Noord van Harare word ‘n yslike nuwe militêre kollege opgerig, ‘n monument vir China se stewige houvas op Zimbabwe.Dié kompleks is ook ‘n simbool van die groeiende ongemak met Chinese werkgewers. Swart werkers het reeds gestaak in protes teen mishandeling deur hul Chinese base en te lae lone.
Twee weke gelede het die werkers ‘n loonverhoging geëis en ook gekla dat hulle deur Chinese base aangerand word.
Zimbabwe het $98 miljoen vir die kollege se oprigting ontvang wat deur ‘n Chinese kontrakteur onderneem word. Die lening sal terugbetaal word oor ‘n tydperk van 20 jaar uit die verdienste van die Chiadzwa-diamantvelde wat deur Anjin Investments, nog ‘n Chinese maatskappy, gemyn word.
Maar dis nie net ‘n belangstelling in minerale wat die Chinese aanlok nie. Harare is deesdae is advertensie van alles wat Chinees is. Van Oosterse kos, restaurante en kruiemiddels, tot klere en kleinhandelsware, is deesdae beskikbaar.
Diplomate en Zimbawiërs met ‘n bietjie geld, eet graag by China Garden, ‘n voorstedelike Chinese restaurant met helderkleurige goue drake by die ingang.
Maar verlede maand het ‘n swart kok sy werk by die restaurant bedank, nadat hy deur sy Oosterse base geslaan is. Die werknemer het aan die dagblad NewsDay gesê dis “hel op aarde” om vir Chinese te werk. “Die meeste van ons ly in stilte, maar ek het besluit ek kan net só ver gaan en nie verder nie.”
Die meeste van die Chinese werkgewers spog glo openlik dat hulle die Zimbawiese regering se beskerming geniet en dat niks aan hulle gedoen kan word nie.
Die nasionale mynwerkersunie van Zimbabwe word dikwels toegang tot die perseel van die Chinese myne geweier en vakbondleiers kla dat veiligheidsmaatreëls nie naastenby goed genoeg is nie.
Die owerhede wys werkers se klagtes van die hand om hulle ekonomiese belange te beskerm. Die adjunk-eersteminister Arthur Mutambara sê Zimbabwe nie kan bekostig om die Oosterse ekonomiese reus te ignoreer nie.
Verlede week het die Chinese Kommunistiese Party ‘n afvaardiging gestuur om ondersoek in te stel na hoe die Chinese burgers met die plaaslike bevolking van Zimbabwe oor die weg kom. Die afvaardiging het gesê hulle wil kom “leer” van die land en sy mense.
Handel tussen die twee lande het verlede jaar $550 miljoen beloop, volgens die Chinese konsulaat. China beplan om tot $10 miljard se beleggings oor die volgende vyf jaar in Zimbabwe in te ploeg.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.