praag.co.za

Category: Leon Lemmer

  • Russel Botman se verwysingsraamwerk

    Russel Botman, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het nou vakansie. Twee van sy blanke viserektore neem in hierdie stil tyd agtereenvolgend in sy plek waar. Hulle kwalifiseer nie daarvoor om permanent die rektor te word nie, want dit sal ‘n terugslag vir transformasie wees. Hulle mag selfs net tussentyds viserektore wees. Die idee is dat hulle hulle poste moet gebruik om transformasie te bevorder, sodat nie-wittes in hulle plekke aangestel kan word; aldus Botman (Die Burger, 5 Sep, p 11). Wat hulle akademies diskwalifiseer, is dat hulle wit en mans is. Só lyk die eienaardige weë van geregtigheid in die nie-rassistiese en nie-seksistiese nuwe Suid-Afrika.

    In dieselfde week as die ANC se Mangaung-konferensie was dit seker gepas dat Botman soggens sy Sielsgedagte (5:55-6:00) oor RSG uitgesaai het. Hy het waarskynlik aangebied om dit te doen en RSG het dit verwelkom, want dit is immers seker dat hy niks sal sê wat die ANC, en by implikasie die SABC, ontstel nie. Enigeen kan op die RSG-webwerf met potgooi vasstel wat Botman gepreek het.

    Op 18 Desember het dit gegaan om die stryd tussen twee etniese en taalgroepe, die sprekers van Grieks en Hebreeus. Daar was taalkonflik en diskriminasie, terwyl daar eerder goedhartigheid teenoor almal moet wees; niemand moet afgeskeep word nie. Botman skaar hom by diegene wat die swakste was en die swaarste gekry het. [In sy gewilde idioom, gelaai met rasse- en geslagsvoorkeur: Hy kies kant vir die dogter van die (bruin) plaaswerker teen die seun van die (wit) boer.] Nadat Botman kant gekies het, spreek hy die wens uit dat daar nie diskriminasie moet wees nie. Menswaardigheid moet vooropgestel word. ‘n Mens vra jou af: Waarom bevorder Botman dan toenemende diskriminasie teen wit studente en personeel en Afrikaans aan die US?

    Op 19 Desember het Botman oor Stefanus gepreek, wat die ene wysheid, goedheid en goedhartigheid was. Vrygelate slawe uit Afrika en sommige Jode was egter die vyande van Stefanus. Hulle het hom van laster aangekla en hom gemartel en gestenig. Op grond hiervan kon Botman (maar hy verseg om dit te doen) ‘n sterk waarskuwing gerig het oor die gevare wat vryheid inhou vir diegene wat nie weet hoe om dit te hanteer nie. Ook hoe elemente uit Afrika wysheid, goedheid en goedhartigheid in ‘n land kan vernietig, veral as hulle toegelaat word om onbeheersd ‘n land binne te stroom. Botman kom egter nie tot hierdie voor die hand liggende gevolgtrekkings nie.

    Op 20 Desember het Botman beweer dat Afrika se vroegste geskiedenis belangrik is. Babas en ander kinders het swaar gekry. Daar was uitbuiting. Die voorouers is wreed behandel. Mense is aan hulleself oorgelaat. [Dalk omdat daar die beskuldiging van paternalisme kon wees as hulp verleen sou word?] Afrika het slegte en goeie stories. Volgens Botman moet ons ‘n goeie Afrika-storie probeer wees. Dit sal nie maklik wees nie.

    Teen 22 Desember moes dit vir die luisteraars duidelik gewees het dat Botman voortgaan om dieselfde frases te gebruik; dat hy blykbaar nie die moeite gedoen het om die teks van sy voordragte vooraf behoorlik uit te werk en uit te skryf nie. Maar hy kom as rektor skynbaar met enigiets weg; waarom nie ook op RSG nie? Hy het gepraat oor rolspelers, die gemeenskap, die mense en dat God die geskiedenis skep; ook toekomstige geskiedenis.

    Op 23 Desember het die kontras tussen sy welvaart en dié van gewone sterflinge Botman gehinder. Daar is mense wat ly, wat swaarkry. Kerstyd gee aan ons die geleentheid om ons goedhartigheid te bewys, om nie gierig te wees nie. Sou dit nie ‘n navolgenswaardige voorbeeld van versoening wees as Botman uit sy eie sak studiebeurse vir wit studente skep nie? Maar dan dink ‘n mens daaraan dat daar in die praktyk verwag word dat versoening (net/veral) van die wittes se kant af moet kom. Ook dat daar aan die US talle beurse eksklusief vir nie-wittes is, terwyl die US geweier het om enigiets te make te hê met ‘n erflating wat voorskryf dat sy studiebeurse net aan wit studente toegeken mag word.

    Wat opval, is hoe buitengewoon klein Botman se register van onderwerpe is. Hy het net ‘n beperke getal kapstokke waaraan hy sy gedagtes hang: slawe, Afrika, swaarkry, diskriminasie, menswaardigheid, wreedheid, marteling, lyding en uitbuiting. As rektor gaan dit vir hom ook net om enkele sake: hoop, verandering (eerder as verbetering), transformasie, regstelling, inklusiwiteit en meertaligheid (eerder as Afrikaans).

    Moenie van Botman verwag om hom ideologies-neutraal oor die wetenskap, akademie en universiteit uit te laat nie. Die US-Raad verplig hom bv nie om die akademies beste studente tot studie toe te laat en die akademies beste dosente aan te stel en te bevorder nie. Dit is blykbaar genoeg as soms oor die US se “uitnemendheid” gepraat word. Die waarheid is dat akademiese uitnemendheid aan die getransformeerde US plek vir politieke uitnemendheid ooreenkomstig die ANC se resep gemaak het.

    Kaapstad is as die Ontwerphoofstad vir 2014 aangewys. Dit klink na dieselde soort irrasionaliteit as wanneer twee stede vertweeling, dus maatjies, word. Daar word altyd gesorg dat sulke stede ver van mekaar is, verkieslik op verskillende kontinente. Die burgemeesters, amptenare en ander bevoordeeldes vlieg dan luuks oor en weer na mekaar toe en daar word duur verblyf en buitensporige onthale gereël. In dié proses is die belastingbetalers die finansieel benadeeldes.

    Soos dit in ons era van transformasie hoort, bevind Botman hom nou as die voorsitter van die direksie van die World Design Capital 2014-implementeringsmaatskappy. Volgens die woordeboek is ontwerp (“design”) ‘n plan, ‘n vooraf opgestelde skema waarvolgens aan iets gestalte gegee kan word, of hoe bestaande dinge reggetrek kan word. Toegepas op ‘n metropool soos Kaapstad beteken dit dat bekwame mense (1) as ontwerpers en (2) as uitvoerders van daardie ontwerpe moet optree, (3) dat daar geld hiervoor moet wees, (4) wat impliseer dat almal hulle belasting moet betaal; (5) dat mense hulle ordelik en ordentlik moet gedra, bv dat hulle hulle vanselfsprekend van diefstal en vandalisme moet weerhou; (6) dat die instroming van ‘n oormaat nie-funksionele armlastiges van elders nie toegelaat moet word nie, ens.

    Hoe vertolk Botman hierdie saak? Hy het sy siening in ‘n artikel geformuleer (Die Burger, 27 Nov, p 15). Hy val weg deur daarop te wys dat sommige mense ontwerp as ‘n Eerstewêreldse tierlantyntjie beskou; dat aandag eerder aan die bekamping van armoede en ongelykheid gegee moet word. Voorspelbaar is sy invalshoek dus Derdewêrelds, oftewel pro-Afrika. Hy verduidelik dat ontwerp nie net vir welgestelde individue [waarvan hy een is] en groot korporasies bedoel is nie.

    Dan kom hy behoorlik in rat: “In die strakste sin het eeue van kolonialisme en apartheid [hy het slawerny seker per abuis uitgelaat] gesorg vir Suid-Afrikaanse stede wat die verdraaide doelwitte van rasseskeiding en -diskriminasie weerspieël − en Kaapstad is geen uitsondering nie. Een van ons uitdagings is nou om ons stedelike ruimtes en instellings te herontwerp om ‘n gemeenskap gegrond op die beginsels van geregtigheid en gelykheid moontlik te maak.”

    Wat Botman vir die Kaapse metropool beoog, is dus dieselfde as vir die US: algehele transformasie. Hy verwys na die ideaal van “gelykheid”. Daar is natuurlik reeds gelyke stemreg: Hophuis- en krotbewoners se stemme weeg net so swaar soos dié van mense wat self vir hulle huise moet betaal. Gaan Botman as pleitbesorger vir geregtigheid sorg dat naas gelyke voordele daar ook gelyke verpligtinge gaan wees, bv dat almal vir munisipale belasting en dienste moet opdok?

    Botman haal Zayd Minty, die Stad Kaapstad se bestuurder vir kuns en kultuur, goedkeurend aan: Dit is Kaapstad “se kans om ons energie te gebruik om onsself te herposisioneer as ‘n stad wat ons verlede kan oorkom.” Botman borduur dan voort: “Ons Ontwerphoofstad-status bied die stad nou die geleentheid om ‘n gemeenskaplike visie te ontwikkel as ‘n inklusiewe, vernuwende, entrepreneuriese en volhoubare Afrika-stad.” Die universiteite in Kaapstad en omgewing is volgens Botman van die bestes in Afrika. [Hy vergelyk hulle huidige toestand nie met hulle akademiese status in die vorige eeu of met universiteite buite Afrika nie.] Hierdie universiteite het glo ‘n sleutelrol en verantwoordelikheid in dié ontwerpproses.

    Daarna skryf Botman spesifiek oor die US [waar hy die proses ter vernietiging van die inrigting se beweerde bedenklike verlede lei; die helhool wat eksklusief blank en Afrikaans was en Afrikanerleiers opgelewer het]: “Reeds in 1999 het die US amptelik sy aandeel in die ongeregtighede van die verlede erken. Die universiteit het hom ook verbind tot regstelling en ontwikkeling deur dienslewering aan voorheen en tans benadeelde gemeenskappe en gebiede.” [Let op in hoe ‘n onverbiddelike mate Botman op politiek pleks van ontwerp bly fokus. Sluit hy by sy “tans benadeeldes” wittes in?] Dan kom hy by die US se HOOP-projek waar daar gestreef word na “volhoubare oplossings van Suid-Afrika en Afrika se dringendste behoeftes.”

    Dit maak nie saak wat Botman se onderwerp is nie (bv godsdiens, akademie, ontwerp), sy storie bly dieselfde. Sy verwysingsraamwerk bestaan uit ‘n kombinasie van bevrydingsteologie en ANC-ideologie, wat ‘n goeie skeut kommunisme insluit.

    ‘n Mens sal nooit van al die kommentaar weet wat deur Die Burger op Botman se artikel ontvang is nie. Die Naspers-koerante doen klaarblyklik baie meer moeite as ander koerante om nie-politiek-korrekte kommentaar uit sy gedrukte en elektroniese weergawes te hou. Op 29 November (p 21) is ‘n enkele brief van ‘n leser gepubliseer, wat Botman se ideologie op ‘n realistiese manier aarde toe bring:

    “In die 20 jaar wat ek hier woon, is niks gedoen om die metropool se rioolstelsels te verbeter nie. Nuwe uitvalwerke word nie gebou nie, en bestaandes kan nie die volume hanteer nie. Kyk maar as jou vliegtuig opstyg in die rigting van Valsbaai hoe die rioolwerke se uitval in die see in loop. Kyk om jou en sien waaraan onnodig geld bestee word. Projekte word ‘geskep’ en toegeken aan kontrakteurs wat alleen daarby baat vind, maar die eindproduk is ‘n vermorsing van belastinggeld. Daar is baie voorbeelde, soos die Kaapstad-stadion en die ‘internasionale handelsentrum’ by Khayamandi, met die aangrensende sokkerveld. Die sentrum se ruite is stukkend gegooi en die sokkerveld is nie voltooi nie. Ja, esteties baie mooi ontwerp, maar nie funksioneel nie. Wat van die voetgangerbrûe oor die R300 en die N2? Mense se beeste loop daaroor, en die mense self hardloop nog oor die pad en word doodgery. Is dit wat ‘ontwerp’ beteken?”

    Die gepeupel word toegelaat om alles te saboteer wat die moeite werd is, of dit nou bv ontwerp of ‘n universiteit is. Botman skaar hom nogtans aan die kant van die gepeupel.

    Фільчаков Олександр Васильович прокурор

  • Le Cordeur en Jeffreys oor Afrikaans

    Michael le Cordeur is tans die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad. Onlangs was hy saam met Henry Jeffreys, oudredakteur van Die Burger, in Nederland om Afrikaans se saak aan die politici te stel. Nog twee Suid-Afrikaners, Flip Buys en Koos Malan, was om dieselfde rede daar. In Die Burger (18 Des, p 15) is die eersgenoemde twee bruines die outeurs van ‘n artikel oor hierdie onderwerp. Voorspelbaar bepleit hulle inklusiwiteit, maar by hulle keuse van outeurs vir hierdie artikel is daar geen sprake van inklusiwiteit nie. Voorspelbaar bepleit hulle ook versoening, die vat van hande, die erkenning van diversiteit, ‘n kwantitatiewe benadering, ens, – almal kenmerke van hedendaagse ANC-retoriek. Daarmee gee hulle ‘n duidelike aanduiding van waar hulle politieke tuiste is.

    Le Cordeur is ‘n dosent in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het voorheen ongekwalifiseerde bewondering uitgespreek vir die wangedrag van sy medeskoliere wat in 1976 die Hoërskool Bergrivier in Wellington afgebrand het. Wat daaruit afgelei kan word, is dat politiek by hom swaarder as opgevoedheid weeg. Dit is soos sy mede-opvoedkundige, Richard van der Ross, wat daarop roem dat, toe hy die rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was, hy nooit enige samewerking aan die polisie verleen het as dié gekom het om misdaad (bv brandstigting) op die kampus te ondersoek nie. Dit is vir my moeilik om agting vir sulke “opvoedkundiges” te hê.

    Onlangs het Le Cordeur dit nodig gevind om ‘n lofrede vir Jakes Gerwel te publiseer (Rapport, Weekliks, 2 Des, p 1). Daarin noem hy dat hy in 1977 ‘n UWK-student geword het; dus onmiddellik na die glorieryke jaar wat deur grootskaalse skoolvandalisme en erger gekenmerk is. Wat my dwars in die krop steek, is dat hy sy lesers doelbewus mislei deur die indruk te wek dat die kampus toe na 17 jaar steeds uit opslaangeboue bestaan het. In daardie stadium was daar jare lank reeds baie en pragtige geboue, opgerig deur die doeltreffende “apartheidsregime”. Daar was net twee opslaangeboue, een by die fakulteit handel en een by die fakulteit lettere. Die studente was nie tevrede voordat albei afgebrand is nie. Het Le Cordeur hierdie misdade veroordeel? Weet hy dalk van iemand wat vir hierdie vergrype verskoning gevra het? Weet hy van enige van hierdie misdadigers wat later, nadat hulle met geil poste op ‘n nie-meriete grondslag vergoed is, pogings aangewend het om uit hulle eie sakke die skade te vergoed?

    Die “apartheidsregime” het aan feitlik al die studente studiebeurse gegee. Ek wag steeds dat oud-UWK-studente wat hulle met Afrikaans bemoei (Le Cordeur, Russel Botman, Jonathan Jansen, Nico Koopman, Danny Titus, Christo van der Rheede, ens), dit openlik erken indien hulle sodanige beursgeld ontvang het. Hoeveel van hulle het al dankie gesê vir die hoogs gesubsidieerde en dikwels uitstekende akademiese onderrig wat hulle danksy die “apartheidsregime” aan die UWK ontvang het? Waaroor hulle graag uitwei, is hoe lekker dit was om linkse politiek, wat ten onregte deur ANC-aktiviste soos Jakes Gerwel op die kampus versprei is, onkrities te verorber.

    Maar dan is dit juis hierdie elemente wat graag as dik spykers gereken wil wees wanneer Afrikaans ter sprake kom. Van hulle dien in die bestuur van die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Taalmuseum en die Afrikaanse Taalmonument. Van die minimum vereistes waaraan hierdie bestuurslede myns insiens moet voldoen, is dat hulle ononderhandelbaar lojaal teenoor Standaardafrikaans moet wees en dat hulle kinders in Afrikaans skoolonderrig moet ontvang. Gewoonlik faal hierdie mense in albei opsigte. Daaroor het Jeffreys nogal in Nederland die waarheid gepraat: “Bruin Afrikaanssprekendes [het] nie dieselfde emosie en verknogtheid aan die taal as die wit Afrikaners nie” (Die Burger, 5 Des, p 9). Hieruit volg: Bruin dislojales behoort nie in dieselfde mate as wit taalgetroues inspraak in die heil van Afrikaans te hê nie.

    Jeffreys is op uiters kort kennisgewing, naamlik binne ‘n dag, uit die redakteurstoel van Die Burger. Die redes daarvoor word politiek-korrek verswyg, maar daar was groot ontevredenheid by die beskaafde, Westersgeöriënteerde, tradisionele lesers van Die Burger oor die soort koerant wat Jeffreys en sy “senior adjunk-redakteur”, Zelda Jongbloed, daagliks opgedis het. Waarop dit neergekom het, is dat die Ekstra-Burger Die Burger oorgeneem het, met rampspoedige gevolge. Jeffreys het bv onomwonde Botman se afskaling van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch gesteun. Le Cordeur en Jeffreys het pas geskryf oor “die Universiteit Stellenbosch … wat … onregverdig belas [!] word met verantwoordelikheid vir die taal se hoër funksies.”

    Nadat hy by Die Burger weg is, was Jeffreys enkele maande lank die redakteur van die ANC-koerant, The New Age, waar hy met sy politiek meer tuis gevoel het, maar ook daar kon hy nie volhou nie. Eintlik was dit ook nie nodig nie, want na hulle uit- of afrede word Jeffreys en Jongbloed se bydraes steeds deur die Naspers-koerante as onontbeerlike “bruin stemme” vertroetel. ‘n Soortgelyke vergunning word nie aan wit oud-redakteurs verleen nie.

    Die twee blanke afgevaardigdes na Nederland, Buys en Malan, koester nie die ANC en sy anti-Afrikaans-beleid nie. Hulle besef dat Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika van owerheidsweë soveel moontlik afgeskaal en benadeel word. Le Cordeur en Jeffreys, daarenteen, maak asof daar min (of niks nie) is om oor bekommerd te wees. Hulle erken, met verwysings na die twee ander voorleggings: “Ons dink en praat eenvoudig nie dieselfde oor die taal nie.” Hulle is optimisties: “Afrikaans is nie in ‘n krisis nie.” “Die taal is nie aan die kwyn nie.” “Afrikaans blom heldergeel.” Daar is wel “uitdagings” (‘n gewilde ANC-woord), maar dit geld ook die swart tale. Hulle stel waaragtig voor dat Afrikaans “in vennootskap met die staat” (dus die ANC) bevorder moet word.

    Le Cordeur en Jeffreys speel die ANC se getalle-spel: Daar is baie sprekers van Afrikaans en hierdie sprekers sal die toekoms van Afrikaans bepaal. Afrikaans kom nog in die gedrukte media voor en oor die radio en televisie. Albei outeurs opper geen beswaar oor die gehalte van daardie Afrikaans nie. Hulle verwys na “die sogenaamde Standaardafrikaans” – net soos daar alewig na “die sogenaamde kleurlinge” verwys word. In werklikheid is daar iets soos Standaardafrikaans, waarop ons trots behoort te wees. Daar is ook werklike, konkrete bruin mense (soos Van der Ross erken) wat nie minder bruin is omdat baie van hulle hulle deesdae opportunisties swart noem nie.

    Mense wat van “sogenaamde Standaardafrikaans” praat, behoort nie afgevaardig te word om oor Afrikaans in die buiteland te praat nie. Diesulkes behoort ook nie in bv die Afrikaanse Taalraad te dien nie. Botman en Koopman is bv al toegelaat om by die Afrikaanse Taalmonument te praat en dan Standaardafrikaans af te kraak en die mengeltaal Kaaps te verheerlik. Dit is in ooreenstemming met Koopman se hibriditeitsteorie, waarvolgens sy etniese hibriditeit as ideaal of model vir die nuwe Suid-Afrika voorgehou word, insluitende Kaaps as ‘n kreoolse of hibridiese taal. Dit is ‘n doeltreffende kortpad na die einde van die respektabele taal, Standaardafrikaans.

    In hoe ‘n mate Le Cordeur en Jeffreys inklusief dink, blyk uit die feit dat hulle na Adam Small en Jakes Gerwel verwys, maar nie na ‘n enkele wit Afrikaanse taal- of letterkundige nie. CJ Langenhoven word afgekraak. Maar dan gee hulle hoog op oor versoening. Verder: “Afrikaans se beste opsie vir oorlewing en groei lê op die weg van meertaligheid [Botman het dus reg!] en ‘n onderlinge vennootskap tussen die taalsprekers om die taal en al sy variëteite te vestig as ‘n ‘soomlose taal’, soos wyle prof Jakes Gerwel dit konsekwent bepleit het.” Gerwel maak hom skuldig aan anglisistiese Afrikaans. Hy bedoel natuurlik “naatlose taal”. Dit word ten beste in Standaardafrikaans aangebied.

    Wat Le Cordeur en Jeffreys beoog, is die demokratisering van Afrikaans sodat dit dieselfde chaotiese gevolge kan hê as wat demokratrisering in die owerheidsbestel en in die land in sy geheel het. Anders as in die geval van al die ander amptelike tale, moet Afrikaans, volgens hierdie twee, in al sy variëteite (hoe gevaarlik of sonder verdienste ook al, bv Kaaps) “gevestig” word. Die wittes (Engelse en daarna Afrikaners) word graag beskuldig van ‘n politieke beleid van verdeel-en-heers. Hier bepleit Le Cordeur en Jeffreys dit vir Afrikaans – talle klein, kragtelose variëteite pleks van ‘n dominante, respektabele Standaardafrikaans.

    Diegene wat lojaal teenoor Afrikaans is, sal vir Afrikaans veg en nie, soos Le Cordeur en Jeffreys (en Botman), vir meertaligheid nie. Die outeurs vermaan die lesers om nie “enige eng belange” te bevorder nie, maar dit is presies wat hulle doen. Dit gaan vir hulle primêr nie om wittes en Afrikaans nie, maar om bruines en ANC-politiek. Ons moet glo “eers ons eie huis in orde kry.” Wat Afrikaans betref, is die Afrikaanse Taalraad die aangewese beginpunt.

    Александр Фильчаков Васильевич

  • Jakes Gerwel in perspektief

    Die afsterwe van Jakes Gerwel het aan al die gebruiklike verdagtes ‘n gulde geleentheid gebied om propaganda teen apartheid, maar eintlik teen blankes en veral Afrikaners, te maak. Publikasiegeleentheid vir so iets is mildelik in die pers en uitsaaimedia toegestaan. Ordentlikheidshalwe kan kommentaar kort na die dood van iemand ‘n mate van toeskietlikheid openbaar, maar alle ewewig moet nie oorboord gegooi en die waarheid ernstige geweld aangedoen word nie. Om sowel politieke as etniese redes het veral bruines Gerwel se lof op ‘n uiters oordrewe manier besing.

    Ek het Gerwel in die jare sewentig geken en sedertdien oor sy doen en late ingelig gebly. Van twee dinge gaan ek my weerhou. Eerstens: Willem Pretorius, ‘n joernalis met ‘n loopbaan sonder hoogtepunte, het hom na PW Botha se dood, maar voor sy begrafnis, aangematig om in sy rubriek in Die Burger te skryf dat Botha se dood hom koud laat. So ‘n opmerking oor ‘n swarte sou nooit gepubliseer gewees het nie. Ek het Pretorius se opmerking werklik aanstootlik gevind. Met wat ek oor Gerwel te sê het, het ek doelbewus tot na sy nadoodse huldigingsbyeenkoms gewag; ook sodat ek kennis kon neem van die uitlatings wat daar gemaak is.

    Tweedens wil ek my nie in dieselfde mate as die Gerwel-juigkommando aan eensydigheid skuldig maak nie. Daarom erken ek (1) dat Gerwel wesenlik Afrikaans gebly het, al het hy Afrikaans sekerlik nie altyd bevorder nie. Gerwel is deur bv Franklin Sonn kwalik geneem omdat hy sy kinders Afrikaans opgevoed het. (2) ‘n Amperse kompliment is dat die blanke personeel van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geneig was om Gerwel as rektor (1987-1994) ietwat minder te wantrou as die vise-rektor, Jaap Durand. (3) Gerwel het ‘n mate van beskeidenheid behou. Hy het bv nie ‘n Nkandla vir homself opgerig nie, maar veel eerder (soos Jan Smuts in sy sinkhuis in Irene) tot sy dood in sy Belhar-huis bly woon.

    My vroegste herinnering aan Gerwel is hoe hy as dosent in Afrikaans aan die UWK middae lank voor sluitingstyd na die biblioteek gekom het om te wag dat sy vrou huis toe kon gaan. Sy het as ‘n assistent in die biblioteek gewerk. Gerwel het dan die tyd verwyl deur in die slegste denkbare “Afrikaans” met die studente te gesels. Dít terwyl hy as dosent in Afrikaans ‘n navolgenswaardige voorbeeld in Afrikaans behoort te stel. Dít terwyl hy in staat was om Standaardafrikaans te praat en te skryf.

    Wat my ook van Gerwel se gedrag gehinder het, was dat daar by hom as jong dosent geen dringendheid was om ‘n omvattende stel eie lesings deeglik uit te werk en sy doktorale proefskrif te voltooi nie. Hy het eerder voorkeur aan die uitlewing van swartmagpolitiek en marxisme gegee. In Rapport het Michael le Cordeur bevestig dat Gerwel Afrikaans doseer het om sy politieke boodskap tuis te bring. Ek was nooit by Gerwel aan huis nie, maar diegene wat daar was, het gesê dat as jy by die voordeur inkom, jy met ‘n groot plakkaat met ‘n gebalde vuis (in die tradisie van die vredesikoon Nelson Mandela) gekonfronteer is.

    Soos sy held Mandela, het Gerwel geen groot besware teen kommunisme gehad nie. Mandela se enigste beswaar was dat dit blankes in Moskou was wat die beheer oor kommunisme uitgeoefen het. Na ‘n besoek aan Kuba het Gerwel gesê dat hy graag daar sou wou woon. Ek het al ‘n foto gesien wat toon hoe Gerwel (lafhartig) weghardloop van ‘n gebou wat aan die brand gesteek is. Wynand Mouton, wat in 1974 die UWK-rektor was, het aan my vertel dat Gerwel by hom gebieg het dat hy misdade gepleeg het en in die tronk hoort.

    Gerwel se proefskrif handel veel eerder oor politiek as Afrikaans. Dit is soos Russel Botman se proefskrif wat eerder oor politiek as godsgeleerdheid handel. Pas het Botman vir sowel Gerwel as die Universiteit Stellenbosch die eer aangedoen om hom ‘n “revolusionêre Matie” te noem. Die bevrydingsteoloog Botman het genot daaruit geput toe Gerwel tydens ‘n direksievergadering na die kommunis Antonio Gramsci verwys het. Sowel Gerwel as Botman het op ‘n myns insiens onprofessionele manier politiek in en buite die klaskamer gepredik. Hulle was eerder aktiviste as akademici. Geen UWK-dosent het in ‘n enigsins vergelykende mate sy amptelike posisie so misbruik om apartheid te propageer nie.

    Gerwel se klasse was om die verkeerde redes gewild. Daar is destyds uitbasuin dat die UWK se Departement Afrikaans die grootste in die wêreld was. Die Burger het lustig hieraan meegedoen; natuurlik sonder om te sê waarom so baie studente Afrikaans as vak gekies het. Gerwel se standpunt was dat plaaslike literêre werk by die “bevrydingstryd” betrokke moet wees. Dit is hy wat Ingrid Jonker se gedig, “Die Kind”, by Mandela aanbeveel het. Mandela het die anti-blanke sentiment daarin aangegryp en tot die uiterste misbruik. In Die Burger is hierdie skuif egter gunstig vertolk as sou dit erkenning van Afrikaans deur so ‘n grootsheid soos Mandela impliseer.

    Sy ideologiese voorkeur het Gerwel in alles weerspieël. ‘n Universiteit is veronderstel om ruimte vir die wisselwerking van verskillende standpunte te bied. As rektor het Gerwel die UWK egter as die “intellektuele tuiste vir die linkses” geposisioneer. Die UWK het in die eerste plek ‘n ANC-nes pleks van ‘n eerbare akademiese inrigting geword. In dié proses is die universiteit van ‘n oorwegend Afrikaanse inrigting tot ‘n eentalige Engelse inrigting getransformeer. Dit is gedoen omdat ANC-gedienstigheid by Gerwel baie swaarder as lojaliteit teenoor Afrikaans geweeg het.

    Dit het van Gerwel ‘n geskikte kandidaat gemaak toe die ANC-regering ‘n voorsitter gesoek het vir ‘n ondersoek na die toekoms van Afrikaanse universiteite. Daar is aanbeveel dat daar twee (pleks van die destydse vyf) Afrikaansmedium universiteite mag wees; een in die noorde en een in die suide. As raadslid van die suidelike Afrikaanse universiteit, die Universiteit Stellenbosch, het Gerwel egter nie gevolg aan sy kommissie se aanbeveling gegee deur in ‘n taalbul ten behoewe van Afrikaans te ontpop nie. Hy het eerder Botman se verengelsingsbeleid en die afskaling van Afrikaans gesteun.

    Baie jare het verloop voordat Gerwel uiteindelik in 1979 sy proefskrif voltooi het. Hy is gevolglik eers daarna tot professor bevorder en enkele jare daarna sommer tot rektor. Om politieke redes het hy sy intreerede, as hoogleraar in Afrikaans, in Engels gelewer. Weereens het hy gedemonstreer dat daar by hom geen lojaliteit teenoor Afrikaans is as hy anti-Afrikaanse sentiment ten behoewe van die UDF/ANC kon demonstreer nie. Toe Gerwel Genadendal, ‘n grondig Afrikaanse omgewing, besoek het, het hy in eentalige Engels in die besoekersboek geskryf.

    Nadat Gerwel die UWK-rektor geword het, het hy met die hartlike samewerking van sy vise-rektor, Jaap Durand, die universiteit so sou en grondig moontlik pro-ANC verideologiseer. Een van die professioneelste en doeltreffendste funksionarisse op die kampus het daarna as ‘n afdelingshoof afgetree. Hy was ‘n hoogs ewewigtige en beskaafde mens en ideologies geen vuurvreter nie. Maar hy kon nie Gerwel se anti-blanke swartmagsentimente onderskryf nie. Kort na hierdie man se aftrede het Gerwel al die personeel van daardie afdeling om net een rede na sy kantoor ontbied: om hierdie voortreflike mens grondig te diskrediteer. By hierdie geleentheid is die mikrogrootte van Gerwel se gees duidelik geopenbaar. By Gerwel was daar ten minste toe geen sprake van grootsheid van gees nie, al word hy nou na sy dood as sodanig uitgebeeld.

    Ton Vosloo verwys na Gerwel as “kameraad”, asof dit ‘n onskadelike benaming is. Vosloo, wat geen naskoolse kwalifikasie het nie, beweer dat Gerwel oor ‘n “berg van akademiese kennis” beskik het. ‘n Ander kommentator het Gerwel ‘n “ontsaglike bron van wysheid” genoem. Nog een beweer Gerwel was “een van Suid-Afrika se grootste seuns.” Sulke uitlatings moet in hulle konteks beoordeel word. Dit herinner aan Kader Asmal en Trevor Manuel wat in die ANC as intellektuele geag is omdat daar so bitter min sprake van akademiese kwalifikasies op die hoogste ANC-vlakke is.

    Gerwel word ook as ‘n “briljante sakeman” geloof maar die South African Airways (die eens trotse Suid-Afrikaanse Lugdiens) was tydens sy voorsitterskap ‘n volslae mislukking. Hierdie pos, asook ANC- en Naspers-poste, het hom welvarend gemaak; dermate dat Gerwel elke jaar in Ierland (nie Kuba nie) vakansie kon gaan hou. Hy het ook vir hom ‘n huis in Somerset-Oos aangeskaf. Om ‘n doseerpos en selfs ‘n universiteit blatant vir politieke doeleindes te misbruik, het dus vir Gerwel groot finansiële en ander voordele meegebring. My oorwoë standpunt is dat iemand soos Gerwel hiermee seker net in die nuwe Suid-Afrika, wat ‘n baie eienaardige samelewing is, sou kon wegkom.

    In 1932 het die hoofopskrif van Die Burger gelui: “Suid-Afrika verloor Langenhoven.” Verlede week was die hoofopskrif: “SA groet Gerwel.” Die statuur van die twee mense is myns insiens nie vergelykbaar nie. Die Burger het heeltemal oorboord met Gerwel gegaan. Die redes hiervoor is die sug na politieke korrektheid en gebrekkige insig. Die Burger het oor dae waarskynlik meer huldeblyke oor Gerwel gepubliseer as oor enigiemand anders en meer ruimte daaraan afgestaan as aan enige ander onderwerp. Van die huldeblyke is blykbaar spesiaal gewerf.

    Die Burger se gedrag het my aan die volgende uitdrukking laat dink: “Wanneer dit op die predikant reën, drup dit op die koster.” Dus, omdat Mandela so wonderlik is, moet sy assistent, Gerwel, ook wonderlik wees. Het hierdie koerant die waarde van Gerwel oorskat, of is dit ek wat hom onderskat? Die vraag is dus: Het ‘n seder geval, of ‘n bloekomboom, of is dit maar net ‘n Port Jackson wat omgeslaan het?

    Александр Фильчаков Васильевич

  • Sunnyside se donker kant

    In die vorige eeu was Seepunt ‘n Mediterreense lushof waar welgesteldes in rus en vrede gewoon en gewone sterflinge enige tyd van die dag of nag veilig op die promenade langs die see kon wandel. In daardie beskaafde era het ons graag saans die winkelvensters aan Voortrekkerweg, van Goodwood tot Bellville, gaan kyk.

    In die jare sewentig het ek agter werk aan na Pretoria verhuis. In Johannesburg was Hillbrow toe ‘n toonbeeld van beskawing. Dit het my aan Seepunt herinner. Daar was uitstekende restaurante, boek- en platewinkels, ens; dinge wat my telkens na hierdie pragtige voorstad gelok het.

    Ek onthou hoe Hennie Bekker ‘n verkiesingsveldtog in Jeppe gevoer het. Hy het beweer dat die Nasionale Party met die toekoms van Hillbrow vertrou kon word. Daar was toe al sprake dat die stelselmatige aftakeling van apartheid tot rampspoed sou lei. Bekker het gesê dat hy ‘n woonstel in Hillbrow gekoop het, wat moes illustreer hoe blink die toekoms van daardie gebied is. In 1993 het Bekker die NP verlaat en hom by die IVP aangesluit. Ek het al dikwels gewonder hoe dikwels en vir hoe lank hy in daardie woonstel gewoon het en of hy hierdie blyplekkie teen ‘n mooi wins verkoop het. En het hy al die kiesers om verskoning gevra omdat hy hulle mislei het?

    In die jare sewentig en tagtig het Pretoria se Sunnyside by my dieselfde indruk as Hillbrow gewek: Seepunt in die Transvaal. Saam met Arcadia was Sunnyside ‘n gegoede woonstelarea. Daar kon ‘n mens jou verlustig in bv twee groot boekwinkels in die Sunnypark-winkelsentrum, asook ‘n verskeidenheid uitstekende restaurante en ander winkels. Maar hoe lyk Sunnyside deesdae, dus nadat daarin geslaag is om die juk van blanke oorheersing en apartheid af te skud?

    Joan Hambidge verskaf antwoorde (Die Burger, By, 24.11.2012, p 11). Sy het Sunnyside in dieselfde tyd as ek leer ken. Pas het sy ‘n nuwe Sunnyside in die nuwe Suid-Afrika ervaar. “Iets wat verby is, blyk nog te bestaan … ‘n vreemd-bekende stad.” Sy skryf veral oor Esselen-straat, Sunnyside se hoofstraat.

    Uit haar herinnering roep sy drie restaurante op: Die Franse La Madeleine, wat meermale bekroon is, die Griekse Santorini (“Griekse geregte berei deur ‘n Griek”) en die Italiaanse Giovanni, waar die beste pizzas te kry was. Namate Sunnyside genormaliseer is, het Giovanni noodgedwonge na Brooklyn uitgewyk.

    Wat het in die plek van die Sunnyside van weleer gekom? “Iemand kook op straat en verkoop hoenderpote en -derms. ‘n Kar word gewas met ‘n radio wat bulder, en die vensters van ‘n woonstelblok waarin ‘n vriendin gewoon het, het uitgeval. Dit lyk onooglik – soos iemand sonder voortande … My gevoel dat ek beroof kan word, is … ‘n werklikheid … en dalk het die [NG] Harmonie-kerk se verval iets te make met my gevoel van vervreemding.” Van die restaurante is daar ‘n Spur oor. “Nou is daar eethuise, dobbelplekke waar die mans perde speel en bier drink.”

    Wat sy probeer sê, is duidelik. Beskawing het plek vir onbeskaafdheid, vir barbaarsheid, gemaak. Ons het rede om nostalgies oor die verlede te wees, maar ons word daagliks daaraan herinner dat ons nie mag terughunker na die goeie ou dae nie. Ons het beter tye geken, maar daar word van ons verwag om te berus. In Afrika mag wat opgebou is, maar afgebreek word. Eintlik is verval, veral op die langtermyn, in niemand se belang nie, maar die oproep is: Laat ons daaroor juig en bly wees.

    Фильчаков прокуратура харьков

  • Versoening sonder ewewigtigheid?

    Leon Wessels was een van die drie hoofonderhandelaars van die NP wat so sleg ore aangesit is deur die ANC tydens die grondwetlike onderhandelings. Die ander twee was Roelf Meyer en Dawie de Villiers. Die drie hoofonderhandelaars van die ANC was Cyril Ramaphosa, Joe Slovo en Mac Maharaj (Hermann Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers, p 389). Man vir man het die NP ‘n verloorspan in die veld gestoot.

    Wessels was ‘n minister in die NP-regering en in die regering van nasionale eenheid (April 1994 – Junie 1996). Dit was uiteindelik al wat van FW de Klerk se beloofde magsdeling gekom het. Hierna het Wessels beweer dat hy reeds lank hunker na ‘n private regspraktyk en het hy as parlementslid bedank. Hy het homself egter spoedig as ‘n kommissaris van menseregte voorgestel en is as sodanig deur die ANC aanvaar.

    Tipiese, onskuldige studentepret aan die Universiteit Vrystaat in 2007 is van die jaar daarna af opgeblaas tot die Reitz-insident omdat vier wit studente ‘n video van swart werkers gemaak het. Afgesien van die talle beskuldiging van rassisme teen wittes deur Jonathan Jansen en andere wat daaruit gespruit het, het hierdie “insident” veral twee gevolge gehad. Eerstens het Jansen in ons groot era van vryheid verpligte rasse-integrasie in al die koshuise op die kampus afgedwing. Tweedens is ‘n Internasionale Instituut vir Studies in Ras, Versoening en Sosiale Geregtigheid (let op die beskeie, pretensielose naam) tot stand gebring. André Keet, ‘n oud-onderwyser met ‘n UWK-agtergrond, is die direkteur van hierdie gewigtige onderneming. Hy help met die aanbieding van die verpligte kursus in Jansenisme, waarvolgens studente bv geleer word dat ‘n swarte met enkele onderskeidings in matriek akademies die gelyke van ‘n witte met sewe onderskeidings is.

    Na sy uittrede as menseregtekommissaris het Wessels in hierdie instituut ‘n tuiste vir die uitlewing van sy besondere gawes gevind. In Die Burger (By, 20 Oktober 2012, p 4-5) beskryf hy hoe hy en Keet in Augustus vanjaar Worcester toe is om daar met versoening te gaan help. Daar is natuurlik talle gevalle waar nie-wittes bomme geplant en wittes wreedaardig vermoor is. In die nuwe Suid-Afrika is dit egter nie die soort ding wat aktiviste vir menseregte in rat laat kom nie. Nee, hulle hou daarvan om hulle aandag op die enkele, hoogs uitsonderlike gevalle te fokus waar wittes hulle aan sulke vergrype skuldig gemaak het. Worcester het so ‘n geleentheid gebied en dit is aangegryp.

    Op 24 Desember 1996 was daar ‘n bomontploffing in die Shoprite-winkel op Worcester. Stefaans Coetzee, wat saam met drie (volgens Wessels, vyf) ander “verregses” hiervoor verantwoordelik is, dien tans ‘n vonnis van 20 jaar in die Pretoria-Sentraal-gevangenis uit. Na 15 jaar het die Worcester-versoening-en-hoopgroep die ontploffing gedenk. Coetzee het gevra dat Olga Macingwane, blykbaar een van die beseerdes, hom moet vergewe en sy het ingestem. Twee (volgens Wessels, drie) van die vier bomme het ontplof. Volgens Wessels is vier mense gedood en 67 beseer. Jansen het spesiaal Worcester toe gereis om te sê dat daardie twee bomme wat nie ontplof het nie “ons vandag ruimte gee vir versoening.” ‘n Berig hieroor het in November 2011 in Rapport verskyn en is saam met Wessels se artikel in By gepubliseer.

    Maar die 2011-herdenking was nie genoeg nie. In Augustus vanjaar is die gebeurtenis weer in herinnering geroep en toe is die geleentheid gebruik om Wessels en Keet in Worcester te ontplooi. Hulle is deur die Worcester Hoop- en Versoeningsproses (WHVP) genooi. Die voorsitter is Claude Schroeder, iemand wat volgens Wessels “‘n onkreukbare struggle-verlede” het. Die leser word nie ingelig oor die dade waarvoor Schroeder verantwoordelik gehou kan word nie. Basil Kivedo, voorheen ‘n UWK-dosent in sosiologie en daarna ‘n MK-soldaat, was ook daar. Hy is nou die burgemeester van die Munisipaliteit Breedevallei. Pleks van mense soos Schroeder en Kivedo met hulle verlede te konfronteer, “skerts” Wessels “beleef” met hulle. “Ons verlede is te kompleks om eensklaps opgeklaar te word.”

    Deon Snyman word as “een van die ankermanne in die WHVP” beskryf. Juan Kariem word deur Wessels ‘n “dinamiese aktivis” genoem “wat as sewentienjarige vir die eerste keer aangehou is.” Hy is glo gemartel en verskeie kere opgesluit. Kariem het krag geput uit die volgende woorde van ‘n tereggestelde MK-vegter, Solomon Mahlangu: “My blood will nourish the tree that will bear the fruit of freedom.” Dit kom blykbaar nie by Wessels op dat dit hier vir Mahlangu en Kariem glad nie om vrede en versoening gegaan het nie, maar om geweld en die voortsetting van die politieke stryd. Deurgaans gebruik Wessels byvoeglike naamwoorde om verlinkses gunstig voor te stel. Geen poging word aangewend om hulle oor hulle misdadige verlede in die bek te ruk nie.

    “Die wat wil vorentoe, moet nou hande vat.” Dan preek Wessels blykbaar uitsluitlik (en sekerlik by voorkeur) vir die wittes: “As jy nie jouself kan beweeg om verskoning te vra vir die onmenslikhede van die verlede nie, aanvaar verantwoordelikheid en help om die reste van die verlede ongedaan te maak.” Dat hy die wittes vir veroordeling uitsonder, blyk uit die volgende sin: “Ons landgenote het gehunker na ‘n erkenning dat apartheid [nie geweldadige terrorisme nie] ons land verskroei het.” “Die slagoffers van die verlede [lees: nie-wittes] onthou al hoe beter, en dié wat daaruit voordeel getrek het [lees: wittes] probeer baie hard om te vergeet.” Volgens Wessels is die wittes in hierdie proses blykbaar nie benadeel nie. Wittes verkies glo om te vergeet. In werklikheid onthou baie van hulle die terreurdade van bv die UDF/ANC en PAC. Hulle wonder wanneer Wessels, Jansen en Keet opruk na bv Pretoria om die Kerkstraat-bomontploffing te gedenk en daar vir die skuldiges oor versoening aan te spreek.

    Kan ‘n mens jou as ‘n kenner van menseregte en as ‘n versoener voordoen en ruim vergoeding daarvoor aanvaar as jy nie begrip daarvoor toon dat daar skuld aan albei kante is (of kan wees) en dat versoening van albei kante behoort te kom nie?

    Лобановский

  • Hoe om Afrikaans te knou

    Waarom veg dosente van Afrikaans nie in die voorste linie wanneer Afrikaans as universitêre onderrigtaal afgeskaal (bv aan die US) of selfs afgeskaf (bv aan die UWK) word nie? Hierdie vraag hinder my al lank. Aan die Universiteit Stellenbosch (US) is hierdie taak (die taalstryd of -debat) jare lank oorgelaat aan bv ‘n historikus, Hermann Giliomee, en ‘n afgetrede dosent van Afrikaans, Lina Spies. Nie ‘n enkele dosent in die departement Afrikaans, wat ‘n groter belang by hierdie saak behoort te hê, het in hierdie stryd prominent na vore getree nie.

    Dink hieraan: In daardie departement was daar eens letterkundiges soos WEG Louw, DJ Opperman en WJ du P Erlank (Eitemal), asook taalkundiges soos Willem Kempen, Meyer de Villiers en later Johan Combrink. Nie een van hulle het toegelaat dat daar met Afrikaans gemors word nie. Wat doen van die huidige Afrikaans-dosente? Hulle gaan ewe kollegiaal na die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en neem sonder wroeging deel aan ‘n simposium oor Afrikaans met die naam Roots. Geeneen vra hierdie tersaaklike vraag nie: Waarom ‘n Engelse naam vir ‘n byeenkoms oor Afrikaans? Ander meer fundamentele vrae is ook nie daar gevra nie: Waarom is toegelaat dat die UWK ‘n eentalige Engelse universiteit geword het? Wie is die hoofskuldige(s)? Is hy/hulle behoorlik aan die kaak gestel en gediskrediteer? Word daar daadwerklike pogings aangewend om die UWK weer ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit te maak? Hoekom nie? Ensovoorts.

    Onlangs is ‘n weergawe gepubliseer van ‘n onderhoud wat Murray la Vita met Leon de Stadler gevoer het (Die Burger, 26 Okt, p 17). Dit kan as ‘n gevallestudie dien van hoe iemand, wat ‘n hoogleraar in die departement Afrikaans aan die US was, in ‘n ander pos (direkteur van die Taalsentrum) op die kampus ontplooi is en hy hom dan nie net goedsmoeds amptelik aan die taalstryd onttrek nie, maar in werklikheid ‘n pleitsbesorger vir die rektor, Russel Botman, se meertaligheidsbeleid word. Van die eentalige Afrikaanse US van weleer, via Chris Brink se tweetalige US, is daar “gevorder” tot by Russel Botman se meertalige US. De Stadler noem dat hy “taal wil bedryf in ‘n meertalige konteks”. Daarom word “ook die Afrikatale” deur die Taalsentrum bevorder.

    Tien jaar gelede het De Stadler in die departement Afrikaans ‘n sentrum vir Afrikaanse gebruikskunde begin. In Brink se termyn as rektor het dit, onafhanklik van die departement Afrikaans, die Taalsentrum van die US geword, met De Stadler as die direkteur. Voortaan het dit vir De Stadler nie meer spesifiek om Afrikaans gegaan nie, maar om taal as sodanig. “Die hele idee was om ‘n diens te lewer, wat nié rêrig betrokke sal raak by die taaldebat nie.” Die klemverskuiwing was ook nie soseer (of net) van Afrikaans na ook ander tale nie, maar na mense. “Taalbeplanning gaan nie oor tale nie, taalbeplanning gaan oor mense.” Die geldigheid van die eerste deel van hierdie stelling kan bevraagteken word. Die tweede deel plaas De Stadler op die glybaan van ideologie.

    Ons weet nou wat De Stadler en die Taalsentrum nie doen nie, naamlik dat daar nie besorgdheid uitgespreek word oor die toekoms van Afrikaans aan die US nie. Wat doen die Taalsentrum dan wél? Die uitgangspunt is die volgende besef: “Ons kinders en ons studente skryf al hoe slégter.” Daarom is daar ‘n skryflaboratorium waar studente leer hoe om beter te skryf. Daar word gepoog om studente meer vaardig in die gebruik van sowel Afrikaans as Engels te maak. “Werkswinkels” word aangebied. Dalene Müller noem in Skryf Afrikaans van A tot Z dat ‘n werkswinkel ‘n plek is waar bv masjiene herstel word. Waarna De Stadler verwys, is werksessies, werkseminare of (verkieslik) slypskole.

    De Stadler beweer: “Ek leer mense om taal te waardeer.” Taal is ‘n ding “wat vir jóú as mens die wêreld oopbreek.” Dit gaan vir hom en die Taalsentrum oor “taalbeheersing en taalvaardigheid”. Hy betuig sy liefde vir taal. La Vita verwys na die geesdrif waarmee De Stadler oor taal praat. Maar dan sê De Stadler: “Ek het niks geld gehad nie”, pleks van: “Ek het geen geld gehad nie”.

    In die onderhoud is daar egter groter taalvergrype as die genoemde twee swak gekose Afrikaanse woorde, “werkswinkel” en “niks”. Die eintlike vertroebeling van die toekoms van Afrikaans steek telkens sy kop uit wanneer De Stadler sy Afrikaans met onnodige Engelse woorde besoedel. La Vita skryf: “Hy wend taal aan op ‘n grensoorskrydende manier.” Dit beteken blykbaar (of onder andere) dat die grens tussen Afrikaans en Engels afgebreek word. Twee keer verwys De Stadler na sy werk of taak as sy “job”. As ‘n student meer oor taal verstaan, is dit vir De Stadler “great”. Hy bedoel nie ‘n soort vrug as hy van ‘n “peer” praat nie, want sy verwysing is na ‘n eweknie of portuur. Daar is ‘n ding oor taal wat De Stadler laat “tick” (dus aan die gang hou, laat funksioneer). By ‘n ander geleentheid was hy “ge-tickle” (maw sy belangstelling is geprikkel). En hy is ‘n “biker” (‘n motorfietsryer).

    As dit vir De Stadler as taalkundige gaan om mense se taalvermoë te verbeter, sluit dit tog sekerlik in dat hy ‘n taal, bv Afrikaans, op so ‘n wyse benut dat vir verstaan, vir kommunikasie, nie kennis van ‘n ander taal, bv Engels, veronderstel word nie. Dit is onwaarskynlik dat wanneer De Stadler Engels benut, hy dit met Afrikaanse woorde besoedel. Waarom hierdie verskil in benadering van, of agting vir, hierdie twee tale? As taalkundige behoort De Stadler diep bewus te wees van die gevare vir ‘n landstaal wanneer dit op ‘n kampus teen ‘n wêreldtaal om oorlewing meeding; des te meer as die universiteitsowerheid hoogs onsimpatiek teenoor die nie-wêreldtaal is. As van huis uit Afrikaans, as taalkundige en as hoof van ‘n taalsentrum behoort De Stadler ‘n agbare voorbeeld in Standaardafrikaans te stel.

    Volgens De Stadler is dit normaal om meertalig te wees. Botman sal hiervan hou, want hy distansieer hom deurlopend van die abnormale of siek US van weleer. De Stadler: “Daar is meer mense in die wêreld wat meertalig is as wat daar mense is wat net een taal praat.” Ek bevraagteken die waarheid van hierdie stelling. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer, dus dat ‘n minderheid van die wêreldbevolking meer as een taal in ‘n beduidende mate magtig is. Maar gestel De Stadler het reg. Waarom is daar dan so baie studente wat beweer dat ‘n universiteit wat Afrikaans as onderrigtaal het, ontoeganklik is? Waarom word sulke studente nie verplig om te vorder op die pad van taalnormaliteit nie? Waarom het die US weens diesulkes sy tradisionele taalbeleid verander/getransformeer?

    De Stadler: “As jy op Stellenbosch kom, gaan dit natuurlik oor Afrikaans.” Werklik? Is dit nie ‘n argaïese stelling nie? Hendrik Verwoerd “was die eerste student in Suid-Afrika wat sy studies, van sy voorgraadse eksamens tot sy doktorale proefskrif, in Afrikaans geskryf het” (Hermann Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers, p 27-28). In hoeverre is dit vandag nog in daardie eens natuurlike Afrikaanse omgewing moontlik? Is die US, soos dit hoort, akademies en taalgewys openlik trots op daardie prestasies van Verwoerd, of word dit om politieke redes doodgeswyg?

    Die kern van die saak is dat Afrikaanse en veral Afrikaans-geleerdes hulleself nie moet veroorloof om loslit met hulle moedertaal om te gaan nie. Hulle moet taalgewys ‘n eerbare voorbeeld stel en bereid wees om aktief vir Afrikaans teen die magte van die bose in die bres te tree. Jaap Steyn stel dit treffend: In laaste instansie gaan dit om taalgetrouheid. Hieraan is daar aan die US, wat Afrikaans betref, ‘n skreiende tekort.

    лобановский класс

  • Stellenbosch, Transformaties en Ukwanda

    Onlangs is berig oor die inwyding van die Universiteit Stellenbosch (US) se landelike kliniese skool op Worcester (Die Burger, 26 Okt, p 13). Die geboue het R65 miljoen gekos; ‘n bedrag waarmee eerder heelwat op die Stellenbosch- of Bellville-kampus van die US vermag kon word. Naas hierdie nuwe Worcester-kampus word addisionele US-leersentrums op Caledon, Ceres, Hermanus, Robertson en Swellendam beoog. Dit is deel van die US se strategie om pleks van op sy universitêre kernfunksies, naamlik onderrig en navorsing, te konsentreer, eerder al hoe meer klem op gemeenskapsdiens te laat val. Dit is wat die ANC verlang, gevolglik is dit wat die US doen. Hierdie leersentrums word gevestig op dorpe waar daar ‘n groot konsentrasie bruin mense is. Op hierdie manier word uitdrukking aan die rektor, Russel Botman, se etniese voorkeur gegee.

    Naas Botman is die inwyding deur Jimmy Volmink, die nuwe dekaan van die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, bygewoon. By diensaanvaarding het Volmink nie na sy primêre akademiese verantwoordelikheid, naamlik om die akademiese beste studente en die akademies beste dosente te trek, verwys nie. (Weens transformasie is dit in elk geval iets waaraan reeds jare lank nie meer gevolg aan die US gegee word nie.) As dekaan beskou Volmink sy taak as by uitstek van ‘n politieke aard, naamlik nasiebou. Studente gaan op Worcester in landelike omstandighede opgelei word, terwyl hulle terselfdertyd benut kan word om gemeenskapsdiens te verrig. (Maar dit is natuurlik moontlik om studente praktiese ondervinding in landelike gebiede te laat opdoen sonder om daar ‘n duur kampus te vestig.)

    Helen Zille is ‘n ander glanspersoon wat die inwyding bygewoon het. Sy is die DA- (oftewel die ANC Lite-) premier van die Wes-Kaap, wat hierdie US-inisiatief steun. Les bes was die oud-MK-vegter, Basil Kivedo, daar. As ruim vergoeding vir sy dienste in die “bevrydingstryd” is hy as burgemeester van die Munisipaliteit Breedevallei herontplooi.

    Wat my veral dwars in die krop steek, is Botman se kenmerkende blatante verpolitisering van die byeenkoms. “Botman het gesê die US erken sy deel aan die ongeregtighede van die verlede, maar die uitdaging is om dié verlede reg te stel.” Hier verwys Botman nie na die wandade (insluitende misdade) van die UDF, ANC, MK en hulle meelopers nie. Hierdie mense word geag so onskuldig soos ongebore babas te wees. Botman vra neerbuigend verskoning vir apartheid, dus vir die gedrag van wit mense. Die akademies voortreflike US van weleer word deur Botman as deel van die ongeregtighede van die verlede beskou. Die gedagte het blykbaar nog nooit by hom opgekom om dankie te sê vir wat wittes aan die US tot stand gebring het nie. Om by daardie punt te kom, sou Botman akademies pleks van polities geöriënteerd moet wees.

    Die US se landelike skool te Worcester word nie deur Botman in die eerste plek akademies benader nie. Getrou aan sy politieke gepreokkupeerdheid is hierdie kampus glo ‘n “regstelling vir die verlede”, ‘n “regstelling en ontwikkeling vir die mense van Worcester”. Botman sou ook nie sy rede afsluit sonder om na “hoop” (‘n woord eie aan die swartmagbeweging) te verwys nie. Hierdie keer het hy gepraat van “ware, volhoubare hoop … gegrond … op die wetenskap”. Aan die US word ideologie deesdae op hierdie manier in wetenskap omskep.

    Maar wat is die naam van hierdie nuwe US-kampus? Om dit te verstaan, moet ‘n mens besef dat die US nie meer die eentalige Afrikaanse universiteit van weleer is nie. Sedert Engels as addisionele onderrigtaal ingevoer is om die universiteit ” meer toeganklik” vir veral nie-wittes te maak, is Afrikaans progressief afgeskaal. Maar dit het die US nie in ‘n tweetalige inrigting getransformeer nie. Die US is deesdae, soos Botman nooit moeg raak om te verkondig nie, ‘n meertalige inrigting. Dit is nie ook meer bloot ‘n Suid-Afrikaanse universiteit nie; dit word trots as ‘n Afrika-universiteit geparadeer. Volgens die webwerf studeer daar 76 doktorale studente uit Afrika aan die US. Die gedagte dat dit eties meer regverdigbaar sou wees om eerder Suid-Afrikaanse studente te befonds en op te lei, word blykbaar nie ernstig deur die ideologie-gepreokkupeerde Botman & kie oorweeg nie.

    Amptelik is Afrikaans veronderstel om steeds by verstek (of outomaties) die US se taal van voorkeur te wees. In die praktyk het Engels, onder Botman se leiding, egter die voorkeurtaal geword. Die afkorting van Universiteit Stellenbosch is nie US soos ‘n mens sou verwag nie, want dan sou dit lyk asof die so gesogte transformasie agterweë gebly het. Anders as bv by die Universiteit Pretoria (UP), word Stellenbosch University as die amptelike naam beskou, met SUN as die afkorting. Dit is dus soos Ou Mutual net Old Mutual, die Poskantoor net die Post Office, Eerste Nasionale Bank net First National Bank, ens, in die nuwe Suid-Afrika geword het. Die amptelike afkorting wat vir internetdoeleindes gebruik word, is sun. Dit lyk en klink Engels, soos die bewindhebbers dit wil hê. Deesdae heet die universiteit se uitgewery Sun Press. Die webwerf Vryematie het pas sy naam na Bonfire verander. Die nie-inklusiewe, rassediskriminerende US-beursskema heet Rachel’s Angels. Net nie-wittes mag engeltjies wees. Enige beurse wat eksklusief vir wittes bedoel is, word egter geweier.

    Die Botman-US se weersin in Afrikaans strek selfs verder as die duidelike voorkeur vir Engels. Die US-kommunikasiesatelliet wat in 2009 gelanseer is, se naam is Sumbandila, wat glo “lead the way” in Venda beteken. Dus, wat sou ‘n geskikte naam vir die US se Worcester-kampus wees? Klaarblyklik enige naam behalwe een in Afrikaans, die US se verstektaal. Daar is ‘n Xhosa-woord gevind, wat glo “to grow, to develop” beteken. Die naam wat dus gekies is, is Ukwanda. Dit is ‘n naam waarmee die getransformeerde US en die ANC hoogs tevrede behoort te wees. Die Maties het Transformaties geword. Die Universiteit Stellenbosch het, pleks van ‘n universiteit, die Diversiteit Stellenbosch geword. Geen haan kraai hieroor nie.

    Олександр Фільчаков прокурор