praag.co.za

Ficksburg-skietery ‘n ‘waterskeiding’

Written by

in

Helen Zille, DA-leier, het Sondag gesê die skietery op Ficksburg sal eendag as ‘n waterskeiding in Suid-Afrika se geskiedenis beskou word.

Ses polisiebeamptes is in hegtenis geneem in verband met die dood van Andries Tatane, wat dood is tydens ‘n betoging oor dienslewering in Ficksburg, het die Onhafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) Sondag gesê.

“Die beeld van Andries Tatane wat deur die polisie geslaan en geskiet word, is in ons bewussyn ingebrand. Hy het geen misdaad gepleeg nie – hy het net betoog teen swak dienslewering in sy dorp,” het Zille gesê.

Die Jong Kommunisteliga van Suid-Afrika het die inhegtenisneming van die polisiebeamptes verwelkom.

“Hierdie vinnige inhegtenisneming… dui op die toewyding van die OKD om te verseker dat hierdie saak opgelos sal word,” het dié liggaam se woordvoerder, Mafika Mndebele, in ‘n verklaring gesê.

Cope het gesê die ses polisiebeamptes is eers in hegtenis geneem nadat aktiviste en die publiek druk op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, geplaas het om op te tree.

“Hierdie is ‘n bewys dat hoe meer aktief inwoners is, hoe minder sal oordadigheid in die regering geduld word,” het Philip Dexter, Cope-woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

Mthethwa self het Sondag die inhegtenisnemings verwelkom.

“Ons het verlede week gevra… dat die OKD hul werk sonder vrees of guns moet kan doen, en ons het volle vertroue in dié instelling.”

Hy het ook innige meegevoel teenoor Tatane se familie en vriende uitgespreek.

Die ministerie het gelet op aantygings dat Mthethwa ‘n defensiewe, reaktiewe benadering tot die voorval gevolg het. Die ministerie het gesê ‘n deeglike ondersoek sal geloods word en voortydige gevolgtrekkings sal nie gemaak word nie. Die ses polisiebeamptes is onskuldig totdat hulle skuldig bewys word, het ‘n verklaring gelui.

Mthethwa het gesê hy was deurentyd konsekwent in sy benadering dat dié wat die wet oortree, gestraf moet word.

Die ses polisiebeamptes, wat Saterdag in hegtenis geneem is, is van die openbare orde-eenheid in Bloemfontein, het Moses Dlamini, OKD-woordvoerder, gesê.

Vier van die mans word aangekla van aanranding en twee van moord.

Die uitvoerende direkteur van die OKD, Francois Beukman, het Sondag aan SABC Nuus gesê dié soort brutaliteit deur die polisie kan nie geduld word nie.

Die polisie het na bewering Donderdag met rubberkoeëls op Tatane se bors losgebrand en hom toe met knuppels geslaan.

Tatane, ‘n lid van Cope, is luidens mediaberigte “gelyktydig” deur minstens ses polisiebeamptes aangeval.

Hy het ná die aanval sy hand teen sy bors gehou en ongeveer 20 minute later inmekaargesak. Hy is dood voordat ‘n ambulans opgedaag het. Die polisie het Woensdag bevestig dat ‘n man tydens die betogings gedood is.

Die inwoners van die Meqheleng-township het na die munisipale kantore in Ficksburg gestap om ‘n griefskrif oor diensleweringkwessies te oorhandig toe die voorval plaasgevind het.

сауна в москвеДанильченко Харьков

Comments

Leave a Reply