“Die DA sal ‘n opname in DVD-formaat aan joernaliste verskaf waarin Manyi nóg ‘n rassistiese opmerking maak, hierdie keer teenoor Indiërs in Suid-Afrika,” het die party gesê.
Nuus24 het ‘n opname van Manyi se toespraak op die DA se YouTube-blad gevind.
Daarin vaar Manyi uit teen die top-bestuur in Suid-Afrikaanse maatskappye wat nie verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse demografie is nie.
“Indiërs, ons moet net 3% (in bestuursposte) hê. Hulle sit op 5.9%. Ek noem dit die krag van onderhandeling. Indiërs het hulle pad boontoe onderhandel (sic),” het Manyi verlede jaar tydens ‘n toespraak aan die Durbanse sakekamer gesê.
Manyi het vroeër vir opspraak gesorg nadat hy uitlatings gemaak het oor bruinmense in Suid-Afrika. Hy het glo in Maart 2010 tydens ‘n onderhoud op KykNet gesê dat daar te veel bruinmense in die Kaap is.
“Laat ek net ‘n laaste ding oor bruinmense sê. Dit is belangrik dat hulle besef dat Suid-Afrika in sy geheel aan hulle behoort en nie net die Wes-Kaap nie,” het Manyi tydens die onderhoud gesê.
“Hierdie sametrekking in die Wes-Kaap werk nie vir hulle nie. Hulle moet versprei na die res van die land. Hulle is volop in daardie gebied en moet bietjie versprei,” het hy glo gesê.
Volgens Manyi het hy tydens die onderhoud namens die Black Management Forum (BMF) gepraat.
Trevor Manuel, minister in die presidensie, het Woensdag in ‘n ope brief in die Mercury uitgevaar teenoor Manyi oor sy kommentaar oor bruinmense.
“Ek wil jou aandag vestig op die feit dat jou stellings oor ‘n ‘oorkonsentrasie van bruinmense’ teen die gees van die Suid-Afrikaanse grondwet, sowel as die Black Management Forum is,” het Manuel in die brief geskryf.
“Ek wil dit aan jou stel dat die stellings jou ‘n rassis in die vorm van HF Verwoerd (Hendrik Verwoerd) maak.”
Manyi wou nie kommentaar lewer oor Manuel se brief nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.