praag.co.za

Is Afrikanerpolitiek nou uitgedien?

Dan Roodt

Written by

in

“Die verlede is nooit dood nie,” het die Amerikaanse skrywer Wil­liam Faulkner gesê. “Dis nie eens verby nie.”

Vandaar die angsvallige wyse waarop die DA-munisipaliteit van Midvaal op die vooraand van die verkiesing van sy Verwoerd-standbeeld ontslae geraak het.

Tydens sy veldtog het die ANC hom selfs op die voorvaders beroep, asof die dooies soos zombies uit Harry Potter steeds die uitslag by die stembus kan bepaal.

Verlede Sondag gesels ek en Koos Malan oor sy nuwe boek, Politokrasie, en vra hy skielik vir my: “Wat sou jy sê is die hoofstroom onder die Afrikaners? Die Sap-tradisie of die Nat-tradisie?”

Sonder om te aarsel, het ons albei saamgestem die Sap-tradisie is die hoofstroom.

In dié opsig het die mantel van ’n groot Sap-leier reeds op mev. Helen Zille se skouers neergedaal. Sy herinner sterk aan Smuts se regterhand, Jan Hofmeyr, wat “geloof bo vrees” sy politieke beginsel gemaak en reeds in die veertigerjare die uitbreiding van stemreg aan swart mense bepleit het.

Indien dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus die erfgenaam van die Nat-tradisie is, het ons die afgelope week gesien hoe daardie tradisie ’n tweede dood gesterf het.

Die eerste was natuurlik nadat mnr. Marthinus van Schalkwyk die oorspronklike Nasionale Party in die dementor-agtige omhelsing van die ANC ingelei het, waarna die siel van die party uitgesuig is, soos dementors maak.

In Gauteng, die hartland van die VF+ waar ongeveer anderhalf miljoen Afrikaners woon, het die aantal munisipale raadslede van 17 tot 10 gedaal. Volgens Mulder het sy party “geen antwoord op die DA gehad nie”.

Die VF+ se steun het sedert 1994 met ’n faktor van tien afgeneem, van 6% tot ongeveer 0,6%, ’n droewige prestasie as daar al ooit een was. Terselfdertyd het die liberale DA se stempersentasie van 1% tot 24% gestyg.

Politieke partye is identiteit-skeppend. Juis omdat hulle aan die staat en sy vertakkinge soos munisipaliteite deelneem, beskik hulle oor die mag om ons kultuur en identiteit te verander.

Daarom sou die VF+ en elke ander stoere Afrikaner of Boer in die land ’n fout maak om die opmars van mev. Zille as ’n bloot pragmatiese verskynsel te sien. Die DA is besig om van meer as “die Verwoerd-probleem ontslae te raak”, soos mev. Zille dit minagtend ná afloop van die verkiesing gestel het. Dalk is die party insgelyks besig om van Suid-Afrika se Afrikanerprobleem ontslae te raak! En sodoende die ou, ou Sap-droom van een, onverdeelde Engelse nasie sienderoë te verwesenlik.

Die VF+, die IVP, ACDP en elke ander party wat hom op ’n spesifieke etniese of Christelike identiteit beroep, het die afgelope week by die verkeerde partytjie opgedaag. Of hulle was in die McDonald’s en het gedink hulle gaan bobotie-en-geelrys daar kan bestel.

Desnieteenstaande gaan die politieke zombies nooit heeltemal slaap nie. Kruger, Hertzog, Malan en Verwoerd spook steeds by ons. Indien Afrikaner-kwessies heeltemal uit die formele politiek sou verdwyn, gaan die droom van Afrikanervryheid heel waarskynlik buiteparlementêr bedryf word.

Terwyl Afrikaners in hul reënbooggewaad DA stem, is hulle op Facebook openlik chauvinisties, selfs rassisties, en hits Afrikaanse organisasies aan om nog meer hofsake teen Malema te maak. Steve Hofmeyr is al byna tot ’n onaantasbare, nasionalistiese ikoon verhef wat Eugène Terre’Blanche se stem as byklank op sy YouTube-video’s gebruik.

Omdat die politiek so ’n Machiavelliaanse spel is, is die onheiligste alliansies altyd moontlik, soos mev. Zille al telkens gedemonstreer het. Die mislukking van Afrikanerpolitici oor die laaste dekades is waarskynlik juis daaraan te wyte dat hulle ’n suiwer ideaal nagestreef het en nie bereid was om soms ’n bietjie te toi-toi nie.

Hierdie rubriek verskyn vandag ook as ‘n meningsartikel in Rapport.

освещение прихожей вДанильченко Юрий Брониславович

Comments

Leave a Reply