Suid-Afrika se bekendste jong politikus, Julius Malema van die ANC-jeugbeweging, het oor die naweek ‘n beroep op swartmense gedoen om meer babas te hê. Malema het ‘n stampvol sal by die Ehlanzeni- munisipale gebou toegespreek en hulle aangemoedig om meer babas te kry “om te verhoed dat die revolusie stoom verloor”.
“Om babas te kry, is ‘n revolusionêre idee. U moet voortplant! As ‘n mens ‘n swartman oor sy groot gesin probeer skaam maak, moet jy dadelik jou houding verander,” meen Malema.
Opstand teen blanke mans
Malema wil ook hê dat blanke mans hul aandeel in die ekonomie verder moet verloor. “’n Opstand gaan Suid-Afrika tref en die opstand sal nie teen die ANC gerig wees nie,” het Malema aan sy jillende skare ondersteuners gesê. “Die opstand gaan teen blanke mans en blanke monopolieë gerig wees. Dit sal nie teen blanke vroue gerig wees nie.”
Die leier van die ANC-jeugliga wil die myne nasionaliseer wat steeds deur blanke mans beheer word en nie genoeg van hul rykdom met swartes deel nie. “Deel daardie koek met ons. Moenie dit alles alleen eet nie!” het Malema uitgeroep, waarop hy luid deur die skare toegejuig is. Volgens hom is werkloosheid die oorsaak van onlangse onrus in swart woongebiede en is nasionalisering die enigste manier om dit op te los.
“Miskien is dit tyd vir die jeug om in die bestuurdersitplek van die motor in te skuif,” het Malema gesê. Nie alle blanke ondernemings moet oorgeneem word nie. “Ons wil net ons regverdige deel kry. As ons nie nasionaliseer nie, sal ons altyd arm bly. Die Oppenheimers hoef nie te bekommer nie, want ons wil net 60% van Anglo American se geld hê.”
Malema het die vergelyking met Botswana getref waar 51% van mynboubelange aan swartmense behoort. “Ons kan nie verstaan waarom hulle dit nie in Suid-Afrika wil doen nie. Hulle dink swartmense is idiote en hulle misbruik ons hier in Suid-Afrika.” Swartmense wat nie met die ANC hieroor saamstem nie “verkeer onder die invloed van kapitaliste,” het hy gesê.
“Wat Anglo American met die ander 40% van hulle onderneming doen, is hulle saak,” het hy gesê. “Ons wil net 60% hê,” het die swart jeugleier gesê.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.