerwe in die land kommentaar te lewer. Dít, in antwoord op die mediamaatskappye wat almal die gewoonte het om Engelstalige advertensies op Afrikaanse kykers af te dwing of sommer ellelange Engelse insetsels oor die lug uit te saai.
Die Afrikaner het rede om trots op sy geskiedenis van taalstryd te wees. Alle sprekers van Germaanse tale wêreldwyd bewonder ons daarvoor, tot in Skandinawië.
Laat ons daardie grootse tradisie met meer ywer as ooit voortsit!
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.