praag.co.za

Category: Algemeen

  • Herrie se kerrie: Jan Brand

    Herrie se kerrie: Jan Brand

    Toe pres. Jan Brand sy gevleuelde woorde geuiter het, “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen” meen Herrie het hy nie besef hoe hy die spyker op die kop slaan nie.

    Het hy byvoorbeeld kon voorsien dat ‘n fabriek in die VSA wat te veel fossielbrandstof in die atmosfeer loslaat, ‘n invloed het op hoe groot ‘n Vrystaatse boer se mielie-oes is?

    Of dat iemand wat in Rusland iets lekkers onder sy arm spuit om ‘n meisie uit te neem, kan bydrae daartoe dat iemand in België velkanker kry?

    Teen hierdie agtergrond is dit nogal belangrik dat mense Nuwejaarsvoornemens moet hê – van dinge wat hulle wil doen, en dinge wat hulle nie moet doen nie. Soos om pligsgetrou te werk, en om nie hul swaarverdiende geldjies in likiede bates te omskep nie.

    Ja-nee, op elkeen rus baie verpligtinge van doen en late. Die lysie “late” is baie makliker om saam te stel as die “doen,” soos moenie rook nie, moenie drink en bestuur nie, moenie te veel kinders maak nie, moenie te vinnig ry nie, moenie die kat in die donker knyp nie, moenie die tuin verwaarloos nie, moenie die boer se skaap steel nie, moenie dwelms gebruik nie, moenie tsjôtsjô vat nie, moenie jou musiek so hard speel dat dit die bure pla nie.

    Vir Julius Malema kan ‘n mens sy eie lang lys opstel …moenie praat voor jy dink nie, moenie jou vinger in oom Jerry se oog druk nie, moenie so bang wees nie…

    So in die kinderskoene van die nuwe jaar wil ‘n mens egter positief wees, en daarom is dit belangrik om goeie gewoontes aan te leer: maak meer tyd vir die kinders, spaar die rookgeldjies en koop liewer kos vir die kinders en blomme vir vroulief, en in plaas van om die tong skerp te maak, sê vir mense vir wie jy lief is van hierdie toedrag van sake.

    Jan Brand was reg, maar in daardie konteks nie heeltemal nie. Ons sê graag die Here help hulle wat hulself help, maar soms is wat ons wil, en wat die Here wil nie dieselfde nie. En Hy weet oneindig beter as ons.

    Ons kan die beste bloudruk vir die nuwe jaar hê, maar nie almal wat vandag hier lees, gaan aan die einde van die jaar nog op die ondermaanse wees nie.

    Staan diep in die geloof. In 2010 en daarna.

     

    компьютерная диагностика автомобилялобановский александр компромат

  • Herrie se kerrie: Van Zuma en somme maak

    Dit is maar goed dat Herrie se deel van die brein wat met somme en wiskunde werk, die algemene Suid-Afrikaanse tendens van ontbrekende syfervaardigheid voorafgegaan het.

    Dus kan, en hoef Herrie hom nie te verknies oor die numeriese smêsj van wat gebeur as tradisie en gelyke regte in Suid-Afrika mekaar ontmoet nie.

    Natuurlik verwys Herrie na die prez se wedertroue. Sy vyfde.

    In alle billikheid, as Herrie se optel- en aftreksomme klop, is dit nou eintlik sy derde vrou, nadat een oorlede is, en dr. Nkosazana hom “gefire” het.

    Maar drie, meen Herrie, kan ‘n handvol wees as gelyke regte ter sprake kom. Veral vroueregte, wat, as Herrie miesies Gouws en ander feministe reg verstaan, beteken vroue het eers gelyke regte met mans as hulle meer gelyk as mans is.

    Dit, volgens Herrie se bedenklike syfervaardigheid, beteken dat elkeen van Zuma se vroue (soos die gesin na Nuwejaar daaruit gaan sien) op vier mans geregtig sal wees om gelyke regte met die prez te geniet.

    As Herrie se sommetjie reg uitwerk is dit ‘n totaal van veertien ouers in die gesin (Klein Herrie sê dis naby genoeg, Herrie is net een uit). Die lollery kom in, meen Herrie, as elkeen van die mans weer op nog twee bykomende vroue geregtig is, en dié weer op nog drie bykomende mans. Ad infinitum.

    Herrie is al lankal haaks met die Vrystaatse Rugby-unie en ander instellings wat in Engels “Season tickets for the family” en in Afrikaans “Seisoenkaartjies vir die familie” verkwansel.

    Synde die Cheetahs tradisioneel net die helfte van die “seisoen” speel, is kaartjies eintlik tot verhouding duur. Maar toe die Cheetahs met “seisoenkaartjies vir die familie” kom het dit darem na ‘n winskopie gelyk. Herrie het een aangeskaf, maar by die hek, toe Herrie met sy kroos, sy neefs met hul krose, en ‘n paar kleinneefs met hul krose opdaag beduie die rugby-unie hulle het eintlik “seisoenkaartjies vir die gesin” bedoel. ‘n Cheetah in die sak gekoop, as’t ware.

    Maar Herrie sal graag wil sien wat die VRU maak as die prez en sy “family” met so ‘n seisoenkaartjie “for the family” opdaag, veral na die vroue hul gelyke vroueregte opgeëis het.

    Volgens tradisie het ‘n man, as hy na ‘n termyn op die myn by sy tuisstat in die Transkei aankom, eers ‘n ent weg gaan sit en wag tot hy ‘n beeswagter of iemand kry, wat vooruit kan gaan om sy mense van sy aankoms te verwittig. Dis nou goeie maniere om nie die vrou in ‘n ongeneë situasie aan te tref nie.

    Herrie weet eerlik nie of dieselfde tradisie in Zoeloeland geld nie, maar Herrie kry vreemde visies in sy kop as hy moet dink aan hoe gemaak met die heli-landsplek wat in die stat gemaak is, en nie ‘n ent weg soos wat tradisie dit vereis nie.

    In Herrie se geestesoog sien hy ‘n vreeslike geskarrel as die heli skielik oor die horison verskyn en so onbedag naby sy bestemming gaan sit.

    Maar Herrie kan om de dood nie dink wat die geskarrel sou veroorsaak nie.

    Maar eintlik is die hele relaas en gewonder onnodig, want Herrie kan mos nie somme maak nie.

     

    mositaldentАлександр Фильчаков прокурор

  • Herrie se kerrie: Die roelf

    Herrie se kerrie: Die roelf

    {jathumbnail off}

    Onlangs het ‘n kortverhaal uit Herrie se pen Praag se webblad gehaal: Duskant die longdrop. In een van die dele word vertel van hoe Koos blou in die gesig op die troon aangetref is na hy asem opgehou het tot hy hom sou hoor hoor val. Met dié dat die longdrop bo-op ‘n droë olieboorgat van ‘n kilometer en ‘n half opgerig was…

    Van die Praaglesers was gou om ‘n vergelyk tussen die asem ophou en wag dat die nuwe Suid-Afrika-nagmerrie ‘n koers moet inslaan, hierin te sien.

    Of Herrie self die simboliek gesien het, is nie nou ter sake nie. Wat Herrie wél besef het, is dat ‘n mens nou, na aanleiding van die teenspoed wat Roelf oor sy destydse onderhandelings, en veral sy verbete goedpraat daarvan, nou kry, dalk ‘n mooi Afrikaanse naam vir hierdie buite-gemakkie gekry het, ‘n roelf.

    Die raakvlakke is talryk. ‘n Doodloop-gat reguit ondertoe, ‘n onwelriekende klankie en iemand wat bo gemaklik op ‘n troon sit en koerant lees.

    Boonop, uit Herrie se kleintyd, het hy nog ‘n assosiasie…dis die plek waar adders graag gaan skuiling neem het. ‘n Man kon dus baie maklik in die gat gehap word …en so meer as een gat sien.

    Of nog erger, die adder kon dalk ‘n skerpskutter wees en ‘n man raakpik, waar as dit ‘n vrou was, dit heeltemal mis sou wees, en so sy toekoms vernietig.

    Herrie kan eintlik nie aan ‘n meer gepaste naam vir ‘n troonkamer dink nie.

    Maar Herrie onthou ook ‘n insident uit ‘n storie wat hy as kind gelees het. By ‘n skoolkoshuis het dit die skoolkinders nie lank geneem om te sien hoe die nagwapersoneel flink in gelid, elkeen met ‘n emmer bo die kop, in die rigting van die nagwa hardloop nie. By een plek gaan die roete deur ‘n stegie, en die versoeking word te groot.

    Ook nie lank nie, of ‘n kabeltjie word net bo kophoogte oor die stegie gespan.

    Die gevolglike domino-effek laat Herrie weer baie aan Pik dink, met net die voorste drawwer wat ongedeerd daarvan afkom. Daarom noem Herrie dit die pik-pik-effek.

    Maar genoeg van *&#praat.

    Herrie het die afgelope Kersfees agtergekom hoe die regering baie na-aan R300 000 per maand kan bespaar.

    Die Herries se hond, Pumba, het naamlik een ding met Julius Malema in gemeen – Pumba kan verskriklik bang word. Vreesbevange. Anders as met Malema weet die Herries darem waarvoor Pumba so bang is – klappers. Rondom Kersfees en Nuwejaar is dit ‘n naarheid. Die kalmeerpille wat Pumba, ‘n yslike boerboel, ingejaag is voor die klappers begin skiet, het net mooi niks gehelp nie.

    Wanneer die eerste klapper sy maak gemaak het, is Pumba die ene bibberasie, en sal soms nog ‘n benoude blaf of twee los.

    Hierna sal sy Herrie te pletter trap om pens en pootjies tussen Herrie en mev. Herrie in die katelkooi te kom inkruip, maar wanneer die volgende klapper geklap het, is sy weer al benoud-blaffend bo-oor Herrie onder die karos uit, gang af – tot die volgende een klap en sy weer vir die karos mik.

    Vanjaar is dit ‘n boerboel van ‘n gans ander aard. Die Herries het verneem van ‘n band wat om die benoude hond se nek gehang word, wat na twee dae begin werk, en wat iets afskei wat die hond rustig maak. Dit skei glo ‘n hormoon of iets af wat ma-honde afskei wat haar kleintjies rustig maak. Dit werk ‘n maand lank.

    Kersfees was egter nog effe te gou, en Pumba het nog bietjie gebewe, maar teen gisteraand het die band mooi “ingeskop” en het sy soos ‘n dooi hond bly slaap wanneer die klappers skiet.

    Dis toe dat Herrie besef as die regering slim wil wees, moet hulle net ‘n soortgelyke bandjie maak, dan kan hulle dit vir Malema omhang, en ‘n maand lank die R300 000 vir beskerming spaar. Teen R200 per maand is dit nogal ‘n aansienlike besparing en iemand kan tantieme verdien op ‘n baie gepaste naam.

     

    купить машинку на пульте управленияАлександр Фильчаков прокурор

  • Herrie se kerrie: Ons spreek in tale

    Herrie se kerrie: Ons spreek in tale

    Herrie het ‘n stalletjie op die boeremark. Eintlik, so kla baie, het dit deesdae bitter min met “boer” te make want by verre die meeste stalletjies het niks meer met landbou te make nie.

    Mettertyd het baie Nigeriërs, Sjinese, Pakistani’s en ander hul opwagting begin maak, en dus het die naam “Boeremark,” soos sommige dit met ‘n hoofletter spel, ook nie meer sin begin maak nie.

    Al vereiste, om aan die munisipaliteit se huurkontrak te kan voldoen, is dat die stalletjiehuurders hul ID-boekies moet kan wys.

    Wat, so blyk dit uit koerantberigte, nie ‘n alte groot probleem is nie.

    Maar onlangs dag Herrie hy het al als gehoor. ‘n Man het sy beursie by ‘n Nigeriër se stalletjie vergeet en aangestap. Oomblikke later kom die Nigeriër, beursie omhoog, agter die man aangehardloop: “Oom!, oom!”

    In die Vrystaat is Engels nie ‘n derde taal nie. Dis ‘n vreemde taal, al meen die regering nou ook anders. Herrie ken verskeie Oos-Vrystaters wat al vertel het hoe naasliggende boere met hul gesinne by bure gaan kuier het – die een gesin Afrikaans, die ander Engels. Die ouers wonder nog hoe die kinders met mekaar gaan kommunikeer, met die een lotjie wie se Engels bestaan uit “yes” en “not yes” en die ander wie se Afrikaans tot “lorrie” beperk is. Dan speel en jil die kinders dat die windpompe bewe, en as die ouers gaan kyk, hoor hulle die kinders gebruik die gemeenskaplike taal – Suid-Sotho.

    Maar af en toe blyk dit ook dat die kinders se taalvaardigheid verder strek.

    Soos die slag die Sondagoggend toe daar van ‘n troue die vorige dag ‘n groot ruiker in die kerk agtergebly het. Dié ruiker trek ‘n by, en dié by gaan sit op Fransie byna heel voor in die kerk se borselkop. Skielik hef Fransie ‘n pynlike kreet aan: “Eina, hoe byt so ‘n %$&# mot my!”

    Of die keer toe die kinderhuis se kinders in die kerk se voorste banke ingeryg sit toe die Kanaries op ‘n sekere Oos-Vrystaatse dorp hul sang kom tentoonstel het. Met die laaste note wat wegsterf, laat die een laaitie se ingewande hom in die steek, en dit knal deur die kerk.

    Die een langsaan vlieg op en betig sy verleë maat: “Hoe durf jy *&^% in die allerheiligste van die Heer?!”

    Hierdie kerklike taalvaardigheid, verneem Herrie, het tot die voortydige verdaging van die kerkdienste gelei.

    cleopatra slots for freeЛобановский

  • Herrie se kerrie: Beste van 2009

    Herrie se kerrie: Beste van 2009

    Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer Herrie die name bekend maak van mense wat vir besondere eerbewyse vir hul bydraes in 2009 genomineer is.

    Soos gebruiklik begin Herrie by die Poskar (Politieke Oskar) –nominasies.

    Heel bo-an die lys is Julius Malema wat deur pres. Jacob Zuma genomineer is vir sy politieke insigte, volwasse leierskap en verantwoordelikheidsin, sodat Zuma hom ook sommer as kroonprins gesalf het. Malema is deur prof. Jonathan Jansen gesekondeer weens sy besondere intelligensie, en ‘n ere-professoraat in drama- en toneelkunde aangebied.

    Volgende op die lys is pres. Jacob Zuma, genomineer deur Julius Malema vir sy briljante interpretasie van grondwetlike sake en aanstellings in die juridiese veld. Dié nominasie is gesekondeer deur regter John Hlope.

    Die Vrystaatse Premier, Ace Magashule, kom ook aan die beurt weens die uitsonderlike vermoë om munisipale diensleweringsprobleme in sy provinsie so vinnig op te los, onlusmakers is nog besig om klippe te gooi dan is daar nie meer munisipale diensleweringsprobleme nie, aldus Magashule. Hy is genomineer deur mnr. Neels van Rooyen, voorsitter van die Vrystaatse Skoor, en gesekondeer deur mnr. Thabo Manyoni, LUR vir Polisie en Paaie, wie se kop nog onlangs luidens berigte op die spel was. Hy het egter daarin geslaag om die slaggatprobleme sonder ‘n enkele tenderprobleem opgelos te kry.

    Die genomineerdes vir die Umbungeisj-medlaje (medalje van die olifant met die baie seer tand) is eerstens mnr. Leonard Chuene, genomineer deur mnr. Buthana Komphela en gesekondeer deur mnr. Hendrik Moganyetsi. Chuene word genomineer weens die buitengewone manier waarop hy Suid-Afrika in die buiteland bekend gestel het en gesorg het dat die oë van die wêreld op die vooraand van die 2010-wêreldsokkerbeker op die land vasgevang sal bly. Onder die lang lys vernaamste mededingers tel verskeie burgemeesters en oud-burgemeesters, soos dr. Gwen, Pappie en sy Granny, en dr. Tjeers.

    Die gesogte Eersteklas-soustreinkaartjie gaan aan die uitgetrede Openbare Beskermer, Lawrence Mushwana, wat na hy ‘n R7 miljoen goue handdruk gekry het, weer as voorsitter van die Menseregtekommissie aangestel is. Wat sy prestasie des te merkwaardiger maak is die hofsake wat hy as Openbare Beskermer verloor het, soos die Staatsteatersaak en toe die grote, die Petro SA-saak. Hy word egter sterk geopponeer deur kandidate uit verskeie owerheidsfere, en ‘n Ligte opskudding, as Eskom weer krag vir ligte het, is nie uitgesluit nie.

    ‘n Laat-inskrywing vir die “Vriende van die kommersiële Landbou”-medalje is adjunk-president Kgalema Motlanthe, vir sy ruim denke oor wie vir plaasmoorde verantwoordelik is. Hy is deur Lawwe Lulu genomineer, en deur pres. Robert Mugabe gesekondeer.

    Die Orde van die Flitsende Blou Ligte gaan onbestrede aan mnr. Julius Malema. Dit word betwyfel of ‘n burgerlike ooit sy prestasie op die bangheidskaal sal oortref, wat tot R300 000 per maand se staatsbeskerming aanleiding gee.

    Die Snorre-trofee vir vrot keurderwerk gaan aan die Springbokafrigter, Peter de Villiers. Tydens sy toekenning sal WP Nel en Coenie Oosthuizen ‘n duet aanhef getiteld, Skoenmaker, hou jou by jou afrigtingslees.

    Die Groen Medalje vir nie-rassigheid word gedeel deur die trippel-M-koor, Malema, Manyi en Maroga. Dit is nie bekend of dit waar is dat hulle op ‘n donker groen medalje aangedring het nie.

     

    где купить лестницутопкарго

  • Ons blaps so lekker want ons gaps so lekker

    Die huidige regering het nie korrupsie uitgevind nie. Nog nooit nie.

    Net vervolmaak. Die minister in die presidensie verantwoordelik vir prestasiemonitering en evaluering, Collins Chabane, gebruik deesdae sy amptelike kredietkaart vir persoonlike uitgawes.

    Nee, dis nie Herrie wat so sê nie, dis die regering wat self so sê. Nou nie in soveel woorde nie, maar dit word darem nou erken dat dinge nou heeltemal hande uit geruk het, want hulle wil nie meer daaroor praat nie.

    Neem nou maar die parlementêre vliegtuigkaartjies. Dis ‘n ou ding, en Herrie ken ook een wat destyds gevang is persoonlik. Hy is later tronk toe, maar oor iets anders.

    Ai, en helikopterritte elke Vrydag na ‘n sekere missieltoetsterrein naby Waenhuiskrans (waar die minister heel toevallig ‘n strandhuis gehad het), en Maandae weer terug parlement toe met die helikopter. Nee, dit was ook nie Herrie wat so briljant was om dit uit te pluis nie, maar die inwoners in die stranddorpe waaroor die heli gevlieg het, soos Hermanus, Onrus, Kleinmond, Gordonsbaai…”Daar gaan die minister weer vir sy naweeklikse inspeksie…”

    Nou wie kan dan nou die eerste klip gooi as ‘n huidige minister oor die Kerstyd in ‘n Durbanse strandfront-hotel tuisgaan, en ‘n paar besoeke aan plaaslike polisiestasies bring? Al kon ‘n mens nou met daai hotelrekening die hele missieltoetsterrein koop.

    Ai, en ‘n minister se eersteministerplanne wat in die slag bly toe dit kort voor die werping van die lot aan die lig kom hoe heldersiende dié minister was om te weet presies waar damme gebou, en besproeiingsplase uitgelê gaan word. Koop dan droë land, en verkoop besproeiingsgronde. Snaaks, mens sou dink so ‘n heldersiende minister sou ‘n gawe eerste minister kon wees.

    Toe Herrie op skool was, was hy self taamlik heldersiende, soos om soos klokslag te weet wanneer die administrateur siek is, en een van die LUK’s as administrateur waarneem. Want dan het sy telgies met daai lang, slap kar, OVS 1, skool toe gekom, chauffeur en al.

    Ai, en daai bekaf uitdrukkings toe ‘n paar LUK’s, senior amptenare, ‘n horde vroue en ‘n hele klomp vriende,familie en etlike belangstellendes in Bloemfontein van die êrrie afklim, en die SAUK (ja, toe was dit nog die SAUK) se TV-kameras wag hulle in. Dié lywige afvaardiging sonder ‘n enkele kundige het oorsee gaan besluit watter skandeerder die provinsie moet aankoop.

    Natuurlik was die proffie toe al hoeka oorsee gewees om die skandeerder te gaan kies – die afvaardiging kon slegs die kleur gaan uitsoek. Fred Schnetler, destydse skrywer van Volksblad se Stop van Myne en deesdae saliger, het toe ‘n ellelange stuk geskryf oor hoe dit gebeur het dat die verbypad om Senekal 15 jaar geneem het om goedgekeur te raak. Van die afvaardigings wat eers oorsee moes gaan om ondersoek in te stel na die kleur van koppies.

    Daardie verbypad, terloops, is nou nog amper 30 jaar later steeds nie gebou nie.

    Nou wie kan dan ‘n vinger wys na ‘n hedendaagse brandarm munisipaliteit se toerismebevorderingsekskurie van ‘n half miljoen rand? Verspot goedkoop!

    Ook voor die nuwe bedeling vertel ‘n hoofdirekteur van die TPA van ‘n sekere burgemeester wat ‘n kontrak met ‘n ontwikkelaar gesluit het. Die maatskappy sou hom naamlik ‘n miljoen rand betaal, en sy seun in die VSA op universiteit hou. Boonop, een keer jaar, gaan die gesin op maatskappykoste vir boetman in die vreemde kuier. Natuurlik is die teenprestasie nie in die kontrak vervat nie.

    Toe lek die spulletjie uit, en die eintlike kontrak byt in die stof. Die maatskappy dog nog die ander kontrak is ook daarmee heen, toe laat weet die, toe gewese burgemeester, aikôna, daar is mos niks van ‘n teensprestasie nie.

    Maar soos Herrie sê, al het die nuwe regering nie korrupsie uitgevind nie, hulle het dit vervolmaak. Of dit nou “handling fees” vir kontrakte is, of dit “geskenkies is om die hart bly te maak, en of dit nou sommer doodgewoon tsjôtsjô is, Herrie het dit als gesien..

    Selfs ‘n burgemeester wie se onder die tafel-aksies op ‘n versteekte video-kamera vasgelê is. Pleit onskuldig, want, voer hy aan, wetgewing maak net voorsiening daarvoor dat iemand vir prostitusie en diamante in ‘n lokval gevang kan word. Nie korrupsie nie. Hy is onskuldig bevind, maar Herrie weet nie of dit iets met sy verweer te make gehad het nie.

    Ja, Herrie het al als gesien.

    Of nee, daar was variasies wat Herrie nie geken het nie. Ai, soos die slag wat Herrie deel was van ‘n vergadering met die onderwysbase en die een kollega ‘n geldjie vir die onthaal kry. Die “onthaal” het in inkopiesakkie in die hoek bly staan – doodgewone kruideniersware vir die huis met ongewone fondse.

    In geheel was Herrie se verslag aan die Ouditeur-generaal oor die hele projek 86 bladsye.

    Herrie se Sothonaam het van Lethola (die een wat sag praat weens ‘n gewas wat die senuwee na die stembande seergemaak het) na Moferefere (die een wat onluste maak) verander. So erg, ‘n hoofdirekteur uit die vorige bedeling het Herrie ingeroep en gesê Herrie skep vir die nuwe regering probleme. Herrie, of dan Moferefere, moet net bietjie diskresie aanleer, leer wegkyk nou en dan, en as Herrie hom ooit aanhaal sal hy dit “voor die Here ontken.”

    Sjoe, so lekker gaan dit, ‘n bekende advokaat se naam is glads “Gaps” en ‘n rubriekskrywer “Roof.”

    En as iemand dalk self moeite het om in te sien wat verkeerd is met korrupsie – neem dan maar die Wêreldbank se woord daarvoor: Korrupsie is die diefstal van ‘n land se toekoms.

     

     

    детские куклыДанильченко Харьков

  • Nuwe Afrikaanse webportaal

    Leoni Benghiat, het ’n unieke webportaal, SA Vryskutskrywer, bekendgestel waarby gevestigde én aspirantskrywers, asook enigiemand wat van skrywersdienste gebruik wil maak, sal baat vind.

    Met 25 jaar joernalistieke ondervinding in die koerant- en tydskrifbedryf – waarvan 16 jaar as vryskutskrywer – het Leoni besef dat daar ’n leemte in die mark bestaan wat ondersteuningsdienste vir spesifiek Afrikaanse vryskutskrywers betref. “Daar is genoeg Engelse ondersteuningsgroepe, netwerke en hulpbronne vir vryskutskrywers, maar min of geen in Afrikaans nie,” sê sy. “Dit is dus hoog tyd dat Afrikaanse vryskutskrywers ‘n eie netwerk skep.”

    SA Vryskutskrywer het geen grense nie en slegs een vereiste – jy móét in Afrikaanse skryfwerk belangstel. Kortliks is dit ‘n eenstop Afrikaanse skryfportaal waar enigeen wat in Afrikaans wil of kan skryf, kan gaan aanklop.

    Daar word met 20 kursusse en verskeie hulpmiddels afgeskop, maar die uiteindelike doelwit is minstens 100 kursusse van hoë gehalte deur vooraanstaande skrywers wat alle genres in Afrikaans dek. SA Vryskutskrywer roem hulle daarop dat as hulle nie op aanvraag ‘n spesifieke kursus kan voorsien nie, daar heel moontlik nêrens een bestaan nie.

    Met minstens 6 miljoen Suid-Afrikaners wat toegang tot die internet het, fokus SA Vryskutskrywer uitsluitlik op aanlynkursusse. Hoewel die kursuskonsep nie nuut is nie, glo Leoni dat hulle dit vervolmaak. SA Vryskutskrywer se opleiers verskaf persoonlike opleiding aan elke student, wat tot gevolg het dat geen kursusganger ooit deel van ’n groep uitmaak nie. “Dit beteken byvoorbeeld dat ’n student wat vir ‘n geestelike- of liefdesromankursus inskryf stap-vir-stap en op ’n een-tot-een basis deur een van die land se suksesvolste skrywers, Helene de Kock, onderrig sal word.”

    Elkeen van SA Vryskutskrywer se kursusopleiers is kenners op hul onderskeie gebiede en sluit ook Ilse Salzwedel, Carla van der Spuy, Ilse Ferreira, Johann Verster, Marguerite Robinson, Faan Herholdt en Martie Coetser in, met talle ander wat in die vleuels wag om hul buiging te maak.

    Die kursusse is ook nie net op volwassenes gemik nie. Laer- en hoërskoolleerlinge word deur deskundiges gehelp om hul skryftalent vroeg reeds te ontgin en ontwikkel. “Ons bied selfs ‘n blitskursus in eksamenskryftegnieke aan.”

    Vir studente en volwassenes is daar basiese, gevorderde en gespesialiseerde kursusse in alle joernalistieke-, nie-fiksie- en fiksiegenres, asook opknappings- en omvattende skryfkursusse. Spesiale kursusse in gemeenskaps- en allemansjoernalistiek (“citizen journalism”) is vir dowe skrywers ontwikkel sodat hulle volkome deel kan word van dié vinnig-groeiende medianeiging.

    Bedryfsnuus wat slegs op die Afrikaanse vryskutmark van toepassing is, is ook beskikbaar asook korporatiewe skryfkursusse en professionele dienste deur spesialisskrywers verskaf.

    “SA Vryskutskrywer het ontstaan as ‘n idee om ‘n leemte in die mark te vul. Die werklikheid is egter dat ons reeds ‘n hegte skrywersgemeenskap geword het wat mekaar bystaan, want skryf – en veral vryskutskryf – kan ‘n eensame werk wees,” sê Leoni. “Diegene wat by ons aansluit kan dus verseker wees dat hulle ‘n tuiste by SA Vryskutskrywer sal vind.”

     

     

    компрессор поршневой ценаалександр лобановский супермаркет класс

  • Ek het sommer net gewonder…

    Tydskrifprogramme op televisie is my gunsteling – daar kry mens mos sommer so bietjie van alles en nog wat. Om in ons geliefde taal, Afrikaans, ook nog te kan "kyk" moet gekoester word, want van oral klink die basuin vir Engels so hard dat die min Afrikaans wat daar nog is, 'n kleinood is. (Dit sluit nou nie programme soos "Kompleks" in wat die Afrikaner se IK onderskat nie).

    En so kom ek toe by die "wonder" uit. Die aanbieders gebruik goeie Afrikaans (of probeer darem) maar die medewerkers (dalk voel hulle belangrik om op die televisie te wees) se taal laat veel te wense oor. Die "Afrikaanse" tydskrifprogram het talle uitdrukkings in soos: "die cherry op die koek; amazing, style en cool". Ek wonder toe wat dit in Engels sou wees?

    Ek kyk gereeld na die Engelse tydskrifprogram en soek na Afrikaanse woorde om hulle program mee op te "kikker" maar ek hoor net goeie Engels. Nou wonder ek, waar lê die probleem – dalk by die Afrikaanssprekende persone wat so lief is vir hulle taal …

    Klippie in die skoen

    Dit lyk my ek steek vandag by die taal vas. Is daar nie iemand wat lus het om so bietjie navorsing te doen oor die woord "huidiglik" nie? Ek het … en het by 'n belangrike persoon in die politiek uitgekom, wat nie meer met ons is nie. Waarskuwing: (lees op die blikkie) Huidiglik was gisterlik nog nie 'n woord nie, maar as ons vandaglik aanhou om dit so te misbruik, gaan dit môrelik in die nuwe woordeboek opgeneem word as 'n woord! So wees gewaarsku en hou buite bereik van kinders.

    Moet asseblief vir niemand vertel nie! "San-Marie" (Amalia Uys) van 7de Laan is aangewys as een van die besgeklede vroue in Suid-Afrika. Nou wonder ek net, sou hulle so besig gewees het met haar klere dat hulle skoon van haar hare vergeet het?

    Op note

    Dink julle ook dat Nianell en Dozi 'n goeie kombinasie as sangpaar is? Hulle kan gerus aan 'n volgende duet-laserskyf dink en miskien Andrew Lloydd Webber se musiek gebruik.

    'n Sagte antwoord

    Ek het jare gelede hierdie kosbare kleinood raakgelees en wil dit graag deel.

    Twaalf jaar lank het Beuhla, die gewoonte gehad om op haar kinders te skree. In die klaskamer by die Christelike skool waar sy onderwyseres was, het sy ook die kinders verskree om hulle in toom te probeer hou. Haar keel kon dit later nie meer hou nie.

    Die kinders het hulle uiterste bes gedoen om haar geduld te beproef en haar gesag te ondermyn. Sy het dit 'n saak van gebed gemaak.

    Hulle hoof was een oggend onvermydelik laat vir die weeklikse opening met godsdiens in die saal. Die kinders het al luidrugtiger begin raak. Toe die hoof later opdaag het hy in die deur bly staan en gewag totdat hulle hom sien en die geraas het dadelik stil geword. Hy vra toe sag of hulle vergeet het waarvoor hulle daar byeen is en het die godsdiens gelei asof daar niks gebeur het nie. Beuhla kon net in verwondering toekyk.

    'n Paar dae later kom sy af op Spreuke 15:1: "'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom."  Dit is goed en wel, het sy gedink, maar die kinders sal nie vir haar luister as sy sagter praat nie.

    By die huis het die patroon maar dieselfde gebly en haar keel het al seerder geword van die gegil op haar kinders en ook by die skool. Sy het dit begin oorweeg om op te hou met skoolhou, sodat haar keel kon regkom. Sy was baie bekommerd en het gewonder of daar nie iets ernstig verkeerd is met haar keel nie.

    Toe sy later die aand vir haar kinders wou skree dat hulle die TV moet afsit omdat dit tyd is vir huisgodsdiens, was haar stem weg. Sy stap toe na hulle toe en fluister haar opdrag. Groot was haar verbasing toe hulle dadelik geluister

    het sonder om eens teë te praat. Sy het gedink hulle voel maar net jammer vir haar.

    Die volgende oggend het sy aangehou om heel sag te praat, sodat sy haar keel kon laat rus. Die kinders het alles gedoen wat sy gevra het. By die skool moes sy na elke leerder se bank toe loop wanneer sy iets wou bespreek, alles in 'n fluisterstem. Daar het 'n ongewone kalmte in die klaskamer geheers.

    Dit het haar laat wonder waarom sy al die jare so geskree het. Was dit makliker om te skree as om na die kinders toe te loop en in 'n sagte stem te praat?

    Dit het haar geleer om vooraf mooi te dink wat sy wou sê en dan het sy dit sag maar beslis gesê. Dinge het drasties verander. Haar kinders het 'n plesier vir haar geword en daar was wedersydse respek.

    Die klaskamer by die skool was ook aansienlik stiller. Die kinders het beter werk gelewer – en haar keel het heeltemal genees.

    O, Heer, skenk my die gemoedskalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, moed om te verander wat ek kan en die wysheid om die verskil te ken. Amen.

    постройка бани наДанильченко Юрий Харьков

  • ‘n Uitsonderlike vrouegalery

    Hierdie uitstalling is beslis ʼn besoek, in die geestesoog, werd. Die tema daarvan is politieke gevangenskap. Elke vrou het hier haar eie unieke voorstelling. Daar is egter ook verskeie kombinasies van die uitbeeldings – verweef as goeie hoedanig-ede en verweer teen die lewe – in elke vrou afsonderlik te vind.

    Die galery kan in afdelings verdeel word. Ten eerste is daar die hoofuitstalling: diegene, wat, so gereeld as wat hulle verpligtinge en finansies dit toelaat, hier kom besoek aflê.

    Reg in die middel is ʼn standbeeld – van middelmatige grootte – van ʼn Voortrekkervrou. Haar gesig is half verberg deur die kappie op haar kop. In haar hand klem sy die Bybel stewig vas. Niks keer egter die trane wat oor haar wange stroom nie – in kil graniet is hul verewig op haar gesig. Sy staan roerloos stil en daar is ʼn vasberade trek om haar mond.

    Teen die langste muur is ʼn groot skildery wat mens sterk herinner aan Picasso se Guernica. Die gesig in die middel lyk asof dit een is wat baie lag en gedurig praat, maar as mens verder kyk, sal jy merk dat die omringende gesigte heel verwronge is. In somber skakerings van  grys en swart skreeu die ‘viktimisering van die onskuldiges’ (wat net so duidelik te siene is, as wat ʼn kritikus dit in die oorspronklike werk beskrywe het) teen die dakpanele vas.   

    ʼn Dagdroom soos dié van Rosetti, is ʼn pragtig versorgde vrou – wat jy ook daar sal vind – met haar boek oop op haar skoot. Haar drome bring sy sonder vermoeienis in die vorm van berading aan haar medemens. Sy kan met vrymoedigheid aanbeveel word, want haar raad en begrip is uit persoonlike ervaring gebore.

    Langsaan staan daar ʼn prent nageteken van G.F. Watts se Hoop, ʼn vrou alleen op die aardbol, geblinddoek, met die strewe om die laaste soet musieknote uit die gebroke lier in haar hande te haal.

    ʼn Groot helderkleurige natuurtoneel, vol van Namakwaland se blommeprag, soos die werk van Pieter Hugo Naudé, hang langsaan. Vars, soos ná ʼn lentereën. Daar is aardse vrolikheid en opwinding wat wag, want eendag sal alles hier tot ʼn einde kom.

    Volgende is ʼn sagte skildery wat na die Waterlelies van Manet trek. Broos en teer, met soveel kalmte en rustigheid. In dieselfde kleurskema, hang daar ʼn dromerige figuur van ʼn jong vrou, wat sterk herinner aan die skildery Lente van Renoir. Sy is vol afwagting op die lente – ten spyte van die winter waarin sy haar tans bevind.

    In die hoek is ʼn raam met oudtydse swier, die prent daar binne-in so klassiek soos Da Vinci se Mona Lisa. Die komposisie, hoewel effe afsydig, is sterk gebalanseerd en tydloos.

    In skerp kontras daarmee is daar ʼn werk soos van Salvador Dalí se Persistence of Memory. Net ʼn kenner, met ʼn fyn oog, sal dit na waarde kan skat. Tog sal die lag om jou mondhoeke pluk, selfs al staan jy verstom oor jou eie onbegrip van die kompleksiteit van hierdie werklikheid.

    As hul pa’s-se-jammer-liefdes kan mens die dogters van die beskuldigdes almal as temas op Sir Joshua Reynolds se Age of Innocence teen die mure hang. Selfs al het hulle soveel groter geword sedert die saak se begin en al het sommige van hulle hul kinderskoene ontgroei.

    As onderafdeling van die hoofuitstalling is daar ʼn Moeder-en-Ouma-deel:

    Die Seun in blou soos van Thomas Gainsborough trek dadelik mens se aandag. Met soveel moederliefde en deernis sal sy hom graag klein wou hou. Hy is egter so selfstandig en vol lewenskrag, dat jy verwag om haar bo hom in goedkeuring te sien glimlag.

    Langsaan is ʼn Madonna  – soos dié een met die angelier van Leonardo Da Vinci – met haar hand koesterend na haar kind gehou.

    Na Vryheid wat die volk lei van Delacroix kan ʼn mens maar net in verwondering bly staar. Om haar vlag te laat sak, sal meer verg as hierdie Vervolgingsgesag.

    In opregte ouwêreldse vertroue en ewige moederliefde is daar een in ʼn houtraam. Aan die bokant is blomme helder gekleur in die glas en onder in  ʼn halfmaan loer die teksvers in blink papiertjies deur: De Heere is mijn licht en mijn Heil. Ps. 27:1  

    Stil in haar gryse ouderdom, skynbaar verwese, sit ʼn ouer dame, soos Whistler se Arrangement in grey and black,  'n portret van die kunstenaar se moeder. ʼn Vaas van fyn porselein is kunstig vasgevang op die stillewe in die volgende skildery. Die patrone op die doek is met ʼn veerdun kwassie ingelas. Tekeninge wat lyk soos die  Vrou wat ‘n brief opskeur van Dirck Hals, met ʼn leë stoel agter haar, pas by die twee moeders wat weduweeskap moes aanvaar.

    Daar is skoonmoeders van die gevangenes, wat hulle deur die jare – soos die Gleaners van Millet – ontferm het oor die versorging van die fyner detail in hul dogters se lewens. Met dieselfde "epiese grandeur" waarmee kritici die oorspronklike skildery beskrywe het…

    Sprekend van ʼn ouma se liefde: soos in Oppasser en kind  (die portret van Catharina Hooft van Frans Hals) sal jy op die kindergesiggies die lag kan sien van die sorg wat die volgende vrou gebring het. Ook hoe sy haar kleinkinders onder die omstandighede, in die fynste kant geklee het.

    In die gang hang daar een soos die Kleinboere se dans van Breughel, vol vrolikheid. Een wat haarself, met watter geleentheid ook al, uitbundig kom voeg by dié wat gereeld daar pryk.

    ʼn Kalm en rustige natuurtoneel, asof deur die meester John Constable op die doek vasgelê, beklee ʼn ereplek vir die vrou wat tot die dood haar kant gebring het.

    Dan is daar die vaag uitgestalde groep. Diegene wat net halfpad deel is van die verrigtinge, wie se betrokkenheid vir eers die tronk gespaar is.

    Laastens is daar die geslote deel van die galery. Die groep van wie nog net die illusie oorgebly het – diegene wat gekies om hul plekkies leeg te laat raak: Tretchikoff se Orgidee wat verspil op die kliptrappe lê.  ʼn Naïewe kinderprent wat jou aan die hart ruk. Een soos ʼn hersenskim – tot die naam het onleesbaar geword. ʼn Ander minder onduidelik maar tog ook wasig dof – geteken met oogwater uit ʼn egskeidingsbevel. Daar is ook die gesofistikeerde, realistiese een, wat gou-gou op haar eie weg gegaan het. Daar is die impressionistiese een – wat gedink het sy kon probeer. Dan is daar die leë plek, wat mens jou net kan verbeel dat die naamplaatjie nog die spasie teen die muur in bewaring hou.

    Die plakkaat wat die uitstalling adverteer, lyk soos van Gogh se Gevangekamp. Dit is ook die hoofskildery. Die bindkrag – of dit nou bloot ʼn moontlikheid of reeds ʼn jarelange werklikheid is – wat die vroue hier vasgevang hou soos olie op ʼn doek.

    Die versameling is so uiteenlopend van aard, dat geen kunshandelaar dit sou waag om daarmee te koop te loop nie. Ten spyte daarvan is die galery al jare lank reeds oop en die sluiting daarvan nog in die toekoms versluier.

    Die musiek en klanke van hierdie uitstalling is ook uniek. Daar is gereelde gelag – soms vol vreugde en soms net skel – maar meestal, stille onbegrip. Soms ʼn asem-snak van verbystering oor wat werklik gebeur. Met geleentheid, rou snikke van intense seer. Tog, in weerwil daarvan ruis deur die brose leegheid, ʼn teer melodie van hoop… dat eendag wel sal kom!

    Die raarste van die galery is dat die uitstallers letterlik self betaal – duur, met trane, smart en alleenbestaan.  Tog hang hul trou en trots teen die galery se muur – met hul enigste beloning – die hoop dat hul opoffering bewaar sal bly, as iets wat waarde had.

    slots playДанильченко Юрий прокурор

  • Die Zimdollar is dood, lank leef die Zimdollar!

    Die Zimbabwedollar is amptelik dood. Dit is van kant gemaak in die hoop dat die wêreldrekordinflasie van miljarde persentasiepunte in Zimbabwe gekeer kan word en Zimbabwe het dit met die VS-dollar en SA rand vervang.

    Maar die rol van die ou-Zimdollar, soos dit bekend is, bly vloeibaar. Dit word steeds gebruik en het nog 'n geskilpunt vir die land se verdeelde leierskorps geword. Danksy die geldkrisis, is Zimbabwe nou een van die armste lande ter wêreld.

    President Robert Mugabe het gevra vir die herinstelling van die Zimdollar as wettige betaalmiddel omdat die meeste Zimbabwiërs oor geen valuta beskik om basiese lewensmiddele te koop nie. Die sentrale bank onder goewerneur Gideon Gono, 'n Mugabe-lojalis, het die druk van ekstra plaaslike geld erken wat gebruik is om staatsbesteding te befonds, wat sodoende die inflasie gestook het.

    Maar die minister van finansies, Tendai Biti, wat by die regering aangesluit het as deel van 'n magsdelingsooreenkoms tussen sy Beweging vir Demokratiese Verandering en Mugabe se ZANU-PF-party, het verklaar dat die plaaslike dollar vir altyd uitgedien is. Hy het gedreig om te bedank indien 'n terugkeer na die plaaslike geldeenheid op hom afgedwing sou word.

    "Ons plaas nou die grafsteen op die lyk van die Zimbabwedollar," het Biti aan wetgewers tydens 'n sesmaandelikse fiskale beleidsverklaring gesê.

    In 'n toespraak aan sakeleiers, het hy gesê: "Ons druk nie meer ons eie geld nie."

    Volgens Biti het maandelikse inflasie in Junie effens gestyg, tot 0,6 persent, vanaf nul persent die vorige maand. Hy het die styging aan prysverhogings in eiendomsverhuring, petrol en ander nie-voedselitems toegeskryf. Hy het ook erken dat die BNP per kop van Zimbabwe van VS$720 in 2002 tot VS$265 verlede jaar gedaal het, wat die tekort aan kontant in die ekonomie weerspieël.

    Daardie tekort word nie deur die stand van die globale ekonomie, waarvan Zimbabwe afhanklik is, aangehelp nie.

    Met die ineenstorting van die land se landbou-ekonomie ná die beslaglegging op duisende blanke plase in 2000, het 'n beraamde 4 miljoen Zimbabwiërs – waarvan vele geskoolde werkers was – die land verlaat op soek na werk in Suid-Afrika en ander lande. Die sogenaamde "diasporadollar" het by verre die land se grootste bron van buitelandse valuta geword.

    Maar weens die globale resessie is dié invloei besig om af te neem, sê die bankiers. In 'n tipiese geval het 'n sakeman se dogter in Brittanje 'n e-pos aan hom in Junie gestuur om te sê dat sy voortaan net die helfte van haar maandelikse bedrag van $400 aan hom sou stuur.

    Die onafhanklike Zimabwiese Nasionale Kamer van Koophandel blameer die akute tekort aan valuta op bedrae wat nou bestee word om basiese goedere wat voorheen in Zimbabwe vervaardig is, soos seep en kookolie, van Suid-Afrika aan te koop.

    Al wat die busbestuurders met Zimdollars kan doen, is om hulle aan ander passasiers teurg te gee as kleingeld vir Amerikaanse note. In een geval waaroor berig is, het 'n passasier 'n vuurwapen uitgehaal en op 'n busbestuurder gerig wat daarop aangedring het om vir hom kleingeld in plaaslike note te gee.

    Buite die stedelike gebiede, waar valute moeilik bekombaar is, word Zimbabwe-dollars soos skuldbriewe in klein transaksies gebruik. En Zimbabwiese note van 'n triljoen dollar, wat die wêreld se grootste note verteenwoordig, word deur versamelaars op eBay opgeraap. In Zimbabwe verwissel hulle van hande soos koepons of beloftes om te betaal.

    Winkels sonder kleingeld in valuta bied nie die uitgediende Zimdollars in ruil aan nie, maar gee gewoonlik lekkergoed of sjokoladestafies of handgeskrewe "koepons" op kasregisterstrokies wat in die toekoms opgeëis kan word.

    Irene Gwata, die eienaar van 'n klein smouswinkeltjie op die noordwestelike platteland van Zimbabwe, sê valuta syfer in die onlangse tyd nie meer deur na haar klante toe nie. Die plaaslike bevolking verhandel nou bokvleis, hoenders en emmers mielies vir goedere, sê sy.

    Sy het 'n swartvrou uit 'n stat op 'n bus sien klim en met 'n lewendige hoender in 'n draadhok betaal vir die reis van 150 km na Harare.

    Met die gelate humor van die Zimbabwiese swartes, sê Gwata: "Mense wou weet of sy eiers vir kleingeld gaan kry."

    штукатурка цементная ценаФильчаков прокурор

  • Meimaand en die Boeremagsaak

    Die saak sou eers op die 19de Mei 2003 begin, in die Paleis van Justisie op Kerkplein. Die eerste drie van die beskuldigdes was op daardie stadium reeds dertien maande in aanhouding. Die res – tussen nege en vier maande. Al die beskuldigdes staan nog steeds tereg op 42 klagte van onder meer hoogverraad, terrorisme, sabotasie, moord, poging tot moord en die onwettige besit van wapens en ammunisie.

    'n Gestoei met die Regshulpraad veroorsaak egter dat die saak eintlik eers in Junie daardie jaar begin. Ses van die beskuldigdes pleit onskuldig op al die aanklagte. Dertien ander meen dat die staat geen jurisdiksie oor hulle het nie, aangesien hulle die huidige regering as onwettig beskou en hulle pleit vir eers nie. Twee ander, Dirk Hanekom en  Fritz Naude, sou eers wag tot Augustus voordat hulle sou pleit, omdat hulle advokaat op daardie stadium nog nie opdrag van die Regshulpraad ontvang het nie.

    Tom Vorster weier om te pleit, omdat sy grondwetlike regte "grof geskend" is nadat tronkbewaarders beslag gelê het op geprivilegeerde dokumente van hom waarin hy die basis van sy verweer uiteengesit het. Regter Jordaan teken 'n pleit van onskuldig vir hom aan.

     Die vorige dag(18 Mei 2003) is Dawie Oosthuizen, een van die 23 beskuldigdes, tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Vier jaar van sy vonnis word opgeskort vir vyf jaar, nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.  Hy is egter op 20 Desember 2008 op parool vrygelaat, nadat hy vir die staat getuig het.

    Gedurende die eerste jaar van die saak word die aansoek oor die jurisdiksie van die staat gebring. Daar is ook 'n vooraansoek waarin die eerste drie beskuldigdes vra dat hulle saak van die res geskei moet word. Ook maak hulle drie beswaar dat hulle nie 'n regverdige verhoor te wagte kan wees nie, omrede die ondersoekspan op hulle verweer beslag gelê het tydens 'n visentering gedurende Oktober die vorige jaar, in die Lokaal-gevangenis, Pretoria.

    Die eerste getuie vir die staat, JC Smit, 'n polisieinformant, handel sy getuienis gedurende die eerste jaar af.

    Op 4 Mei 2004 begin die tweede getuie, Louwrens du Plessis, vir die staat getuig. Hy sou die eerste een wees wat saam met die ander toegesluit was, wat vir die staat as 204-getuie sou getuig.                

    Op die 14de  hou 'n swart werklose man 'n eenmanbetoging voor die hof, vir die vrylating van die 22 beskuldigdes, met 'n plakkaat: "Ek het die wit man in my land nodig."

    Gedurende die maand word 'n video van Siener van Rensburg die eerste keer in die hof vertoon.

    Op die saak se eerste verjaarsdag, die 19de, spreek regter Eben Jordaan die hoop uit "dat daar nié nog baie meer gaan wees nie."

    Teen die saak se tweede verjaarsdag, die 19de van die volgende jaar, 2005, het slegs agt van die staat se getuies getuig en kos die saak reeds R3-miljoen.

    Op 3 Mei 2006 ontsnap Herman van Rooyen en Rudi Gouws uit die Hooggeregshof. Die saak staan eers af vir 'n grootskaalse soektog na die twee. Teen die 16de  gelas die regter dat die saak in hul afwesigheid moet voortgaan. Hulle is 8 maande op vrye voet voordat hulle weer in hegtenis geneem word.

    Die dag wat die saak sy derde verjaarsdag vier, op 19 Mei 2006, het 64 getuies vir die staat getuig.

    Op die 16de  Mei van die jaar 2007 sterf Herman Scheepers, beskuldigde nommer 5 op 52-jarige ouderdom aan 'n breinvirus. Hy is op die 19de, wat ook die vierde  verjaardag van die saak was, te Piet Retief begrawe.

    Snr. superintendent Louis Pretorius, wat die eerste staatsgetuie se hanteerder was, is op daardie tydstip die staat se 138ste getuie in die bank. Kort daarna staan die onkoste van die Regshulpraad op nagenoeg R11-miljoen en die oorkonde steek 28 000 blaaie verby.

    Op 19 Mei 2008 is beskuldigde nr. 3, Rooikoos du Plessis in die bank. Tydens sy getuienis het die staat geëis dat sy vorige regsverteenwoordiger, me. Louisa van der Walt, moet onttrek, as gevolg van botsende belange met haar ander kliënt, André du Toit. Die regter gelas egter dat 'n ander regsverteenwoordiger namens haar André se kruisondervraging mag doen, en dus hoef sy nie te onttrek nie. Advokaat Piet Pistorius staan vir haar in. Hy is dan ook aan die woord op die saak se vyfde verjaarsdag en noem dit aan die regter, waarop dié 'n verbaasde "o" laat hoor het.

    Die 19de Mei deser, is beskuldigde nr. 12, Dirk Hanekom, in die bank.

    Die Regshulpraad het reeds meer as R20-miljoen aan die saak bestee. Die oorkonde is reeds meer as 38 000 bladsye lank.  In die hof word gespot dat daar maar 'n partytjie gehou sal word op die saak se tiende verjaarsdag.

    Aan die begin van die maand het Tom Vorster, beskuldigde nr. 11, geweier om verder te getuig, omdat sy regte voortdurend deur die saak geskend word. Hy voltooi egter sy getuienis, met voortdurende woordskermutselings tussen hom en die staatsadvokaat, Fick (SC).

    Op die 31ste Mei erken beskuldigde 12, eers onder kruisondervraging, dat hy onder die skuilnaam Jan Brand 'n proklamasie van die "oorlogskabinet van die Suid-Afrikaanse Boererepubliek" onderteken het. Ook dat hy as militêre bevelvoerder sou optree vir die Boeremag wat beoog het om op 'n politieke en militêre vlak oorlog teen die regering te voer. Sy bekentenis laat 'n unieke situasie in die saak ontstaan. Die staat eis dat sy advokaat moet onttrek, weens 'n botsing van belange tussen hom en sy advokaat se tweede kliënt. 'n Etiese komitee word genader vir advies oor die aangeleentheid. Daar word besluit dat die advokaat, Antonie Viviers, ter verdediging van beskuldigde 12, Dirk Hanekom, sal aanbly.  Sy ander kliënt, mnr. Fritz Naudé, wat reeds sy getuienis afgesluit het, se betoog sal later deur mnr. Paul Kruger, regsverteenwoordiger van vyf ander beskuldigdes, waargeneem word.

    En so raak Meimaand(aan die begin van die winter) en nie Augustus nie (aan die einde van die winter) –  die herdenkingsmaand in die Boeremagsaak…

    детский плед купитьОлександр Васильович Фільчаков

  • Wat de ‘heck’? – Die Boeremagsaak se sesde verjaarsdag

    Die graadeentjie frons, maar dan onthou sy skielik – ons het haar al vertel. 

    "Nou wat de 'heck' het hy gemaak," frons sy. "Hoekom is hy in die tronk?"

    "Dit kan jy weer vra!… Wat de 'heck'? Hul noem dit die 'Boeremag'." 

    Ek verwens myself – ek moes voor my skoonsussie uitgespring het om die hek oop te maak – dan kon iemand anders solank begin verduidelik het… Ek het saamgery Bosveld toe net om te ontsnap van die "Boeremag"-dinge en my kop skoon te maak. En hier sit ek. Vas gehek! Ons ry verder. "Wat de 'heck' het hy gemaak?" herhaal my swaer die vraag en probeer my oog in die truspieëltjie vang. Ek maak of ek dit nie sien nie. Almal lag en ek lag maar saam. Ja, die "Boeremag" het soos 'n hek homself staan kom maak in die paadjie van my lewe…

    My skoonsus gee ons jongste niggie 'n drukkie skuins na agter as sy ná die tweede hek weer inklim: "Toemaar, nie een van ons ander se name sal in die geskiedenisboeke staan nie, maar jou oom wat in die tronk is, syne sal…"

    Ek wonder of enige een van ons régtig kan onthou waar dit alles begin het? By drie mans wat op Gerdau op die verhoog gestaan het, met `n politieke ideaal. Hulle het die mense gewaarsku dat as hier gevaar sou kom, enige toestand soos die voorspelde "nag van die lang messe" – ook volgens die Vula-dokument en ander inligting wat na hulle aangedra is – ons onsself sou moes kon verdedig. Maar, later was daar baie dinge…

    "Hoe gaan dit met die manne daar?" vra ons my skoonma se broer, waar ons in sy Bosveld-stoep se koelte sit. 

    "Onder omstandighede goed, Oom weet mos – wat nie dood maak nie maak sterk!"

    Herman Scheepers, wat oorlede is nadat hy 'n virus op sy brein gekry het in 2007, het altyd vir my gesê as ek hom vra hoe dit gaan: "Party dae op en ander af, maar in die deursnee nog goed." Dit lyk maar nog steeds so, Oom. Alhoewel ek dink as mens dit op 'n grafiek sou natrek, daardie gemiddeld heelwat laer is, as wat dit altyd was. Die laaste twee jaar was rof! Mens kan dit op die mans se gesigte sien – die saak het sy pond vleis gevat! Almal het oud geword. Grys! Tot Herman en Rudi, daardie twee outjies wat mos weggeloop het uit die hof, begin al silwer om die slape word. Party dae kan ek sommer sien dat dit met sommiges so gemoedslangs sleg gaan, maar as ek weer in die hof kom, sien ek dat hul ook weer moed geskep het en glimlag hul ewe breed. Hehehe, daar's een nuwe vroumens wat daar kuier en dit lyk so al vir my of Cupido daar ronddans besoektye…"

    "Wat-se-pit praat jy nou?" 

    "Daai engeltjie wat mens so met die pyle skiet dat jy verlief moet raak, Oom."

    "O" en ons oujongkêrel-oom grom iets oor heidense gebruike. 

    Ons oom staan op om die hoenderkos uit te haal – hy maak verskoning – hy is maar aldag besig.

     "Daar's seker nie in die tronk so baie werk soos hierso op die plaas nie," spot my swaer. "Ons stuur hom hier na oom toe as hy uitkom, dat hy weer kan leer werk."

    "Nou waarmee hou hul hulselwers besig?" wil die oom weet.

    "Hy het 'n rekenaar en 'n radio en hy kan ook flieks kyk. Ons het vir hom so 'n DVD-masjientjie gekoop." Ek verduidelik so effens, want ons oompie se enigste gevorderde tegnologie op die plaas is 'n selfoon, en ook maar net omdat dit noodsaaklik is. "Musiek is seker die belangrikste ding om hom positief te hou, hy kyk graag na André Rieu se musiekvideo's. 'n Vriend het nou onlangs vir hom 'n stel oor die dierelewe van Animal Planet gegee, wat hy oor en oor gekyk het. Dis net eers 'n hele riekmarrôl om die toestemmingsbriewe te kry, maar dan mag mens die goed vir hulle vat. Baie van die ouens het televisiestelle. As hulle radio luister, moet oorfone opsit sodat die klank nie die ander pla nie. Hy het ook 'n elektroniese klavier, so ene wat met krag werk, sonder die klankkas agter, waarop hy oefen, dit hou hom goed besig. Hy lees ook baie, al die goed waarin hy belangstel. Filosofie en sielkunde… Hy lees mos nie storieboeke nie, hy aard te veel na sy oom…" terg ek.

    "Nee jong, ek lees net die Bybel en dié gaan ook maar swaar." Ek glimlag saam met die res. In my verbeelding sien ek hoe daardie hard gewerkte hande sukkel om die fyn blaaie van 'n Bybel geblaai te kry. 

    "Ja, oom. Hy skrywe ook… van die ander ook. Ek wil net Maandag vir my, by Bienedell, Mike du Toit se derde boek bestel. Dit gaan oor Die Strewe en Stryd van ons Volk van 1902 tot 1994. Het oom die resensie in die nuutste Afrikaner daarvan gelees?"


    "Nee jong, dié kerant sal ek eers antstaande week by die pos kry."

    "In elk geval, oom, Mike se tweede boek was vir my te ingewikkeld, ek sukkel om dit klaar gelees te kry. Lyk my dis meer vir geleerde mense bedoel – mense wat wetenskapfilosofie studeer – dit gaan oor paradigmas. Ek het baie meer van sy eerste boek oor die oud-Germaanse geskiedenis gehou. Sy broer André het ook al 'n digbundel uitgegee, daar is die mooiste gedigte in! Wilhelm Pretorius het ook al van sy gedigte gepubliseer. Hy het laasjaar sy meestersgraad in Kerkgeskiedenis gekry. Hulle het glad vir hom 'n gradeplegtigheid daar (soos sy ma sê) in die skadu van die galg gehou. Die kapel waar hulle dit gehou het daar by C-maks, is mos net langs die galg. Hy is nou met sy doktoraal by Tukkies besig. Adriaan ook besig om vêrder te studeer, iets met boekhou te doen… Nee wat Oom, daar is 'n klomp van hulle wat goed besig is…"

    "Dr. Lets het mos daardie boek met die spotprente oor die Boeremagsage uitgegee. Hy teken gereeld nog elke getuie en al die snaaksighede wat daar in die hof gebeur. Hy het gepraat van 'n tweede boek, een of ander tyd. Hy het mos borg gekry, maar lyk my hy is nou so baie betrokke by Boerevryheid, dat hy nie te veel kans het om dit agtermekaar te kry nie."

    "Die borg-ouens glo ek nog altyd het dit maar net so erg (al is dit op 'n ander manier), as dié wat toegesluit is. Oom moes daardie gesigte gesien het toe ek gister vir hulle elkeen gevra het, wat hulle vir my kan vertel van die ses jaar wat nou verby is! Oom Fritz het sommer vir my gelag: "Hene ou kinta, jy vra nog?" "Tannie weet mos!" het klein Jacques geantwoord. Deon het nou een dag gespot dat hy so permanent by die hof is dat die bank in die portaal waarop ons altyd sit en wag, nou syne is. Ek het so gelag, want hy reken toe dis tyd dat hy bedank. Ek het lustig saam gespot dat dit nou een plek is waar jy kan bedank tot jy blou is, dit sal nie aanvaar word nie. Hulle haal maar almal deur 'n dun rietjie asem. Moet elke dag in die hof wees en hulle kan nie ander geld verdien nie, en moet huur betaal en nog kos koop. Petrolgeld ook hê en parkeergeld betaal. In die tronk is die goed gelukkig nie nodig nie. Ons vrouens dra net kos aan, want die tronk s'n is nie aldag eetbaar nie, maar eintlik gaan dit meer daaroor dat hulle iets van die huis af kry. Oom weet mos, 'n man se pad na sy hart loop deur sy maag. 

    "Hoe gaan dit nou met die ou wat so met die suikersiekte gesukkel het?" wil my skoonsussie weet.

    "Sy vrou het laas week gekla dat sy suiker weer hoog was, maar dit gaan nou weer beter. Hulle lyk my is darem net twee in die tronk wat so met hulle gesondheid sukkel. Twee van die borg-ooms het al hartaanvalle gehad en Oom Vis se vrou het net anderdag vir my gesê hy word nou te oud vir die tronk. Maar wat, jou boetie was nog nooit in sy lewe so uitgerus nie, hy sê hy is nou al moeg gerus."

    "En die kleingoed? Samel julle nog vir hulle geld in?" wonder sy verder.

    "Die kleinstes is skool toe vanjaar, André se twee het so goed met die atletiek gevaar, glad medaljes huis toe gebring. Die klein Vrystatertjie het ook vir sy pa kom kuier met sy skoolbaadjie en al; hy het nou begin stoei en hy sit glo sy ma ore aan as dit by skaakspeel kom. Die ander het ook almal sulke langbeendogters geword, mens ken hul amper nie as hul by die hof kom kuier nie. Daai oudste een van Johan het glad anderdag vir haar Oupa vertel hy sal die moesie op haar been moet verwyder, want binnekort sal sy begin skeer en dan gaan sy dit raak skeer. Sy was so 'n kleutertjie toe ons haar die eerste keer gesien het… Oom Vis se jongste seun het ook sy graad in Ingenieurswese klaargemaak. Sy ouboet is nou terug op Universiteit, besig met sy meestersgraad. As mens so na die kinders kyk, besef jy eintlik eers hoe lank ons al met die storie besig is… Ekself het niks meer met die Helpmekaar-hulpfonds te doen nie, maar hul het die einde van laasjaar vir almal geld vir geskenkies gegee en het in die begin van die jaar skoolfonds betaal. Die fonds gee darem ook vir die mans sakgeld elke maand en telefoonkaartjies om mee te bel. Daardie kaarte red my gewoonlik aan die einde van die maand."

    "Hoe lank is dit nou al?" 

    "Die eerste drie was Aprilmaand al sewe jaar toegesluit. Ek gaan nie weet wat om met my man te maak as hy die dag huis toe kom nie. Ek raak soms benoud as ek daaraan dink; dit gaan 'n groot aanpassing wees! Maar wat, ek herinner hom gereeld daaraan dat ek sy eerste én tweede vrou sal wees en hy moet net onthou dat 'n tweede vrou baie bederf moet word. Hy sal byvoorbeeld nie mag nee sê as ek wil kom kuier hier by Oom in die bosveld nie," lag ek na Oom Boet toe.

    "Ek hoor die saak kos 'n almintige klomp geld."

    "Die Regshulpraad praat van twintig miljoen, Oom. Dis maar omdat daar so baie mense betrokke is. Dis die Regter en sy twee assessore, die drie staatsaanklaers, die ondersoekspan, die verdediging se advokate en dan is daar nog die polisie om hulle op te pas. Ek tel daar is ses voertuie wat saamry as hulle vervoer word. Dis nie eintlik vir my snaaks dat dit al so 'n groot klomp geld is nie. En dit gaan nog meer word, ek dink nie die saak sal nie voor die einde van die jaar klaar kry nie."  

    "Nou hoe so?"


    "Dinsdag, die 19de, sal dit die saak se sesde verjaarsdag wees. Hulle is nou met Dirk Hanekom besig in die bank. Hy is beskuldigde nommer twaalf. Dit gaan maar woes, maar daar was al groot pret en lekker lag. Veral toe Tom Vorster in die bank gestaan het. Hy en die Staatsadvokaat, Fick, is natuurlik vet en vuur bymekaar. Fick het hom eendag toegesnou dat hy lieg, waarop hy vir Fick vertel het dat hy wat Fick is, vet is. Almal het gelag, hoewel die Regter het hul berispe en gevra om nie so persoonlik in die hof te wees nie. Die Regter self het maar gesukkel om nie te hard te lag nie. Ek moet Oom sê, ons weet nie wat hy op die ou einde gaan besluit nie, maar een ding moet ons darem vir Regter Eben Jordaan gelyk gee, hy het 'n goeie humorsin.

    In die koerant het hulle ook genoem dat die saak die laaste tyd slegs 55 minute gemiddeld per dag aan die gang was, maar hulle sê nie dat daar alweer 'n lang reses is wat vir ons voorlê nie. Tom se suster is oorlede in die tyd wat hy getuig het en hy het 'n paar maal gevra om bietjie af te staan. Hy't glad geweier om verder te getuig, want hulle het hom toestemming geweier om die begrafnis by te woon, nes die tyd vir Mike en André, en ook vir Adriaan toe hulle pa's oorlede is. Nee wat Oom, Tom het hulle mooi vertel hoe sy en sy medebeskuldigdes se menseregte geskend is gedurende die ses jaar wat hy sit. Ook sommer dat mens nie kan verstaan dat ander dan sommer net so mediese parool kry nie of dat sake sommer net teruggetrek word nie."

    "Dis maar erg om in daardie bank te sit, Oom. Daar word baie gepraat, die oorkonde(waar hulle elke woord optik wat gesê word in die hof) is reeds 38 000 bladsye lank. Daar is nog 9 beskuldigdes oor, ek weet nie of almal van hulle gaan getuig nie. Die ouens wat min dinge teen hulle het, vat omtrent so week of drie in die bank. Ander van hulle staan meer as 'n maand in die bank. Ek dink Tom Vorster en Mike du Toit het die langste van almal getuig, dis seker logies want hulle is die twee wat beskuldig word dat hulle die 'leiers' was. Die twee Pretorius-boeties wat skuld beken het, sal dalk die tyd verkort, maar dit weet niemand ook vir seker nie. Ons weet ook nie hoeveel getuies elkeen gaan roep nie. 

    Dis nou 'n ander ding daai Oom – om mense te gaan vra om te getuig. Sommiges steek viervoet vas! Die ouens sweet in daardie bank, maar daar was darem 'n paar manne vir wie ek die wêreld se respek gekry het oor hoe hulle dit hanteer het. Veral vir Gideon Meiring! Hy was die tweede getuie vir die verdediging en hy het baie mooi verduidelik, (uit ondervinding) dat ons onsself sal moet beskerm. Dit sluit aan by die mans se verweer dat die hele ding defensiewe beplanning was. Daar was 'n oud-weermagoffisier ('n baie netjiese man), ek het nou sy van vergeet, wat vir die regter gesê het dat dit vir hom 'n voorreg was om daar te gaan staan. Van nog 'n ander offisier sal ek altyd onthou dat hy vir die regter gesê het, mens het nie altyd die luukse van 'n terugblik nie. Boet sal onthou word omdat hy vir die regter gesê het dit sal vir hom voel hy smokkel met 'n bord kos as hy die vraag antwoord. Die staatsaanklaer was natuurlik woedend en het gesê Boet skeer die gek, maar soos oom weet dit is maar Boet se manier van praat. Ek het ook eendag daar gesit en krimp in my hart vir 'n ou wat vir die regter verduidelik het dat dit sy heel eerste keer is wat hy in 'n hof kom. Almal kon sien hoe swaar hy kry om daar te staan. Maar ten minste het hy probeer! Die verdediging se getuies is maar min, nie naby aan die 162 wat die staat geroep het nie."

    "Maar elke ou moet nou maar sy kans gegun word om sy saak te stel. Die ouens beskuldig mekaar maar erg. Hulle is soos daardie twee opgeskote bulletjies wat Oom nou daar in dieselfde kampie het. Net, hulle kampie is ekstra klein! Het my man net so uitgekryt dat hy 'n verraaier is. Ons sal seker maar eers op die heel einde sien wat is wat regtig Oom, ek weet tog nie. Ek weet net dis baie ingewikkeld. En mens het nie so mooi perspektief as jy so betrokke is by 'n ding nie. Nog minder as dit so lank aanhou. 

    Die 'Boeremag' is by uitstek 'n storie van verraad en nou praat ek nie van hoogverraad nie. Verraad wat anders lyk as wat ons dink. En vraagtekens, Oom. Baie dinge om die saak maak nie mooi sin nie. Dr Theuns Botha het getuig dat hulle toestemming van Mbeki gehad het om die informante van die AWB te ondersoek, maar toe hulle by die 'Boermag' kom is daardie toestemming summier teruggetrek. Die doktor se plaas het toe ook afgebrand terwyl hy getuig het, ek kon nie help om te wonder of dit net so 'toevallig' was soos die tas met hofdokumente en aantekeninge wat uit beskuldigdes nommer een en twee se advokate se kar gesteel is nie. In die eerste jaar wat hulle in die tronk was, het Koos Venter in die Afrikaner 'n artikel geskrywe: "Boeremag of Intelligensie-Operasie," ek begin al hoe meer dink dat hy 'n punt beet gehad het. Maar Oom, ek glo ons is hier om te leer van politiek, dít wat ander ons nie kan vertel nie…"

    Die gesprek dwaal na die politiek in die algemeen en almal gesels saam. Ons oom wend hom tot my skoonpa: "Ou Swaer, die skrif is aan die muur vir ons in hierdie land. Ek sê vir jou Botha en De Klerk het ons uitverkoop daardie jare al… ek sê jou dis klaarpraat met ons ou volkie… daar's nie hoop vir ons nie…"

    "Nee alla wêreld, Oom, ons kan dinge verander! Ek sien Mike praat in sy boek van drie tydperke in ons geskiedenis en ses belangrike datums tussen die Boereoorlog en die ANC-magsoorname. Dis nou tyd dat ons na 'n vierde tyd beweeg. My man het my juis anderdag beduie van die boek wat hy gelees het waarin die skrywer reken dat die Weste alles sal moet herdefinieer. Die huidige religie(en ek weet oom verskil van ons daaroor, maar ons gaan nie nou daaroor stry nie), die sosiale orde, ekonomiese verhoudings, lewens- en wêreldbeskouing en veral die politieke voorstelle moet verander word." 


    Soos die kampies waardeur ons nou gery het, die datums as hekke… want kampies sonder hekke sal nie werk nie, besef ek skielik. 

    "Boonop dink ek dat almal uit die 'Boeremag' se foute kan leer. En behalwe dit, Oom – daar is altyd hoop," vervolg ek minder driftig.

    Die oom luister egter nie meer na my nie, hy's nou goed op dreef oor die ou Nasionale Party, verraad en De Klerk en kie… 

    Ek staan op. "Ons sal die 'Boeremag' deursien, niks is ooit verniet nie," sê ek vir myself "dis net 'n hek in ons pad…" Ek stap in die stofpad weg van die huis af. Die Bosveld se stil geluide is lawend op my gemoed. Ek is bly ek het saamgekom. Langs die hek staan 'n groot hardekool. Daar staan 'n Afrikanerkoei langs die draad in die ander kamp. Ek strek my arms uit en meet op 'n afstand haar horingspan – van vingerpunt tot vingerpunt. Sy lig trots haar kop en stap weg. In Uys Krige se gedig van die plaashek, staan daar 'n kremetart, dink ek. Wyl ek by die hek sukkel om die draadlus oor die houtpaal te hak, is die gedig se laaste strofes deel van my oomblik:

    Die stilte in my's volkome met niks troebels, niks verward.

    Ek lig die knip… Ek maak 'n hek oop in my hart.

     

    магазины детских товаровДанильченко Юрий Брониславович

  • Spook en Maraai se dinge

    Niemand wou die wollerige brakkie hê nie, toe sy ma se mense opregte foksterriërs geadverteer het, en Spokie het as 'n pasella saamgekom toe ons sy sussie gekoop het. Hy is die lief-dierbaarheid vanself en die beste geselsgenoot wat mens kan verlang. Hy is vreeslik vol fiemies oor wat hy in sy bek sit. Ook maar goed, want dit het sy lewe gespaar toe sy sussie gevrek het van die vleis vol gif wat die boosdoeners oor die draad gegooi het. Hy is versot daarop om saans te gaan stap en om saam in die bakkie te ry. Trouens, enige bedrywigheid laat hom opgewonde op sy agterpote rondtrippel. Sy vreugdevolle gesiggie elke keer wat hy my by die hek verwelkom as ek tuis kom, maak van hom iets besonders in my lewe. 

    Marietjie-Maraaitjie het as 'n geskenk gekom. Sy is deur 'n mens-ma met 'n spuitjie van heel kleins af grootgemaak, nadat 'n motor haar ma doodgery het. Sy glo alles wat uit blikkies en pakkies kom, is vir katte soos sy bedoel. Saam met haar in die boks was 'n sak 'Royal Canine' waarvan sy gelewe het gedurende die eerste weke. Die rojale prys daarvan pas egter nie so mooi in my begroting in nie en ons twee het 'n kompromie aangegaan op die pakkies katkos waarop staan "fine cuts". Sy ly geensins honger nie, daarvoor dring sy hopeloos te veel op versorging aan. Sy vang die laaste tyd vreeslik graag muise, maar nie om te eet nie… 

    Die knaagdiertjies word aangedra huis toe, vir klein-speeltyd. Hulle word rondgeklap en gejaag, van die sitkamer na slaapkamer, na kombuis – en dis nou hier waar die Spook-en-Maraai-dinge begin. Spokie glo hy woon die langste in die huis en hy het die meeste sê, daarom tree hy dan altyd grootdoenerig toe. Die kat word weggeboender. Soms trap hy haar sommer met sy een poot plat, as sy nie gou genoeg die beheer van die situasie aan hom oordra nie. Hy vang dan die muis in sy bek, net om dit weer uit te spoeg. Die muis vlug gewoonlik – maar word dan gou weer gevang. Sou die muis in 'n gleufie of hoekie beland, waar die hond nie kan in nie, word dit met sulke regop blaffies uit beveel. Hy doen dit met 'n houding wat enige politikus op die verhoog jaloers sou laat word. Maraai sluip dan gewoonlik so op die agtergrond rond, maar sy sorg dat sy net op die regte moment weer inspring om die muis te dwing om so gou moontlik ander planne te maak. Sodra die muis dood is, verloor die twee belangstelling en laat dan die werk vir my om van die ongedierte ontslae te raak. (Ek is mos in die minderheid, ek moet mos sorg dat dinge in orde bly.) Muise moet veel meer van taktiek verstaan as wat algemeen bekend is, want heel dikwels het die "dooie" muis verdwyn teen die tyd wat ek met die besem en skoppie aankom. Kort daarna begin die spel dan van voor af, want die muis sit gewoonlik nie te lank stil nie. Maar, as hy roer… Maraai piets net so paar maal met haar stert en gaan haal dan die muis uit sy nuwe wegkruipplek. Sy glo nie daaraan om 'n setel af te staan nie, sy neem altyd deel om te wen!  

    Maar, op 'n dag het Maraai vir ene meneer Slimjan de Muis hier aangebring. Met sy spitsgevreetjie het hy dadelik gesien hy kan die twee teen mekaar afspeel en al die pad voordeel uit die situasie trek. Tot my goed gemikte hou met die besem om hom disnis te slaan, was mis. Hy het my net een kyk reguit in my oë gegee met sy blink kraalogies en gou onder die kas in verdwyn. Na 'n rugbreeksessie van kaste skuiwe, het ons al drie die soektog na hom laat vaar. Meneer Slimjan het homself tuis gemaak. Sy spoor van verwoesting het sommer baie gou, sterk en duidelik deur die liasseerkabinet en die kas onder die wasbak geloop. Ek het dit naderhand ernstig oorweeg om vir hom gif uit te sit, want nie een van ons kon hond haar af maak met hom nie.

    'n Hele paar dae later, toe ek die stoofplaat op 'n keer aanskakel, sien ek net blou vlamme. Omdat dit nog 'n tydjie voor maandeinde is, besluit ek om maar so aan te sukkel, voordat ek dit laat regmaak – daar is darem nog twee plate wat werk. Die volgende oggend is die bad se water te warm vir my toe ek inklim en wil ek net gou bietjie koue water laat byloop, maar toe my linkerhand aan die kraan raak, ruk dit my. Ek probeer los, maar die kraan klou… en die krag ruk. Ek besef ek kan dit nie toelaat nie en probeer los. My hand kom egter nie los van die kraan af nie en die krag ruk aanhoudend deur my lyf. Ek wil los, maar ek kan nie. Ek probeer weer. Ek is lam van skrik. Ek kry niks reg nie. Ek gil. Vir sekondes voel ek of ek gly, iewers na benede… en vir oomblikke voel dit so goed! Toe ek besef ek gaan my bewussyn verloor, gryp ek my linkerhand met my regterhand en met 'n desperate pluk ruk ek myself van die kraan los. My arm voel of dit uit sy potjie geruk is. My lyf gloei van skok en ek is oral seer. Teen die tyd dat ek tot verhaal kom, weet ek – Slimjan het sy intrek in die stoof geneem en die huis se krag hardloop nou net waar dit wil! 

    "Kom kyk, Hier's die sondebok!" roep die elektrisiën my, toe hy meneer de Muis die volgende dag stokstyf tussen die stoof se elektriese bedrading kry. "Nee jy' t dit mis, hier staan skuldige nommer twee…" Ek wys na die hond wat my stertswaaaiend staan en aankyk. "Ek wonder waar die eintlike skuldige een is… sy's seker op 'n jagtog, op soek na die volgende een …" Op die daad is ek woedend. Ek het nou genoeg gehad van Spook en Maraai se dinge. Wat genoeg is, is genoeg! Ek haal sommer my wrewel op die brak uit: "Wat dink jy? As die krag my doodgeskok het – sou jy en Maraai in enige ander huis so rojaal sou kon regeer soos hier? Hê? Ek sal darem graag wil weet." 

    Spokie lig sy een voorvoet in 'n vraagteken op – skoon verleë – hy verstaan nou glad nie waaroor dit gaan nie. Hy bedoel dan altyd alles so goed! Die man wat aan die stoof gewerk het, kyk my vraend aan. "Ja, toemaar dis 'n lang storie." Ek sug: "Ek weet dit gaan my nou nêrens bring om die hond te skop nie. Dis eintlik alles net my eie skuld. 'n Mens laat jou nie deur viervoetiges regeer nie." 

    Terug in die huis nadat ek die elektrisiën gaan afsien het, kry ek vir Maraai waar sy ewe ongeërg op die kas sit, besig om haar gesig te was. Haar hele houdinkie kompleet asof sy vir my wil sê: deur saam te werk, kan ons meer regkry. 

    укладка ламината по диагонали фотоАлександр Фильчаков

  • Jaco en Jacomien

    Die eerste poging om nes te maak was op die geyser wat buite die huis is, maar dit het nie lekker gewerk nie want die takkies wat hulle met moeite aangevlieg het – een-een op 'n slag – het van die geyser afgegly omdat die oppervlak baie glad is en ook nie plat nie (die geyser is rond bo).

    Die deursettingsvermoë en al die stokkies wat op die grond beland het, het gemaak dat ek en Johan jammer vir hulle gevoel het. Johan het een van die kassies waarin  tamaties kom  bo-op die geyser aan die waterpyp vasgemaak. Die twee was blykbaar beïndruk en hulle het weer stokkies  begin aangedra – of is dit aangevlieg?- en Jacomien het al begin om die stokkies reg te skuif en het selfs agtergekom dat sy uit die kassie op 'n veranda – dit is nou op die geyser –  kan loop wat onderdak is .

    Die nessie was vir Jaco en Jacomien nie beskore nie want Indiese spreeus het hulle daar uitgedryf en dit het vir my gevoel of ek saam met Jacomien kan huil. Sy wil so graag broei en kinders hê. Ek dink Jaco het dit ook so ervaar en het maar net aanhou koer vir Jacomien – so asof hy haar wou troos en verseker dat hulle 'n ander nessie sal kry.

    Image

    Die nuwe huisie

    Ek en Johan het gedink dat ons die twee moet help en om te verhoed dat hulle weer uit hul huis verdryf word,  het Johan vir hulle 'n nuwe huis op ons huis se stoep gemaak. Hierdie keer is twee kassies op mekaar gesit en 'n deurtjie is uitgesny sodat die huis nou twee vensters en 'n deur het. Ons sou nou maar ons deel doen en die Indiese spreeus en ander plaaslike spreeus wegjaag.

    Die groot vraag: gaan Jaco en Jacomien  hul nuwe huis goedkeur?  Dit het 'n klompie dae geneem, maar tot ons groot vreugde het ons hulle eendag op 'n  balk van die stoep sien sit. Vandat hulle hul huisie gewaar het, was daar geen teken van ingaan nie en hulle het dit net wantrouig  dopgehou – die huisie met die dak. So het dit vir 'n paar dae aangehou – die huis is van alle kante beskou en op 'n dag het ons een van die twee op hul huisie se dak sien sit. Die twee het later ingevlieg en alles baie mooi geënspekteer en ondersoek totdat hulle tevrede was.

    Wat 'n blye dag toe ons sien dat Jacomien haar in die huis tuismaak en Jaco begin om stokkies aan te vlieg. Jacomien het in die huisie gebly en die stokkies mooi georganiseer en reggepak om net die beste nessie vir haar kinders te maak – nou nie die sagste bed vir babavoëltjies nie, maar as hulle so dink, dan is dit reg met ons. Dit was  'n gekoer van 'n ander wêreld en ons was saam met hulle bly – waaroor hulle ook al bly was. Met die tyd het hulle nie eers weggevlieg wanneer ons op die stoep gekom het nie en hulle het aan ons stemme gewoond geraak en het met skewekoppies na ons sit en luister. Gaia en Herculus se geblaf het hulle later ook nie meer gehinder nie,

    Jacomien het al hoe langer in die huis en op die nes gebly en ons het aangeneem dat sy broei – ons het gedink dat sy nie eet of water drink nie en haar opreg jammer gekry. Toe die eiertjies eers daar was, het ons gesien hoe die twee mekaar aflos. Die een spring die een kant van die huis in – deur die venster – en die ander een vlieg die anderkant – by die ander venster – uit. Die een wat aan diens gekom het, het dan die eiertjies bymekaar geskrop en weer op hulle gaan sit. Die eiers is nooit alleen gelaat nie.

    Image

    Twee wollerige vo?ltjies

    Maar net mens, het ons nuuskierigheid die oorhand gekry en Johan het vir hom stoele nadergesleep om foto's in die huisie te kan neem. Die eerste foto van die binnekant is geneem op 30 Januarie 2009. Die eiertjies was seker al so twee dae uitgebroei en daar het twee geel wollerige voëltjies gelê. Ek het die tweetjies name gegee – Julia en Julian – want hoe weet jy nou van watter geslag voëltjies is? Van toe af het Johan gereeld foto's  geneem – sodra dit lyk of Jaco en Jocomien skofte gaan ruil,  het hy met die kamera uitgehardlooop en gou 'n paar foto's geneem. Dit het nie gelyk of dit  Ma en Pa Duif pla nie en ons het met hulle begin praat en vertel hoe mooi hulle kinders is – asof duiwe ons kan verstaan!

    So het ons gewoond daaraan geraak om die kamera by die deur te hou vir foto's wanneer die geleentheid hom voordoen. Die duifies het al ouliker geword en op 'n dag is daar begin om hulle te voer, maar nog steeds was Pa of Ma altyd op die nes. Ná voertyd is Julia en Julian onder die krop geskuif en dan is daar heerlik geslaap. Wanneer dit aand geword het en die effense koue ook aangekom het, was daar altyd een aan diens en is die twee kleintjies weer onder die kropvere ingeskuif – die duvet is dan lekker oor die kleintjies gevou. In die aand het een van die ouers in die huisie op die nessie geslaap en die een op die balk – seker om die nessie te kan beskerm teen gevaar.

    ImageDie kleintjies het vinnig gegroei en Ma en Pa Duif het die huisie, die nessie en die twee kinders vir langer tye alleen gelaat.  Ek en Johan was bang dat die duifies gaan uitval wanneer hulle begin beweeg en Johan het 'n stoep aan die nessie vasgesit. Met verloop van tyd het die geel voëltjies al meer in die huisie beweeg en dit was 'n blye dag vir ons toe hulle al by die venster kon uitkyk en dit het gevoel soos 'n kind wat begin loop toe die twee vir die eerste keer op die stoepie sit. Die geel wolletjies het al meer plek gemaak vir grys vere en later het ons net stert en vlerkvere in die nessie gesien soos wat die tweetjies hul vere gestrek en gekam het.

    ImageOns het baie gelag vir die twee se manewales wanneer Jaco of Jacomien met kos opgedaag het – in die krop en die kleintjies het dit uit die krop geëet. Die twee kleintjies het in en uit die huisie gehardloop wanneer Ma of Pa na die kante van die balk beweeg het. Die ouers het altyd op die balk naaste aan die nessie gesit en het dan by die een venster ingevlieg, kos gegee en by die ander venster uitgevlieg.

    Image

    ‘Op die stoep’ van hul huisie

    Dit was vir ons 'n groot en blye dag toe die kleintjies vir die eerste keer heeltemal uit hul huis beweeg het (21 Februarie 2009. Hulle net agter Ma of Pa aangegaan omdat daar die vooruitsig van kos was. Eers die een kleintjie en toe die ander een het op hul huis se dak geklim/gevlieg  – ek dink hulle was so geskok oor hulle prestasie want vir 'n rukkie het hulle doodstil gesit. Die nag het hulle ook vir die eerste keer daar geslaap.

     

    Image

    Julia en Julian op die dak

    Julia en Julian vlieg al lekker tussen die balke op die stoep rond en per ongeluk het die een dit reggekry om op ons huis se dak te gaan sit – Ma en Pa moes hom of haar daar gaan haal en aanmoedig met 'n gekoer om terug te vlieg, maar die duiwekind het veilig by die huisie aangekom.

    Die tweetjies sal seker een van die dae saam met Ma en Pa begin vlieg. Op die oomblik lyk dit nie asof Julia en Julian planne het om die wêreld daar buite te gaan verken nie – ek dink hulle bly te lekker. Die twee sal seker later begin koer want op die oomblik maak hulle nog klein voëljiegeluidjies. Die maskertjie om die oë – die rooi en wit – ontbreek ook nog.

    Ek en Johan hoop dat hulle nog by ons gaan kom slaap. Ons gaan dit mis om die heel dag die nessie dop te hou, te gesels en foto's te neem. Dit was egter 'n belewenis om twee duifies te sien groei.

    фильтр на компрессор для покраскиЛобановский