Goeie nuus vir die Demokratiese Party en slegte nuus vir die Republikeine is dat swartes en Spaanssprekendes se getalle styg terwyl die blanke Amerikaanse bevolking besig is om te daal. Teen 2050 gaan die aantal swartes toeneem vanaf die huidige 13% van die bevolking tot 16% en die aantal Spaanssprekendes vanaf 14% tans tot 23%. In sommige state soos Kalifornië verkeer blankes reeds effens in die minderheid. Weens die lae bevolkingsaanwas van blankes in Kalifornië is slegs een uit elke vyf kinders op laerskool blank wat ’n duidelike blik op die toekomstige demografie van dié deelstaat bied.
Die meerderheid van Amerikaanse vroue is deesdae ongetroud. 66% van sulke enkellopende vroue stem Demokraties en volgens meningspeilings huldig hulle “progressiewe sienings oor maatskaplike kwessies, die ekonomie en buitelandse beleid”.
Sedert 1965 toe die nuwe Immigrasiewet in die VSA die voorkeur vir blanke immigrante uitgeskakel het, het die aandeel van blankes in die Amerikaanse bevolking gedaal vanaf 90% tot die huidige 70%. Sommige ontleders voorspel dat blankes weens hul lae bevolkingsaanwas en min immigrante teen 2050 in die minderheid gaan wees.
Indien huidige etniese stempatrone voortduur, is die Demokratiese Party dus van ’n blink toekoms verseker. Maar intussen regeer daar nog ’n Republikeinse president wat deur blanke mans en getroude blanke vroue verkies is. Volgens Demokratiese ontleders moet hul party hom op “tradisionele manlikheid” beroep en sodoende meer blanke mans as kiesers lok. Luidens een so ’n ontleder, David Paul Kuhn, “word die steun wat presidente verdien direk deur hul persoonlike manlikheid beïnvloed”.
Hoewel blanke mans ’n minderheid (33-36%) van Amerikaanse kiesers uitmaak, meen Kuhn steeds dat hul steun “die meeste saak maak”. Alle aanduidings is egter dat blanke mans hul rug op die Amerikaanse liberalisme gekeer het. Daarom beplan die Demokratiese Party om in sy verkiesingsveldtogte minder klem te plaas op feminisme en regstellende aksie.
Wat dienende politici betref, lyk dinge egter nog rooskleurig vir blanke mans. Minder as 17% van die kongres bestaan uit vroue en sedert die Amerikaanse Burgeroorlog was daar nog net drie swart senators. In die Amerikaanse geskiedenis was daar insgelyks nog net ses Spaanssprekende en vyf Asiese senators waarvan nie een ’n vrou was nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.