Tim du Plessis keer terug van sy sabbatsverlof en met die intrapslag in Beeld beweer hy dat daar “wedergebore rassiste… (bestaan) wat deesdae danksy die internet ’n stem en ’n kanaal het”. Dit het my terstond baie nuuskierig gemaak oor wie hierdie internetrassiste kan wees?
So pas het ek vanmôre in die oggendverkeer ‘n pap band moes omruil omdat ek ‘n slaggat in die reën getref het wat sowel band as velling verwoes het en ek dit eers halfpad in William Nicolrylaan af agtergekom het toe die stuurwiel begin vibreer. Slaggate, moord en doodslag, besoedeling, korrupsie, staatlike verval… daar is so ‘n lang lys probleme in die Nuwe Suid-Afrika dat ‘n mens kwalik kan dink dat “rassisme”, slegte maniere, swak smaak as dit by kleredrag of musiek kom en dergelike subjektiewe kwessies prioriteit in die pers behoort te geniet. Desondanks voer Beeld, asook Leopold Scholtz van Die Burger, deesdae ‘n veldtog teen “rassisme” en die spreekwoordelike “rassis onder elke bed”. As ‘n mens agter die deur staan…
Aan die ander kant kan ‘n mens nie ontken dat ras ‘n baie sterk deel van vele mense se identiteit in byvoorbeeld Suid-Afrika, die VSA en sommige ander lande is nie. Die huidige president van Amerika, Barack Obama, het gedurende sy presidensiële veldtog ‘n beroemde toespraak op 18 Maart 2008 gelewer waarin hy verseg het om die omstrede anti-blanke prediker Jeremia Wright te verwerp. In Obama se woorde:
I can no more disown him than I can disown the black community. I can no more disown him than I can my white grandmother – a woman who helped raise me, a woman who sacrificed again and again for me, a woman who loves me as much as she loves anything in this world, but a woman who once confessed her fear of black men who passed by her on the street, and who on more than one occasion has uttered racial or ethnic stereotypes that made me cringe.
Volgens Tim du Plessis “mag velkleur mag nooit ’n argument wees nie, want dis ’n onveranderlike”. Ras gaan egter oor veel meer as velkleur. Uiteindelik is dit ‘n biologiese werklikheid dat daar genetiese verskille tussen mense bestaan, maar ook tussen bevolkingsgroepe of rasse. Die wetenskap erken dit en daar is niks snaaks daaromtrent nie. Maar, soos duidelik uit Obama se beroemde “Toespraak oor ras” geblyk het, verteenwoordig ras ook ‘n identiteit vir die Amerikaanse president en miljoene ander.
Wat vir my onthullend oor Tim du Plessis se stuk is, is sy negatiewe selfdefinisie. Anders as Obama (of Jimmy Manyi) wat homself onbeskaamd as “swart” beskou, kan Du Plessis bloot sê “wat hy nie is nie”:
“Een: Ek is geen ‘Afrikaner-verraaier’ wat my ‘volk’ se geboortereg uitverkoop nie.
Twee: Ek is nie ‘’n rassis wat terughunker na wit oorheersing en wat glo swartes kan nie regeer nie’.”
Daar is ‘n klomp internasionale akademiese navorsers, joernaliste en skrywers wat by liberale of selfs linkse instellings werk soos Stephen Smith (Negrologie) of Stephen Ellis (The mask of anarchy) wat al onomwonde verklaar het dat die swartmense van Afrika nie hulself kan regeer nie. Hierdie kommentators sou egter geskok wees om te hoor dat hulle gevolglik as “rassiste” getipeer moet word.
Suid-Afrika verkeer midde-in wat die Verenigde Nasies se deskundiges deesdae ‘n “identiteitskonflik” noem en dis geen wonder dat Tim du Plessis die drie maande van sy sabbatsverlof moes deurbring om te wonder oor die vraag: “Wie is ek?” nie. Want afhangend van hoe ‘n mens daardie vraag beantwoord, bevind jy jouself in ‘n bepaalde kamp in die identiteitskonflik.
Ek is bevrees dat Tim du Plessis en die hele Naspers kwalik deur bontpratery en slim voetwerk aan hul aandeel aan die mislukking van Suid-Afrika as land gaan ontkom. Soos ‘n leser van Du Plessis se rubriek, Hannes Perth, ook dan op die kommentaarafdeling reageer:
“Die faling van Tim en Nasionale Pers was dat hulle alternatiewe modelle tot ‘n gesentraliseerde meerderheidsregering in die pers gediskrediteer en afgelag het en hul lesers sodoende van die reg ontneem om hierdie modelle op meriete te kon debatteer en oorweeg. In ‘n land met soveel diversiteit is ‘n sentralistiese sosialistiese bestel onvanpas, maar dit was wat die NP, Tim en Nasionale Pers hulself voor beywer het.”
Wat hierdie leser sê, is baie waar, naamlik dat sowel die destydse Nasionale Party as Nasionale Pers alle federale of konfederale modelle vir Suid-Afrika per definisie belaglik gemaak of as “regs” en “hunkeringe na wit oorheersing” getipeer het. Asof lande met federale stelsels soos Amerika of Duitsland nie behoort te bestaan nie! Die NP is intussen geheel en al tot niet, maar Naspers is nog met ons, om een mislukking ná die ander te regverdig en goed te praat. Trouens, ‘n mens sou kon sê dat daar net twee kampe in die Afrikanerpolitiek oorgebly het: Naspers, wat namens ‘n bepaalde dekadente en Machiavelliaanse elitegroep praat en die lydende volk of gewone mense daarbuite wat al die negatiewe gevolge van die kwasi-Stalinistiese sentralisme in Suid-Afrika moet verduur.
Met taamlik domastrante brawade spreek Du Plessis sy trots uit dat hy die ou stelsel tot ‘n val gebring het. Maar is hy ewe trots op die nuwe stelsel waar veel meer mense jaarliks in polisie-aanhouding sterf as ooit onder apartheid, waar die kindersterftesyfer gestyg, die lewensverwagting na benede getuimel, gesondheidsorg ineengetort en waar verkragting en moord astronomiese afmetings aangeneem het? Dan praat ons nie eens van al die basiese menseregte en taalregte wat ons in die naam van “transformasie” ontsê word nie.
Van Wyk Louw se “voortbestaan in geregtigheid” word selektief deur Du Plessis aangehaal, want het Louw nie ook destyds profeties opgemerk dat “die Afrikaner sonder politieke mag in Suid-Afrika so weerloos soos die Jood in Nazi-Duitsland sou wees” nie?
Wat vir my deesdae nogal op al die Naspers-webwerwe opval, of dit nou Beeld, Burger, Volksblad of Rapport is, is dat die kommentare onderaan meningsartikels reëlreg van sodanige artikels verskil, wat my punt staaf dat die eintlike politieke geveg in Afrikaans tussen Naspers, die apologeet vir die status quo, en die volk is.
Kan die magtige Naspers met sy monopolie op Afrikaanse media, met uitsondering van die internet, staande bly teen ‘n verswakte, moedelose Afrikanervolk? Dis waarskynlik die kernvraag wat ons toekoms gaan bepaal. Want sonder dat Naspers sy toenemend wêreldvreemde menings verander en gewone mense in hul oorlewingstryd begin ondersteun, gaan ons nooit genoeg momentum opbou om politieke verandering in dié land te bewerkstellig nie.
Tim du Plessis mag dink dat lande in Afrika suid van die Sahara voortreflik regeer word, maar die getuienis wat die teendeel bewys, is daar vir almal om te sien. Suid-Afrika is vinnig besig om net nog ‘n korrupte, gewelddadige Afrika-piesangrepubliek te word waar niks werk nie en ‘n sibaritiese elite die land se hulpbronne na hartelus plunder.
Die vraag wie Tim du Plessis is, is van mindere belang, want of die redakteur van Beeld hom as ‘n stoere Afrikaner sien of een of ander verloopte, Sapperige “Afrikaanse”, om nou die Naspers-bargoens te gebruik, gaan geen verskil aan ons toekoms maak nie.
Waar Naspers self staan, maak veel meer saak. Ek het al dikwels gewonder of iemand nie ‘n klag by die mededingingskommissie moet gaan indien weens die monopolie wat dié mediagroep in Afrikaans en betaaltelevisie beoefen nie.
Tim du Plessis mag dink dat hy oor ‘n lisensie vir breinspoeling beskik, om die Afrikanerskape met ywer oor die afgrond aan te jaag, maar Suid-Afrikaanse wetgewing en selfs die swak grondwet van 1996 maak vir mediadiversiteit voorsiening.
Dit is hoog tyd dat ons in die Afrikaneropposisie wat so geredelik as “internetrassiste” verguis en geëttiketteer word ‘n strategie bedink om Naspers se mag te stuit. As die mededingingskommissie ons nie gelyk gee nie, kan ons dalk selfs vir Malema oorreed om Naspers te nasionaliseer en aan die mediagroep die Marthinus-oomblik te besorg waarna hy al so lank hartstogtelik smag.
Soos Breyten Breytenbach ‘n dekade of wat gelede opgemerk het toe hy hoor die ANC wil ‘n eie koerant oprig: “Maar vir wat? Hulle het dan reeds Beeld!”

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.