praag.co.za

Category: Sake

  • Ford staak bedrywighede in Japan, Indonesië

    Die Amerikaanse voertuigvervaardiger, Ford gaan sy bedrywighede in Japan en Indonesië opskort.

    Ford sal uit Japan onttrek waar hulle al sedert 1974 ‘n teenwoordigheid gehad het, het Reuters vroeër berig uit Tokio nadat hulle ‘n e-pos van Asië se uitvoerende hoof, Dave Schoch aan werknemers gesien het.

    Die maatskappy sê daar is min vooruitsigte vir winsgewendheid in dié twee lande.

    Ford sal sy handelaars in Japan en Indonesië sluit en ook invoere staak.

    General Motors het verlede jaar besluit om die vervaardiging van sy handelsname in Indonesië te staak weens sterk mededinging van Japannese voertuigvervaardigers.

    Talle motorvervaardigers sukkel om markaandeel in Japan te wen, wat histories moeilik is om nie-Japannese handelsmerke in te voer en te verkoop.

    Ford het nagenoeg 5000 voertuie verlede jaar verkoop en het minder as 2% markaandeel.

    Die sluitings raak ongeveer 52 handelaars en byna 300 werknemers in Japan. Produkontwikkeling sal ook daar gestaak word.

    Ford is sedert 2002 in Indonesië en het 35 werknemers en 44 oktrooi-handelaars. Verkope was omtrent 6000 voertuie verlede jaar, wat minder as 1% markaandeel verteenwoordig.

  • Minister van nywerheid verkies muishondlande met rommelstatus

    Die Withuis het ‘n presidensiële proklamasie uitgereik waarin hy dreig om Suid-Afrika se handelsvoordele op te hef indien Amerikaanse pluimveeprodukte nie teen 15 Maart op plaaslike winkelrakke is nie.

    Die DA sê die gesloer met onderhandelings oor die Wet op Afrikagroeigeleenthede is ‘n aanduiding van betrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika wat versuur.

    Die leier van die DA, Mmusi Maimane sê daar is blykbaar groot wantroue tussen die twee regerings, en dat dit op die lange duur teëspoed vir die plaaslike ekonomie kan beteken.

    Die Suid-Afrikaanse regering se erns om die sperdatum van die Agoa-handelsooreenkoms na te kom, is reeds ‘n geruime tyd onder verdenking.
     
    Indien die land nie gehoor gee aan die sperdatum nie, sal die tarief-vrye invoer van Suid-Afrikaanse landbouprodukte na Amerika opgeskort word.
     
    Die ANC se Rob Davies, minister van handel en nywerheid, sleep voete oor die kwessie.

    Davies wil glo nie die bestaande handelsbetrekkinge met Suid-Afrika se tradisionele vennote, soos Amerika en die Europese Unie, gestand doen nie.
     
    Onder aanvoering van Davies, word die land se ekonomiese welstand en oorlewing toenemend afhanklik van muishondlande soos Kuba en Brasilië, wat rommelstatus geniet, sê ontleders.
     
    China se ekonomie is besig om vinnig af te koel en dit sal ekonomiese selfmoord wees om op hierdie stadium tradisionele en gevestigde handelsvennote te vervreem.
     
    Hoewel die swak rand ‘n geweldige skok vir die land se ekonomie is, kan dit nog steeds tot Suid-Afrika se voordeel wees wat uitvoere betref.

  • Barclays wil dalk ABSA verkoop

    Dit is Donderdag berig dat Barclays, die Britse bank, aktief op soek is na ‘n koper vir sy Suid-Afrikaanse eenheid Absa.

    Die Financial Times van Londen het Woensdag ‘n artikel geplaas onder die opskrif, “Barclays wil terugskaal in Afrika”. Die bank is glo besig om sy “lang teenwoordigheid in Afrika te heroorweeg as deel van ‘n hersiening gelei deur Jes Staley, sy nuwe uitvoerende hoof”.

    Die artikel beweer dat Staley, wat die leisels in Desember oorgeneem het, vrae het oor die strategiese toepaslikheid van die “groot Afrika-bedryf”, maar dat geen besluit nog geneem is nie.

    Die koerant het bygevoeg dat die hersiening “kom nadat beleggersvertroue in Suid-Afrika geskud is deur ‘n besluit van President Jacob Zuma om sy minister van finansies twee keer in minder as ‘n week te verander terwyl die ekonomie onder geweldige druk verkeer”.

    Die Rand het vanoggend bestendig op R15.01 teen die dollar verhandel ten spyte van die besluit van die Amerikaanse reserwebank om rentekoerse die eerste keer sedert 2006, met nul-komma-twee-vyf persent te verhoog.

    Ekonome het verwag dat die verhoging die Rand verder teen die dollar sal laat daal. Dit volg kort nadat die Rand en Suid-Afrika se ekonomie geskud is deur president Zuma se skielike afdanking van die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene.

    Nene is deur David van Rooyen vervang, wat op sy beurt deur Pravin Gordhan vervang is – alles binne die bestek van ‘n paar dae.

    Die Johannesburgse Effektebeurs was Woensdag weens die openbare vakansiedag gesluit, maar Amerikaanse en Europese markte het stewiger vertoon ná die rentekoersverhoging.

  • Rand val soos ‘n klip ná Zuma MK-terroris as minister van finansies aanstel

    Rand val soos ‘n klip ná Zuma MK-terroris as minister van finansies aanstel

    Die rand het gistermiddag en vanoggend soos ‘n klip begin val nadat Jacob Zuma ‘n voormalige MK-terroris, David van Rooyen, as sy minister van finansies aangestel het. Die vorige minister, Nhlanhla Nene, is summier van sy pos onthef. Die geldeenheid het deur die vlak van R15 per dollar gebreek, asook R16 per euro, en daal nog steeds.

    Die ekonoom Cees Bruggemans het vanoggend in sy gereelde nuusbrief gesê:

    “Om die rand te voorspel, is ‘n standaardgrap, want die oneindigheidsimbool is die enigste gepaste een om te gebruik.”

    Bruggemans voorspel ook dat belastings, rentekoerse en die petrolprys as gevolg van dié stap sal styg. Van Rooyen sal waarskynlik alle staatsbesteding voor die voet goedkeur, wat dan agterna van die belastingbetaler verhaal sal word.

    Die nuwe minister van finansies het sy loopbaan as ‘n terroris van Umkhonto we Sizwe in die tagtigerjare begin. Sedertdien was hy ‘n uitvoerende burgemeester van die Merafon-munisipaliteit en ‘n vorige Noordwes-voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering.

    Blykbaar het die Universiteit van Londen in 2014 ‘n MSc Finansies aan Van Rooyen toegeken. Thabo Mbeki beskik insgelyks oor ‘n Britse graad in ekonomie, meesal marxistiese ekonomie.

     

  • Mynbou-vooruitsigte lyk bedroewend sê ontleder

    ‘n Mynboukonsultant, Peter Major, sê die bedryf sukkel weens metaalpryse wat die afgelope 12 maande skerp gedaal het

    Die Chinese aanvraag wat kwyn, het gesorg vir laer volumes van alle kommoditeite.

    Major het aan RSG gesê 15 jaar gelede het mynbou 50% van Suid-Afrika se verdienste verteenwoordig, terwyl nié landbou óf toerisme tans kan instaan vir die verlies nie.

    Sowel landbou as toerisme is aan die afneem en kan dus nie die inkomste genereer waarvoor mynbou gesorg het nie.

    Mynbou-ontleders glo ook nie dat die sektor binnekort gaan herstel nie.

    Dit volg nadat syfers deur Statistieke Suid-Afrika bekendgemaak is wat toon dat mynproduksie in Oktober vanjaar met sowat 5% gedaal het in vergelyking met ‘n jaar gelede.

    Een van die wêreld se grootste mynmaatskappye – Anglo American – het ook drastiese herstruktureringsplanne aangekondig en gaan sy werkmag met 85.000 besnoei vanweë die skerp dalings in kommoditeitspryse.

    Major het nie uitgebrei oor grondaansprake van die EFF nie.

  • SA beweeg na rommelstatus

    SA beweeg na rommelstatus

    Die wêreld se twee grootste graderingsagentskappe sal na verwagting vandag hul jongste graderings van Suid-Afrika se soewereine skuldlas aankondig, het RSG berig.

    ‘n Afgradering deur Standard & Poor’s sal die land se kredietgradering tot onder beleggingsgraad – bekend as rommelstatus – te staan bring.

    ‘n Afgradering deur Fitch sal Suid-Afrika se gradering op een plek bo rommelstatus plaas.

    Kenners sê die graderings kan ‘n impak hê op die land se ekonomie. Graderingsagentskappe het hul kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se swak ekonomiese groei wat die regering se inkomste verklein en dus sy vermoë beperk om besteding aan te wakker.

    Ontleders sê egter ‘n afgradering is ongegrond, wat dit duurder kan maak vir Suid-Afrika om geld in die buiteland te leen.

  • Nigerië verlaag MTN-boete

    Die Nigeriese Kommunikasie-kommissie het ingestem om MTN se boete van R72 miljard rand na sowat R14 miljard rand te verminder.

    Die boete is opgelê omdat MTN Nigerië ongeregistreerde intekenare nie dadelik afgesny het in Augustus en September nie.

    Twee Nigeriese amptenare van MTN, waaronder die hoof, is intussen afgedank en vervang.

    Wetgewing oor die registrasie van Sim-kaarte is soortgelyk aan die in Suid-Afrika, maar dié drakoniese boete word beskou as ‘n politieke skuif.

    Die maatskappy het Donderdagoggend bekend gemaak dat die Nigeriese kommunikasiekommissie ‘n amptelike brief gestuur het waarin die boete verminder word ná onderhandelinge met die regering.

    Die boete moet volgens dié brief teen 31 Desember betaal word.

    Phuthuma Nhleko, uitvoerende voorsitter, het herhaaldelik met Nigeriese owerhede in gesprek getree oor die boete.

    MTN se versuim het glo meer as vyf miljoen ongeregistreerde SIM-kaarte in Nigerië behels.

  • BRICSbank bedel by lidlande

    Die president van die Brics Ontwikkelingsbank, Kundapur Kamath sê hulle verkies dat die nodige hulpbronne vir die bank van die lidlande afkomstig sal wees, het RSG berig.

    Kamath het in Pretoria ‘n openbare lesing aangebied en sê die ekonomieë van sommige van die lidlande, Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika, is sterker as ander en sal ‘n groter bydrae tot die Ontwikkelingsbank kan lewer.

    Hy sê die bank sal verkies om slegs na internasionale markte te gaan indien dit werklik noodsaaklik is. Kamath sê die Brics Ontwikkelingsbank behoort teen April aanstaande jaar die eerste lenings toe te staan.

    Intussen het Zimbabwe en China ‘n reeks bilaterale samewerkings-ooreenkomste onderteken.

    Die Chinese president, Xi Jinping het gister in Zimbabwe aangekom op ‘n tweedaagse besoek. Hy word vergesel deur ‘n groot afvaardiging Sjinese sakelui. Zimbabwe en China het historiese bande wat terugdateer na Zimbabwe se bevrydingstryd.

    Die betrekkinge tussen die twee lande het verstewig sedert 2000, toe Westerse lande Zimbabwe weens menseregte skendings geïsoleer het. Die nuwe ooreenkomste het betrekking tot omgewingsbeskerming, konstruksie, en kragopwekkingsprojekte, insluitend die uitbreiding van die Hwange-kragstasie.

    Die Zimbabwiese president, Robert Mugabe het sy land se betrekkinge met China geloof, en verwys na die verswakkende ekonomiese invloed van Westerse lande.

    Amerikaanse verteenwoordigers by die Internasionale Monetêre Fonds en binne die Kongres self het gesê hulle het geen keuse gehad nie ten opsigte van die IMF se besluit om die Chinese renminbi (RMB) te aanvaar as nuwe reserwegeldeenheid.

    Die IMF het ingestem om die yuan die nuutste toevoeging tot sy geldeenheidmandjie, bekend as Spesiale Trekkingsregte (SDR) te maak.

    Indien die VSA China se geldeenheid sou geweier het, sou dit Amerika gedwing het om alternatiewe instellings te bou, wat die bestaande finansiële argitektuur van die ou Bretton Woods-stelsel sou ondermyn het, sê ontleders.

    China is reeds te veel geïntegreer by die internasionale stelsel om so ‘n stap te kon oorweeg.

  • Verlamming tref Cosatu met drastiese daling in lede

    Strydende partye in die vakbondfederasie Cosatu sal ‘n geleentheid kry om vandag met mekaar in gesprek te tree wanneer die nasionale kongres in Midrand begin.

    Die konferensie is die eerste sonder Cosatu se grootste vakbond, Numsa en die voormalige hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi.

    Bykans 2 500 afgevaardigdes van Cosatu se 18 geaffilieerde vakbonde sal die nuwe leierskap vir die volgende drie jaar verkies en die uitdagings van die vakbondfederasie bespreek.

    Die vergadering hierdie week beloof om min op te lewer.

    Nie ‘n vrolike 30ste verjaardagviering tesame met die 4 miljoen-lidmaatskapteiken vir 2015, is in sig vir die federasie nie.

    ‘n Drastiese daling in lede, politieke verlamming en organisatoriese impotensie kenmerk die groep.

    In die openbaar egter, hou leiers vol dat probleme oorkom is en probeer hulle om lede en die media te oortuig dat dat die kongres nie ‘n klug sal wees nie.

    Soos tydens die Julie se spesiale nasionale kongres, sal dit hoofsaaklik bygewoon word deur afgevaardigdes wat die suiwering wat 350,000 Numsalede oorleef het.

    Dit is simptomaties van die probleme wat Cosatu in die gesig staar dat geen geloofwaardige lidmaatskapsyfers vrygestel word nie.

    Ou syfers wat nie rekening hou met die duisende lede wat geskors is of lede wat na die wegbreekvakbonde oorgeloop het nie, word steeds voorgehou.

    Intussen het nuwe klein vakbonde soos paddastoele verrys weens die uittog.

  • Verhoging in repokoers ondeurdag sê ekonoom

    Die Monetêre Beleidskomitee se besluit om die repokoers met ’n verdere 25 basispunte te verhoog was ondeurdag.
    Dit is volgens ekonomiese ontleder en akademikus, André Mellet.

    Mellet meen die aanpassing is vreemd in die lig daarvan dat die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, vroeër vanjaar aangedui het dat groei vooruitskattings afwaarts aangepas sal word.

    Inflasie, wat net meer as 4% is, is volgens Mellet tans ook nie ’n probleem nie, wat die repokoersverhoging nog vreemder maak.

    Mellet het aan OFM gesê die verwagting bly steeds dat Suid-Afrika swakker groei sal toon, en heelwat swakker as in die begin van die jaar.

    Hy het gesê die besluit is daarom teleurstellend.

  • Beurtwater vir KZN ingestel

    KwaZulu-Natal gaan ook beurtwater instel, nadat die Vrystaat waterbeperkings aangekondig het.

    Die watervoorsiener, Umgeni Water, sê van aanstaande week sal streng waterbeperkings in die provinsie ingestel word.

    ‘n Woordvoerder van Umgeni Water, Shami Harichunder, sê die watervoorsiener, saam met die iLembe Distriksmunisipaliteit, die eThekwini Metro en Sembcorp, het ooreengekom om van 23 November af water met 50 persent te beperk.

    Harichunder sê dit beteken dat daar van ses tot agt ure per dag geen water sal wees nie. Die besluit is geneem omdat die Hazelmere-dam slegs 25 persent vol is.

    Die vervaardingsektor het intussen kommer uitgespreek oor die uitwerking van die voortslepende droogte op produksie.

    Ondernemings in die vervaardigingsbedryf wat aan die opname vir die derde kwartaal van 2015 deelgeneem het, sê watertekorte belemmer produksie in terme van verskaffing, alhoewel watervoorsiening nog betroubaar is.

    Altesaam 88 vervaardigers uit verskeie sektore het aan die peiling deelgeneem. Sakevertroue in die bedryf bly broos, met ‘n afname van tien indekspunte in die derde kwartaal tot 38.

    Dit is die indeks se laagste vlak sedert die vierde kwartaal van 2011.

  • Stryd rondom BRICS verhewig

    Die BRICS-groepering se posisie teenoor korporatiewe mag, het gelei tot die jongste skermutseling tussen die VSA en BRICS.

    By die vierde BRICS-byeenkoms in Durban het lede gesê gesonde kompetisie is ‘n voorvereiste vir ekonomiese groei.

    Dit is bo-aan die agenda in Durban om onmededingende gedrag in die onderskeie lande te oorkom.

    Die groep sê hulle is vasbeslote om weg te doen met monopolieë en die verbetering van die groei in opkomende ekonomieë.

    Duur verbruikersgoedere, gebrek aan innovasie en stadige ekonomiese groei is rampspoedig vir opkomende ekonomieë, net soos monopolieë en nywerheidskartels sê lidlande.

    Brasilië ondersoek tans sement- en koffiekartels.

    Rusland se ekonomie is geruk deur samespanning toe Samsung, LG en Phillips pryse op monitors gemanipuleer het.

    Indië sukkel met monopolieë op natriumkarbonaat wat gebruik word om glas te maak asook in sy sementbedryf.

    En China het reeds motorvervaardigers soos Audi en Chrysler beboet vir onmededingende gedrag.

    ‘n Raadgewende maatskappy oor ontluikende markte, Frontier Advisory Deloitte sê egter dit is noemenswaardig dat die beleggingsbestuursmaatskappy, Goldman Sachs sy BRICS-fonds gesluit het.

    Deloitte se besturende direkteur, Martyn Davies het aan ‘n beleggingsberaad in Johannesburg gesê beleggers het verkeerdelik geglo dat die wêreldekonomie na ontluikende markte verskuif, met die BRICS-lede Suid-Afrika, Brasilië, Rusland, Indië en China as die vernaamste rolspelers.

    Hy sê Rusland en Brasilië se ekonomië is aan die afneem, terwyl Suid-Afrika se ekonomie vasgeval het. Slegs China is nog sterk, ten spyte van laer groeisyfers.

  • Business Day verwelkom belaglike Nigeriese boete teen MTN

    Die selfoonoperateur, MTN, het bevestig dat sy bestuurshoof, Sifiso Dabengwa bedank het. Die maatskappy se uitvoerende voorsitter, Phuthuma Nhleko sal in Dabengwa se pos waarneem.

    Sy bedanking volg nadat die Nigeriese owerhede MTN met meer as R70 miljard beboet het.

    Die maatskappy het getalm om 5 miljoen onwettige SIM-kaarte te deregistreer.

    Die Suid-Afrikaanse regering het intussen sy kommer oor die situasie uitgespreek, maar die Business Day het Nigerië se boete as welverdiend voorgehou omdat Suid-Afrika glo “arrogant” is en ‘n nuwe bestuur verwelkom.

    Ander Suid-Afrikaanse maatskappye word glo met dieselfde kwas geteer sê die sakekoerant.

    President Muhammadu Buhari se regime het reeds ander ongewilde stappe teen buitelandse belegging geneem wat die land se ekonomiese groei kan benadeel.

    Nigerië het ‘n jaarlikse begroting van $22.6 miljard, maar eis 23 persent van net een maatskappy, sy platinumbelegger MTN.

    Nigerië het Shell met $3.96 miljard beboet in 2011 vir omgewingskade. In 2011 is ‘n farmaseutiese reus insgelyks beboet met $75 miljoen vir ‘n meningitismedisyneproeflopie wat glo die lewens van ongeveer 12 000 mense geëis het.

    Kennelik is die ontkoppeling van SIM-kaarte in vergelyking nie so ‘n ernstige oortreding nie.

    Suid-Afrikaanse maatskappye word duidelik geteiken met die goedkeuring van sekere partye soos dit uit die Business Day se houding blyk.

    Standard Bank in Nigerië het naelskraap ‘n $5 miljoen-boete in dieselfde week as MTN vrygespring.

  • VSA dreig SA met opskorting van AGOA

    VSA dreig SA met opskorting van AGOA

    President Barack Obama het Suid-Afrika 60 dae gegee om te reageer om die AGOA-ooreenkoms te red.

    Die African Growth and Opportunity Act (AGOA) is ‘n handelsooreenkoms wat die vrye invoer van Amerikaanse landbouprodukte in ruil vir uitvoervoordele behels.

    Amerika sê Suid-Afrika het onder meer onnodige sanitêre vereistes vir Amerikaanse vark- en beesvleis ingestel, nadat pluimveeprodukte verlede Desember na ‘n uitbreking van voëlgriep verbied is.

    Suid-Afrika sal die voordele ingevolge die wet op Afrika Groeigeleenthede prysgee, indien die hindernisse rakende Amerikaanse hoender- en vleisuitvoere nie uit die weg geruim word nie.

    Die verlies aan voordele beloop na raming bykans R100 miljoen.

    Suid-Afrika het ‘n spertyd van 15 Oktober misgeloop om op nuwe reëls vir invoere van Amerikaanse pluimvee- en vleis-produkte ooreen te kom.

    “Ek neem hierdie stap omdat Suid-Afrika voortgaan om beperkings aan langdurige Amerikaanse handel te stel, insluitend hindernisse wat op sekere Amerikaanse landbou-uitvoere geld,” het hy gesê in ‘n brief aan die Kongres.

    Vrye toegang tot Suid-Afrika vir Amerikaanse handel en belegging is een van die kriteria vir lidmaatskap van AGOA.

    Die ooreenkoms is vroeër vanjaar hernu en bied belastingvrye toegang tot goedere van sub-Sahara Afrika-lande, wat wissel van ru-olie tot klere.

    In 2014 het Suid-Afrika $176 miljoen se landbouprodukte na die Verenigde State uitgevoer onder AGOA.

    Produkte wat geraak word sluit lemoene, wyn, makadamianeute en sitrussap in, volgens Amerikaanse data.