‘n Man het ‘n vermeende rower doodgeskiet wat Dinsdag saam met twee medepligtiges by sy huis ingebreek het, het die polisie in Gauteng bekend gemaak.
“Die man het die drie verdagtes in sy huis gevind nadat hy vanaf die lughawe teruggekeer het,” het die polisiewoordvoerder, Balan Muthan, gesê.
Die inbrekers het die man met ‘n vuurwapen gedreig en beveel om op die vloer te lê.
“Die drie het ‘n aantal waardevolle horlosies en selfone gesteel voordat hulle op vlug geslaan het,” het Muthan gesê.
Nadat die verdagtes uit die huis weg is, het die man opgestaan en gesien hoe hulle in ‘n goue Toyota Corolla klim.
“Die verdagtes het die man gewaar en op hom losgebrand. Hy het teruggeskiet en een van die mans gewond.”
Volgens Muthan het die gewonde verdagte se medepligtiges hom by die Laretong-kliniek afgelaai en weggejaag. Hy het later aan sy beserings beswyk.
“Twee horlosies en ‘n selfoon is in sy sak gevind.”
Die saak word deur die polisie ondersoek.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.