Die huidige vullisstaking in Johannesburg is besig om die aantal rotte vinnig te laat vermeerder. In die middestad waar hope vullis op die sypaadjies rondlê, meen straatsmouse dat die aantal rotte sedert die aanvang van die staking verdriedubbel het.
Volgens ‘n smous in Pleinstraat, is die rotte tans “baie gelukkig”.
“Al dié vullis is soos Kersfees vir die rotte. Hulle kan enigiets eet waarvan hulle hou, net wanneer hulle wil,” meen hy.
Volgens Gertrude Makondo, ‘n smous wat in Noordstraat handel dryf, “is daar meer rotte as gewoonlik. En hulle word groter. Hulle is nie vir mense bang nie, hulle kyk jou reguit in die oë en party het selfs baarde.”
Sibisiso Nvani erken dat hy minder sake doen as gevolg van die stinkende vullis en die rotte.
“Mense wil nie meer by ons koop nie. Hulle stap verby terwyl hulle hul neuse toehou want hulle wil aan die reuk ontkom. En as hulle die rotte sien, hardloop hulle weg.”
Die groot aantal rotte in die stad is insgelyks besig om in ‘n gesondheidsrisiko te ontaard. ‘n Afgetrede omgewingsgesondheidsbestuurder, Lucas Kunene, meen: “Johannesburg beskik nie oor ‘n strategiese plan om die rotplaag te beheer nie en dit is onaanvaarbaar. Rotte kan meer as 35 soorte siektes oordra. As ‘n besmette rot met ‘n mens in aanraking kom… deur urine of ontlasting, kan dit siektes soos Salmonellose of selfs Lassa-koors oordra.”
Die stad kon nie vir kommentaar oor die rotplaag bereik word nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.