Onder normale omstandighede vind ek dit moeilik om kameraad Blade Nzimande, daardie opperste nar en kaviaarkommunis, ernstig op te neem. Dis bietjie dik vir ‘n daalder om van agter jou miljoenrandmotor se stuur vir die arm voetgangers wat jou blouligkonvooi van die pad gedwing het, te wil preek oor ‘n klaslose samelewing. Tog bevind ek my in die vreemde posisie dat ek vir die tweede keer in ‘n paar dae met ‘n lid van die drieparty-alliansie saamstem. Eers was dit met Julias oor die verleentheid wat Helen Zille se eenvrou-Kaapse Klopse vir ons almal wat dit moes aanskou, was. Nou gaan dit oor kameraad Blade se voorstel dat almal inheemse tale op universiteit moet bestudeer. Kameraad Blade se voorstel kort egter heelwat dinkwerk en gaan nie naastenby ver genoeg nie.
Met ‘n inheemse taal bedoel die kameraad ongetwyfeld ‘n swart taal, dws een wat van die Bantoetaalgroep afstam. Afrikaans is egter net so ‘n inheemse taal as wat enige een van die Bantoetale soos Zoeloe of Xhosa is. As dit gaan oor tale wie se stamtaal buite die land se grense ontstaan het maar binnelands verder ontwikkel het, behoort die Bantoetale, naas Afrikaans, ook aan ‘n taalgroep wat sy wortels duisende kilometer van hier gehad het, in Sentraal- en Wes-Afrika, maar wat binnelands verder ontwikkel het tot nuwe tale. Die stam van die Bantoetale is hiernatoe gebring deur die Bantoe-immigrante wat die plaaslike mense ontset, uitgemoor of geassimileer het. Die enigste ware Suid-Afrikaners, as immigrasie dan die maatstaf sou wees, is die Koi- en San-mense. Dan sou kameraad Blade noodwendig daarop moes aandring dat studente moes leer wat “!ke e: /xarra //ke” beteken (“Ek laaik BMW’s kwaai.”)
Gevolglik het ek geen probleem hoegenaamd daarmee dat my kind eendag ‘n inheemse taal, naamlik Afrikaans, ook op universiteit hoef te bestudeer nie.
Voorts gaan kameraad Blade se voorstelle hoegenaamd nie ver genoeg nie. Slegs ‘n breukdeel van almal wat Graad 1 binnegaan, beland uiteindelik op universiteit. Myns insiens moet alle leerlinge, van Graad 1 af, nie net inheemse tale soos Afrikaans bestudeer nie, maar sommer ook in inheemse tale moedertaalonderrig in ál hulle vakke ontvang.
Dit is sommer snert dat die meeste swart kinders so moet sukkel met die taal van die koloniale onderdrukker, indien nie die Antichris nie, Engels, in hul skole. Die gesukkel met die uitheemse, imperialistiese Engels het ongetwyfeld ‘n nadelige uitwerking op die matriekslaagsyfer. Ons almal, wit en swart, behoort aan te dring op moedertaalonderrig in Zoeloe, Tswana, Venda of Afrikaans, en Engelse onderrig oorlaat aan antie Helen se stemvee, die enkele ryk soutsakke in die noordelike voorstede van Johannesburg.
Kameraad Blade se nuutgevonde entoesiasme vir inheemse tale behoort uiteraard ook na die universiteite uitgebrei te word. Basta met imperialistiese, koloniale Engelse universiteite! Daar behoort minstens 3 Afrikaanse universiteite, 3 Zoeloe-universiteite asook ‘n paar Sotho- en Tswana-universiteite te wees, waar alle onderrig in een van die bogenoemde tale geskied. Miskien kan die ryk Engelse UCT kry, maar dit behoort streng oor moedertaaldemografie te gaan.
Nooit gedog ek sou dit sê nie, maar viva kameraad Blade se verbintenis tot inheemse tale!
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.