Pick a battle big enough to matter, but small enough to win. – Jonathan Kozol
Dr. Roodt … Dan, ek het die grootste respek (en bewondering) vir jou as persoon, vir dit waarvoor jy staan en vir dit wat jy in belang van die Afrikaner doen. Ek is egter bevrees dat die stryd om daardie kaart van die Afrikaner Republiek verwesenlik te sien, eenvoudig te groot is om te kan wen.
Ons weet dit mos teen hierdie tyd: die ANC-regering gun die blanke – en die Afrikaner insonder – bitter min. Om dus selfs eens te dink dat hulle byna die helfte van hulle grondgebied sal afstaan – en dit nogal aan die gehate Afrikaner – is dus ‘n hersenskim. Kan nie gebeur nie. Sal nie gebeur nie. Met respek gesê, daardie kaart moet maar snippermandjie toe. Ek glo dat dit heeltemal onverdedigbaar teenoor ons vyande is, en as sodanig benadeel dit die volkstaat-ideaal.
1. ‘n Taakspan van denkers, sakelui, ekonome, entepreneurs en ander belanghebbendes stel ‘n sakeplan opstel vir die skepping van ‘n maatskappy wat ‘n lewensvatbare produk kan lewer (hoë-tegnologie?).
Die fokus moet van meet af aan op ‘n sakeplan val eerder as op ‘n volledig-uitgewerkte volkstaatplan, waaroor daar tot hiertoe oneindige warmwind-debatte gevoer is – A wil ‘n teosentriese volkstaat hê, B wil ‘n sekulêre opset sien, C wil slegs etniese Afrikaners daar sien, D wil alle enersdenkendes akkommodeer, ad nauseam – en op dié kleinlike gekrabbel knars die hele debat telkens tot ‘n vernederende stilstand.
Die werklikhede van die Maatskappy se funksionering moet tot die evolusionêre uitkristalisering van die Ideaal lei.
2. Kry beleggers om in die maatskappy te belê – diegene wat direk in die Maatskappy wil belê (volkstaters), maar ook ander wat bereid is om aanvanklik net finansieel te belê, terwyl hulle eers die kat uit die boom beloer met die oog op latere toetrede.
Diegene wat bereid is om eerste in die Maatskappy te belê gaan die grootste rigtinggewers tot die bereiking van die Ideaal wees. Dit gaan myns insiens ‘n oneindige spul impotente en grootdoenerige retoriek van die Leëblik Brigade uitskakel.
3. Met ‘n deel van die beleggingskapitaal, koop plase aan die dunbevolkte Weskus (toegang tot die see) op en vestig die maatskappystruktuur daarop. (Die embrionale volkstaat.) Die aanvanklike grootte van die maatskappy se terrein is nie van onmiddellike belang nie.
4. Die Bestuur, die mense wat die grootste aanvanklike inset sal moet maak, van die Maatskappy (kompleet met korporatiewe embleem en (oranje-wit-en-blou?) kleure) sal die de facto “regering” van die volkstaat-in-die-kleine vorm. Dit sal ‘n eerste volksraadsverkiesing met sy gevolglike kleinlike politiekery, onderlinge gevegte en bekgevegte uitskakel: Besturende Direkteur (President), Bestuurder (lees: Minister van): Finansies, Bestuurder: Sekerheid, Bestuurder: Personeel, ens. Met ‘n Roterende Voorsitter op vergaderings kan almal op die Direksie die geleentheid kry om sy staal te wys.
5. Met die korporatiewe Credo van die Maatskappy wat aan alle aansoekers en toetreders as toetredingsvereiste voorgehou word, kan die Maatskappy met kern- en bykomstige personeel beman word.
Namate die Maatsappy middelpuntvlietend groei en sy strukture ‘n meer politieke beslag kry, kan verdere grondgebied – plase waarop koop-opsies vroeër geneem is – bygekoop word om sy grondgebied te vergroot. Voornemende volkstaters kan hulle eie kapitaal binnebring en satelliet-industrieë kan gevestig word.
Uiteindelik sal dit van Maatskappy en sy mense self afhang of hy homself aan die wêreld kan verkoop om steun vir politieke onafhanklikheid te verkry. Selfs indien nie, sal dit nog steeds ‘n magneet-sentrum kan vorm om Afrikanerbelange en -kultuur te konsolideer.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.